Hyundai Elantra GLS Outo verander die speelveld
Dit voel soos nou-die-dag wat die Hyundai handelsmerk op die plaaslike toneel verskyn het met sy Accent en Elantra modelle. Van Windhoek tot Witbank het die Koreaanse vervaardiger kopers gelok wat waarskynlik éérs na die prys en dan daarna na die motor self gekyk het.Met die wegtrekslag het die verkope die hoogte ingeskiet en het die uitstekende diens wat die handelaars verskaf het, bygedra tot die suksesstorie.
Maar toe kom daar so ‘n klein “mistykie” wat met die motors as sulks niks te doen gehad het nie maar wel met ‘n individu se stryd met onder andere die belastinggaarder en het die son tydelik vir Hyundai in Suid-Afrika gesak. Maar nie vir lank nie; na ‘n kort afwesigheid het die Koreane self ingegryp en dinge reggestel en het die Hyundai Getz, en ander modelle van die vervaardiger, vinnig ‘n reputasie opgebou waarna ander vervaardigers, wat al regtig deel van ons geskiedenis is, net van kan droom.
Die prentjie lyk nou totaal anders as met Hyundai se eerste toetrede tot die mark. Met die bekendstelling van die nuwe reeks voertuie uit die Oosterse stal, kyk ‘n mens deesdae eers en daarna begin jy kyk wat hy nou eintlik kos en of die beursie dik genoeg is. Dit het gegeld vir die nuwe ix35, die Sonata en nou ook vir die Elantra (en Accent).
Met die uitstal van die nuwe Elantra in die Somerset Mall, nog voor die amptelike bekendstelling aan die pers, het ek toevallig sit en koffie drink naby die Elantra en was verbaas dat elkeen wat verbygekom het, eers gestop het, weer gekyk het en dan dikwels ook agter die stuur gaan sit het asof hy net die sleutel moes kry om hom weg te ry!
Ons het onlangs die topmodel in die Elantra-reeks onder hande kon neem; die GLS outomaties, en was besonder beïndruk met wat onder die vloeiende baklyne te vind was.
Om mee weg te trek; die nuwe model is binne net so indrukwekkend as sy gladde lyne waarna Hyundai amptelik verwys as “fluidic sculpture”; iets soos vloeiende beeldhouwerk. (‘n Term wat ek nie regtig verstaan nie maar ek glo hulle!). Die kajuit getuig van styl en gehalte en dit kon net sowel ‘n baie duurder binneruimte uit Duitsland gewees het as jy nie van beter geweet het nie.
En dan is die belangrike dinge daar soos die stuurwiel wat beide horisontaal en vertikaal verstel kan word en ordentlike sitplekke wat ook vir hoogte verstelbaar is; met ander woorde, al die dinge wat altyd by die duurder Duitse modelle aanwesig was is nou ook by die Koreane te vind. En dan is daar al die goeie dinge soos ‘n uitstekende klankstelsel teenwoordig en alles wat kan oop- en toemaak is ook daar – en alles word elektronies beheer.
Die rygemak van die nuwe Elantra is ook verbeter deur die asafstand te vergroot om groter stabiliteit te verseker. Want dit moet in gedagte gehou word dat die nuwe perd van Hyundai meer van ‘n renperd is as ‘n trekperd. Die 1,8 liter enjin is wakker en slaag daarin om met gevorderde tydklepreëling en dubbele nokaste 110 kW teen 6 500 rpm te ontwikkel en stel ‘n kragtige 178 Nm beskikbaar teen 4 700 toere beskikbaar. Hierdie krag word baie effektief deur die sesgang outomatiese ratkas na die voorwiele oorgedra.
Dit was dus geen fout van Hyundai om hierdie eenheid die plek te laat neem van die vorige tweeliter-enjin nie; die ligter enjin help waarskynlik ook om die beter verrigting te verskaf. Boonop maak Hyundai ook daarop aanspraak dat die brandstofverbruik soveel beter is in die nuwe geslag motor. Terloops; volgens die vervaardiger kan die eienaar van die outomatiese model ‘n gemiddelde verbruik van 7,1 liter/100 km verwag teenoor so-iets soos 6,5 liter/100 km vir die handratmodel.
Hierdie is ‘n klein opoffering vir die gemak van die outomatiese model. En soos gesê, hierdie perd is lewendig in beide outomatiese en handratweergawes. En as die bestuurder die dag sportief voel, skakel hy alleenlik die hefboom in op die handratgedeelte om hom soos ‘n sport-sedan te bestuur. Druk hom ‘n bietjie en hy versnel van 0-100 km/h in 10.2 sekondes en hy laat draai die naald by ‘n raps oor die 200 km/h as dit die slag moet en daar is nie kameras op die pad nie.
Die Elantra het al die elektroniese hulpmiddels en lugsakke en stelsels wat dom foute van bestuurders regmaak; en wees maar eerlik, wie van ons doen nie nou en dan sulke dinge nie? Sê maar by voorbaat al dankie vir al die nuwe tegnologie. En lugsakke red letterlik elke dag lewens.
Huyndai het vertroue in hulle produk, vandaar dan ook die vyf-jaar of 90 000 km diensplan wat deel is van die prys van die Elantra GLS outomaties, N$229 900. Eienaars kan hom dus koop vir sy voorkoms en/of ook vir sy meganiese uitmuntendheid. En dan ook die ratsheid van ‘n wilde windhond wat goed afgerig is en boonop nog styl ook het!