Padtoets: Hyundai H1

H1-bussie bied nou selfs nog meer as die vorige modelle

Hyundai se bemarkingspan in Suid-Afrika het, sedert die bekendstelling van sy petrol- en turbo-diesel formaat H1-reeks in 2009, uitstekend daarin geslaag om hierdie gewilde negesitplekbussie ‘n markleier hier te lande te maak. Dit was veral die toe bloeiende toeristemark wat ‘n groot afsetgebied geskep het maar wat die laaste jaar noustrop getrek het onder drakoniese en sinnelose wetgewing vanaf regeringskant.

Laasgenoemde is egter tot ‘n groot mate (en verleentheid van die wetgewende department) reggestel en sal die passasiersbussie-mark hopelik weer, te midde van algemeen dalende verkoopsyfers vir nuwe voertuie, ‘n welkome hupstoot gee.

Sedert 2012 is die reeks uitgebrei met die toevoeging van die dubbeldoelige MultiCab-model wat verkoopsyfers van die H1-reeks tot meer as 12 000 modelle laat styg het. Stanley Anderson, bemarkingsdirekteur van Hyundai in Suid-Afrika, het tydens die bekendstelling van die nuwe H1-bussie aan die begin van hierdie jaar dan ook  geen twyfel gelaat oor hoe die bemarkingspan hulle scenario vir die toekoms sien nie.

“Met die bekendstelling van die nuwe H1 met sy verbeteringe en toevoegings aan sowel die buiteaansig as die binneruim, is daar beoog om die rakleeftyd van die H1 te verleng.” Hoewel die voorkoms van die verskillende modelle  nie werklik veel oor die ses jaar sedert sy bekendstelling verouder het nie, sal die opgradering tog Hyundai in staat stel om met die nuwe H1-passasiersbussie sy Duitse mededingers (Volkswagen en Mercedes) behoorlik die stryd aan te sê.

Die H1-bussie, met sy nege sitplekke, 842-liter bagasieruimte en uitstekende uitsig na buite, bied aan die operateur, hetsy in familie- of toerismeverband, optimum waarde vir juis dit waarvoor die voertuig aangeskaf word, naamlik RUIMTE maar ook gekombineer met stylvolle en luuksueuse GEMAK. Die stuurwiel sowel as die rathefboom spog nou met leerafwerking en laasgenoemde is op die sentrale konsole gemonteer om nog verdere gemak en ruimte te voorsien.

Ook die aansig van die instrumentepaneel is gemoderniseer, die paneelkissie bied ‘n verkoelingsfasiliteit, lugversorging is eintlik klmaatbeheer en tesame met elektriesbeheerde vouspieёls en spoedkontrole bied die H1  gerieflike en gerusstellende vooruitsigte vir ‘n lang rit. Wat veral byval sal vind is die feit dat die drie rye sitplekke elkeen sy eie lugreёling ontvang hoewel die derde ry sitplekke ongelukkig nie kan plat slaan nie.

Veiligheidskenmerke is ook opgegradeer deur die toevoeging van sylugsakke tot dié van die voorste twee van die bestuurder en sy passasier. Die ABS-remstelsel is verder ook verfyn met die ondersteuning van elektronies beheerde remkragverspreiding en voertuigkontrole in die geval van noodaanwending. Aan die buitekant spog die nuwe H1 met ‘n nuutontwerpte sierrooster en buffers en 16-duim allooiwiele hoewel die paneelwa nog met staalvellings toegerus is.

Sover dit aandrywing en ander meganika betref het Huyndai se ingenieurs by hulle beproefde enjins gehou. Vir die H1-bussie is daar ‘n 2,5 liter turbo-diesel outomaties en ‘n 2,4 liter petrolenjin met handratskakeling beskikbaar.

Die 126kW en 224Nm petrolenjin-model se spesifikasies dui op ‘n 10,2 liter/100km brandstofverbruik.

Hoewel die dieselmodel een kW minder krag bied en ongeveer N$100 000 duurder is, bied dit ‘n beter brandstofverbruik van 9 liter/100km en 44Nm meer wringkrag. Dit was veral laasgenoemde aspek wat gedurende die toetsbestuur sterk en opvallend na vore gekom het. Die turbodieselenjin verskaf verstommende versnelling en krag vir ‘n voertuig van hierdie omvang terwyl die outomaties ratkas stil, sag en grasieus sy kant bring. In geval van ‘n vol vrag passasiers met al hulle bagasie en ‘n moontlike sleepwa om te sleep sal die ekstra wringkrag veral ‘n lang tog baie vergemaklik en veraangenaam asook die verbysteek van ander voertuie makliker maak.

Die H1-bussie is op die oomblik die markleier in terme van kraguitset, spesifikasies en prys indien dit vergelyk word met sy bekendste mededingers, naamlik Ford se Tourneo, die Mercedes V-klas en Volkswagen se Kombi/Caravelle. Die H1- passasiersbussie beset op die oomblik ‘n leidende 21,5% van die markaandeel wat ‘n 6,9% styging sedert verlede jaar toon en hoewel dit ‘n dalende tendens toon (wat vir alle nuwe voertuig modelle op ‘n jaar tot jaar basis geld) behoort die nuwe H1 hierdie neiging vir Hyundai om te draai.

Die volgende pryse was teen Januarie vanjaar van toepassing op die H1-reeks:

H1 2.5 Diesel negesitplek A/T N$579 900
H1 2.4 Petrol 2.4 Petrol negesitplek N$482 900
H1 2.5 Diesel sessitplek Multicab N$492 900
H1 2.5 Diesel driesitplek P/V N$441 900

By bogenoemde pryse is ingesluit Hyunda se gewone 5-jaar/150 000km waarborg met padbystand en ‘n 5-jaar/90 000km diensplan.

Performance:

0-10km/h: 0,63 seconds
0-20km/h: 1,21 seconds
0-30km/h: 1,80 seconds
0-40km/h: 2,57 seconds
0-50km/h: 3,69 seconds
0-60km/h: 4,80 seconds
0-70km/h: 6,15 seconds
0-80km/h: 7,94 seconds
0-90km/h: 9,78 seconds
0-100km/h: 11,71 seconds
0-110km/h: 14,02 seconds
0-120km/h: 17,22 seconds
0-130km/h: 20,19 seconds
0-140km/h: 24,14 seconds
0-150km/h: 29,27 seconds

0-100m: 7,59 seconds @ 77,95km/h
0-200m: 11,63 seconds @ 99,52km/h
0-300m: 14,99 seconds @ 113,71km/h
0-400m: 18,04 seconds @ 123,13km/h

Maximum acceleration G-force: 0,53G

Altitude: 60m

All data captured by Racelogic® Performance Box

Leave a Comment