Hyundai nóg ‘n stap voor
Hyundai het pas die derde beste verkoper in Suid Afrika verbygesteek en met goeie rede. Hoewel die ekonomie steeds hinder, is Hyundai se algehele verkope steeds goed. Dié week het ons die nuwe Grand i10 getoets, wat dalk net presies die rede vir Hyundai se sukses weerspieël.
Bekend in Februarie as die vierdie beste verkoper in die nuwe-passasiersvoertuig mark, vaar die Hyundai Grand i10 uitstekend goed.
Dis reeds bekend dat die Grand i10 ten volle die i10 produksie gaan oorneem, so ons mag dalk nie meer die kleiner i10 op die paaie sien nie, maar die vervaardiger bied veel meer, teen ‘n relatiewe goeie prys.
Die 1.25 liter Glide model, wat aan ons toevertou is, kom nou met nuwe LED dagligte. Vele ander toerusting, wat voorheen opsioneel was, kom nou standaard by as deel van die produk. Deel van die nuwe pakket in die Glide, is hoogte-verstelbare sitplekke, elektroniese en verhitte kant-spieëltjies, elektriese vensters, trurat parkeer sensors, bloutand, ‘n multifunksionele stuurwiel, ‘n goed toegeruste streel paneel, twee voorste lugsakke, ABS, ‘n twee jaar / 30 000km diensplan en ‘n vyf jaar / 150 000km waarborg met ‘n twee jaar / 50 000km voertuig waarborg.
Hierdie sewe jaar waarborg en uitstekende kwaliteit is een van die redes waarom Hyundai so ‘n goeie verkoper bly.
Hoewel die Glide uitkom met ‘n 1.25 liter eenheid, kan die Fluid en Motion modelle aangekoop word met ‘n kleiner 1.0 liter enjin.
Die 1.25 l verskaf 64kW en 120Nm en alhoewel dit teen 3,800 opm hardloop teen 120km/h, is die motor in geheel stil, met net effense padgeraas wat deurkom. Die vyf-spoed handrat sal ook die Glide tot 100km/h bring in 12.2 sekondes.
Hyundai het ook beklemtoon dat die Grand i10 Glide ‘n brandstof verbruik van 5.9 liter / 100km sal haal. Ons het drie keer ‘n brandstof verbruik toets gedoen in besige stadsverkeer, bloot omdat ons nie die syfer kon glo nie. Met elke toets het ons tussen 6.7 en 6.9 gekry. ‘n Redelike goeie syfer, inaggenome dat die 40km roete nie veel oop pad ingehou het nie.
Die vervaardiger het die mikpunt om net minder as 4000 meer eenhede in 2018 te verkoop. Met ‘n redelike sterk verkoopsyfer in 2017, glo ons dat die Grand i10 hierdie sal kan bereik, veral in ag genome dat die intree Motion 1.0 liter (handrat) teen minder as R150 000 op die mark kom.
Veral siende dat hierdie 1.0 liter model goedkoper en ‘n beter brandstof ekonomie het as die 1.1 liter weergawe, wat dit vervang. Met ABS, dubbel lugsakke, elektriese vensters, bloutand en stuurwiel kontroles, is daar heelwat ander vervaardigers wat hul sokkies goed sal moet optrek om by te bly.
Soos reeds genoem, is daar ietwat pad- en windgeraas, wat deurkom op die oop pad, maar teen die prys kan hierdie egter verwag word. Ons het ook die geleentheid gehad om soortgelyke geprysde voertuie net vóór- en ná die Grand i10 te toets en laasgenoemde het by verre kop uitgesteek bo die ander.
Met ‘n mengsel van sagte rooi leer en swart plastiek afwerking aan die binneruim, is die i10 ook baie goed aanmekaar gesit met ‘n gemaklike leer stuurwiel, wat die ekslusiewe gevoel bevorder.
Na die Grand i10 se toets is dit redelik duidelik, waarom dit so goed verkoop. Hyundai mag dalk net hul eie verwagtinge oortref met hul verkope.
Pryse:
Grand i10 1.0 Motion manual R149 900
Grand i10 1.0 Motion automatic R169 900
Grand i10 1.0 Fluid manual R169 900
Grand i10 1.25 Fluid manual R189 900
Grand i10 1.25 Fluid automatic R206 900
Grand i10 1.25 Glide manual R202 900
Teks: Franco Theron
Foto’s: Galimoto Media