Hyundai se H1-bussie nou ook met ‘n turbodiesel beskikbaar
Hyundai se H1 nege-sitplek luukse bussie, ʼn wegholsukses sedert sy bekendstelling in Maart 2009 en met verkope wat in Desember ʼn hoogtepunt van 90 bereik het, is nou met die keuse van moeitelose turbodieselkrag beskikbaar.
Sou jy dus miskien belangstel om jou eie besigheid vir die vervoer van passasiers te begin, veral met die oog op die sokker later vanjaar, hoef jy nie verder te soek as hierdie luukse negesitplek H1-bussie van Hyundai nie.
Die nuweling in die H1-reeks is hoofsaaklik op die gasvryheidsbedryf gemik – dit sal ideaal wees om gaste in gemak en veiligheid te vervoer – maar dit sal ook geskik wees vir ouetehuise, besighede en diegene met groot krose wat verkies om en mass te reis.
Ongeag die rol, die ware vermoë om agt mense en hul bagasie (of nege, indien die los sitplek tussen die bestuurder en die voorste passasier gebruik word) te vervoer is ʼn sleutelkenmerk: dit is nie ʼn snoetbussie nie en daarom ly dit nie aan daardie kategorie se algemene tekortkoming van beperkte bagasieruimte wanneer die heel agsterste sitplekke gebruik word nie. As ʼn werkesel dra die H1 se sleepvermoë van 1 500 kilogram by tot die twee-pedaal turbodiesel se aantrekkingskrag.
Hierdie marksegment is vir baie lank deur hoofsaaklik Mercedes-Benz, Toyota en Volkswagen oorheers. Soos met die petrolmodel van die H1 bewys is, is Hyundai alreeds besig om ‘n aansienlike impak op hierdie marksegment te maak.
Die H1-bussie se voorkoms vang dadelik die oog – afhangende van persoonlike voorkeure, maar as die H1 miskien vir die voornemende koper nie die mooiste bussie is wat hy of sy al gesien het nie, hou tog in gedagte dat die ontwerp daarvan juis so beplan is dat dit maksimum ruimte aan die gebruiker verskaf. Die H1 se geometriese bagasieruimte beslaan ʼn indrukwekkende 850 liter (wat dit ‘n kerfie bo Mercedes se Vito plaas) en dit is inderdaad ʼn besonder praktiese voertuig, bedoel vir daaglikse gebruik.
Absolute maksimum ruimte was Hyundai se wagwoord by die ontwerp van die H1. Sou jou driejarige dus gedurende ‘n rit miskien verlore raak tussen die middelste sitplekke en die bagasieruim kan dit jou miskien ‘n tyd vat om hom of haar weer te vind! Twee groot skuifdeure aan beide kante asook ‘n groot opslaanbagasiedeksel maak die op- en aflaai van passasiers en bagasie uiters maklik en gerieflik.
ʼn Kykie na die lys van toerusting en spesifikasies bevestig die H1 se luukse posisionering, met agterste parkeerafstandbeheer, allooivellings, leerbekleedsel, lugversorging (tesame met vier ventilasie openinge en kontroles vir temperatuur- en waaierspoedbeheer vir die agterste passasiers) en ʼn radio/CD-speler met hulptoevoer wat onder die standaardtoerusting tel. Dit verteenwoordig ʼn gemak- en geriefspakket wat nie deur enige van sy mededingers geklop kan word nie.
Die veiligheidaspek is ook nie agterweë gelaat nie. Die uitleg ontsluit ʼn aansienlike vrommelsone voor en daarby spog die H1 met ʼn reeks versterkte ‘ringe’ wat die sleutelbakpilare dwarsoor die vloer en dak verbind asook sy-impakbeskermingstawe in al vier deure. Die remstelsel met skywe reg rondom, ʼn vier-kanaal sluitweerstelsel en elektroniese remdrukverspreiding tussen die voor- en agterwiele verseker maksimum stopkrag selfs wanneer die voertuig vol gelaai is. Voor is twee lugsakke en sitplekgordels met voorspanners aangebring.
Die 2,5 liter drukbuisinspuitingeenheid in hierdie ruim karweier lewer 120kW teen 3,800 r/min en 392Nm teen 2,000 r/min en skuif bo die bestaande 2,4 liter petrol model in. Hierdie hoogs-verfynde en gladde kragbron is uitsluitlik met ʼn vyfgang outomatiese ratkas beskikbaar, om ʼn vlak van verfyndheid wat selde in dié klas gevind word te verseker. Die enjin, volkome uit aluminium vervaardig, beskik oor ʼn boorwydte van 91 mm en ʼn slag van 96mm wat gladde werkverrigting regdeur die toerestrek tot gevolg het, terwyl die dubbelbonokas 16-klep kopstuk tot die H1 se uitsonderlike brandstofdoeltreffendheid bydra.
Dit is veiligheid en ruimte wat die H1 sedert sy bekendstelling so suksesvol gemaak het en daarby voeg die turbodiesel nou ook suinige brandstofverbruik: in gemengde bestuurstoestande sal dié bus na beraming net 10,1 liter per 100km verbruik, met die uitstekende sleursyfer van net 0.34 wat tot hierdie gesonde syfer bydra. Met die vermoë om groot afstande onvermoeid met verfyndheid en brandstofdoeltreffendheid af te lê, is alle moontlike geriewe bygevoeg om die H1 die volmaakte reisgenoot te maak.
Die H1-bussie kos N$359 900 wat die toonaangewende 5-jaar/150 000 km waarborg en ʼn 5-jaar/100 000 km diensplan instluit, en die 15 000 km dienstussenposes dra by tot eienaarsgemoedsrus en lae onderhoudskoste. Dit alles maak die H1 die aangewese voertuig vir ondernemings en gesinne wat hou van beweegruimte.