Die stoute tiener wat nie luister nie
Indien jy pas die splinternuwe Renault Kwid aangekoop het, sal ons jou sterk aanraai om nie hierdie artikel verder te lees nie.
Die Kwid het op ons voorstoep verskyn, nes ons die vorige week ‘n soortgelyke en ewe bekostigbare voertuig getoets het. Ons was aangenaam verras met die motor, siende dat selfs prys daar nie eers die kwaliteit van die voertuig kon beïnvloed nie. Die Kwid het egter ‘n ander prentjie geverf.
Die goeie:
Deel van Renault se intree vlak modelle, verskyn die Kwid as ‘n bekostigbare alternatief in die huidige relatiewe ekonomiese druk. Tweedens is dit klein, kompak en dus perfek vir stedelike gebruik. Renault het ook die taak goed verrig om met so ‘n klein voertuig redelike groot spasie in die binneruim te skep. Daar is 300 liter alleenlik in die kattebak beskikbaar.
Nog ‘n voordeel is die sentrale streelpaneel, wat groot en maklik verstaanbaar is. Tweedens kom dit ook met funksies soos bloutand, USB konneksie en ‘n 12V punt. Daarmee saam, is die sitplekke ook redelik gemaklik met relatiewe beenspasie in die agterruim.
Brandstof ekonomie is ook goed met ‘n syfer onder die 5 liter per 100km merk.
Die slegte:
Die eerste probleme met die Kwid begin sodra shy y primêre funksie probeer verrig. Dit is, om jou van punt A tot B te neem. Om die voertuig aan te skakel, moet die sleutel eers halfpad gedraai word totdat die sentrale panele aan die lewe kom. Eers hierné kan die sleutel ten volle gedraai word om die drie silinder, 1.0 liter (50kW en 91kW) tot ‘n brullende wakker status te bring.
Skakel die voertuig se outomatiese ratkas oor na trurat of “drive” en die kar sal stadig na vore beweeg, met aste wat voel of dit in kougom vassit.
Alhoewel die Kwid hoofsaaklik bedoel is vir stedelike gebruik, kan dit met tye sukkel. Met omtrent geen klankdigtheid in die binneruim, word die brullende drie silinder duidelik gehoor, met pad- en windgeraas, wat duidelik hoorbaar is.
Neem die voertuig op die oop pad en dit sal ietwat soos ‘n veertjie in die sterk Kaapse suidoos rondgewaai word.
‘n Probleem in die stad, maar meer so op die oop pad, is die nare en pre-historiese ratkas. Ietwat soos ‘n stoute tiener, wat nie na hul ouers luister nie of oorgaan in ‘n rebelse tydperk, werk die ratkas en die enjin nie in sinergie met mekaar nie.
Die verbysteek van enige voertuie word nie aangeraai nie, siende dat die ratkas ietwat sukkel met ‘n identiteits krisis. Hoewel die skreeuende enjin ‘n indrukwekkende wanpersepsie skep, sal die ratkas voel soos ‘n trapfiets met geen momentum teen ‘n steil bult.
Renault het egter ‘n oplossing tot hierdie skielike neutrale spoedverlies. Die vervaardiger stel voor dat die bestuurder met elke outomatiese ratwisseling die brandstofpedaal met 75% moet lig. Hierdie behoort (in teorie) die skielike ruk-aksie te verminder.
Nóg ‘n onverklaarbare nadeel, is die tekort aan veiligheid van die Kwid. Met Renault, wat ‘n baie sterk fokus op vyf-ster veiligheid het, is dit onverklaarbaar waarom die Kwid skaars een ster bereik. Met net een lugsak vir die bestuurder, geen (of power) ABS, en ‘n basiese blikstruktuur, kom die Kwid voor as ‘n baie onveilige resep.
Renault het egter nóg ‘n oplossing hiervoor en een waarna ons baie uitsien. Vanaf 2019, sal die Kwid met sterker ABS, asook ‘n addisionele voorste lugsak bekend gestel word.
Die realiteit staan egter nog dat Renault baie deeglik na die algehele veiligheid en ratkas sal moet omsien, eerder as om te fokus op die insluiting van ‘n gesofistikeerde sentrale streelpaneel.
As alternatiewe tot die Kwid Dynamique AMT Auto, sal ons vir R10 000 minder, die vyf-spoed handrat voorstel. Met ‘n outomatiese ratkas, wat skaars die werk doen, word die handrat veel eerder aangeraai.
Tweedens is daar ook baie verassende klein nuwe voertuie op die mark, wat veel meer in het, vir bykans dieselfde prys as die AMT Auto.
Ons sal selfs voorstel dat ‘n tweedehandse Renault Stepway veel beter sal wees, teen ‘n baie laer prys.
Hoewel die Kwid reeds ‘n suksesvolle verkoper in Suid Afrika is, is daar nog baie potensiaal vir die Kwid om ‘n baie prys- en gehalte effektiewe verkoper in Suider-Afrika te wees. Mits Renault egter nie aan hul veiligheidstandaarde en beter ratkas kwaliteit bestuur aandag gee nie, sal ons nie die Dynamique AMT Auto aanbeveel nie.
Pryse:
Renault Kwid Expression | R126 900 |
Renault Kwid Dynamique | R136 900 |
New Renault Kwid Dynamique AMT Auto | R146 900 |
*Galimoto Media en Namwheels het reeds die geleentheid gehad om die Dynamique (handrat) te toets, met die DDynamique AMT Auto, wat in die artikel bespreek is.
Teks: Franco Theron
Foto’s: Galimoto Media