Nuwe Ford Ranger
Ek onthou nog hoe ek die eerste keer van die Ford Courier bakkie bewus geword het, op die dorp waar ek groot geword het. Dit was ‘n weergawe van die Mazda B-reeks bakkies wat met ‘n Ford kenteken en ander sierrooster die plek van die Cortina-gebaseerde bakkies in die Ford-stal moes volstaan.
En vir etlike jare daarna moes ons in Suid-Afrika tevrede wees met ‘n Ford weergawe van ‘n Mazda bakkie. Tot so ‘n paar jaar gelede waar die prentjie effe verander is, toe ons hier die Ford-egte Ranger-reeks vir die eerste keer te koop gekry het.
So pas het Ford egter ‘n totaal nuwe Ranger aan die wêreld mark bekend gestel. Hierdie weergawe is totaal nuut, en spog met etlike kenmerke wat hom kop en skouers bo sy mededingers laat uitstyg. Soos wat die ontwikkelingsingenieurs betrokke by die nuwe Ranger sê, hulle het met die spreekwoordelike skoon vel papier begin. Die resultaat is ‘n voertuig wat in meeste opsigte die standaard oortref, of geheel en al nuwe standaarde daar stel. So byvoorbeeld is die onderstel van die nuwe Ranger 100% meer rigied as die vorige model, en dan ook 10% meer rigied as die van die naaste teenstander.
Die nuwe Ranger is weereens beskikbaar in drie verskillende bakvorms, om aan soveel smake moontlik te voldoen. Die werkesel enkelkajuit, beskikbaar met ‘n 2,2 liter diesel enjin, in twee verskillende kraglewerings (88 kW, 258 Nm of 110 kW, 375 Nm), of ‘n verbeterde Duratec-petrolenjin van 2,5 liter (122 kW, 225 Nm), maak die onderkant van die reeks uit. Die Supercab modelle, met die vergrote kajuit, is beskikbaar met die petrolenjin, of die sterker weergawe van die 2,2 l diesel, asook die 3,2 l vyfsilinder turbodiesel. Daar is een dubbelkajuit weergawe beskikbaar met die petrolenjin, verder is die ander 8 modelle beskikbaar met een van die twee diesels. Kraglewering van die vlagskipenjin is 147 kW @ 3000 rpm en 470 Nm @ 1500 – 2750 rpm.
Met die nuwe Ranger volg Ford die eerste keer ‘n twee deurgrote strategie: beide die enkelkajuit en die Super Cab maak van ‘n langer deurgrote gebruik, wat toegang tot die ruimte agter die sitplek vergemaklik. Die dubbelkajuit weergawes het ‘n korter voordeur, wat beteken daar is plek vir ‘n groter deur agter, wat toegang tot die agterste sitplekke aansienlik verbeter. In die algemeen is die beenruimte in die Ranger dubbelkajuit ook aansienlik meer rojaal: Daar is meer as genoeg spasie agter vir drie volwassenes, selfs al sit daar twee sesvoeters op die voorste sitplekke.
Waar die dubbelkajuit, asook die Super Cab en die enkelkajuit in ‘n mindere mate, verder uitblink is in al die praktiese pakplekke: daar is byvoorbeeld onder die agtersitplekke in die vloer nisse wat met plastiek uitgevoer is en ‘n plastiek deksel. Klein voorwerpe wat daar inval kan dus nie in allerhande hoekies en gleufies in gaan staan en wegraak nie. Verder is die paneelkassie groot genoeg vir ‘n 16-duim skootrekenaar en die deure het plek vir ‘n 1,5 liter koeldrank bottel.
Met die nuwe model het Ford besluit om sy mededinger behoorlik die stryd aan te sê. Om te begin, spog die Ranger met vyfster gradering in die strawwe Euro NCAP-botstoetsprogram, die eerste keer ooit dat ‘n bakkie volpunte toegeken word. Afhangende van die model, kom die Ranger toegerus met ‘n wye reeks lugsakke, wat in die Super Cab en dubbelkajuit die gordyn-tipe lugsakke insluit, sowel as nuutontwerpte kant toraks lugsakke, wat van die kant van die voorste sitplekke ontplooi. In die dubbelkajuite is al vyf die sitplekke met drie-punt veiligheidgordels toegerus.
Wat luukses aan betref kom die duurder Ranger-modelle toegerus met dinge soos afsonderlike klimaat beheer vir die twee voorste sitplekke, stembeheer vir die radio, i-Pod- en USB-verbinding en ‘n sentrale konsole wat 600ml koldranke kan koelhou. Petrolmodelle, en van die goedkoper enkelkajuit diesels kom met ‘n 5-spoed handratkas. Maar die res van die reeks is toegerus met 6-gang transmissie, beide handrat of outomaties.
Al is die nuwe Ranger ontwerp om in 180 markte bemark te word, is daar tog voorsiening gemaak vir die behoeftes van spesifieke markte. In byvoorbeeld Suid Afrika vervul bakkies baie maal ‘n dubbele rol: die van werkesel gedurende die dag, en die van familie voertuig na-ure. Om die rede is die veerstelsel spesifiek ontwerp om selfs op ons swakker wordende paaie, nog steeds ‘n gemaklike rit te bied. Op ‘n onlangse rit in ‘n verskeidenheid van die modelle, is gevind dat die rygehalte werklik eersteklas is. Dit was slegs op erg skurwe dele van die roete, en met ‘n meer entoesiastiese bestuurstyl, wat die bakkie-karakter van die Ranger herkenbaar was. Die res van die tyd was daar nie verskil tussen die Ranger en ‘n gemiddelde sedan nie.
Selfs in heg-en-steg toestande op ‘n harde baard 4×4 roete, het die Ranger met al sy veldry speelgoed, soos bult-af beheer (Hill Descent Control), ewenaarslot en heuwel wegtrekhulp (Hill Launch Assist) hom besonder goed van sy taak gekwyt. Dit is die aandag aan detail, van die aërodinamies aanslag in die stilering tot die optimale benutting van elke millimeter spasie van die voertuig, wat maak dat die nuwe Ranger voorwaar ‘n wenner maak.
[Pryse wissel van N$174 000 vir die basiese enkelkajuit 2.5 petrol, N$251 200 vir ‘n 2.2 diesel Super Cab iewers in die middel, tot by die 3.2 4×4 dubbelkajuit met outomatiese sesspoed ratkas vir N$436 700. Die sportiewe Wildtrack 4×2, met sy ekstra detail in die stilering kos N$402 600. Die koopprys sluit in ‘n 5 jaar/90 000km diensplan in.]
Willem Esterhuizen