Padtoets: Lexus RX450h

‘n Nuwe rigting

Tensy u dit nog nie agtergekom het nie, het die motorindustrie behoorlik begin draaie maak en ‘n nuwe rigiting gekies. ‘n Groen rigting. Vervaardigers moes vinnig reageer om nie net die resessie te klop, maar ook aanpas by die huidige denkwyse van verbruikers en die media.

Ek probeer nie om die brandstofvrate te verdedig nie, maar is vrek bang vir ‘n toekoms waar almal fietsry of die nuutste motors die elektriese kragbronne van grassnyers benut. Ek’s jammer, ek het waarskynlik 95 loodvry in my are, en hou niks van fietse of grassnyers nie.

In die tussentyd is die motorvervaardigers se slim ouens besig om met nuwe tegnologië te speel, soos batterye verbeter en enjins skoner en meer suinig te maak. Hibriede-motors word nou ook getakel omdat hulle batterye omgewingskadelik is, maar wees verseker dat hulle oor dié probleem gou sal baasraak.

Lexus (of eerder sy moedermaatskapy, Toyota) was al jare besig met dié taak terwyl ander handelsmerke nog vas aan die slaap was. Die legendariese Prius stap nog steeds voor in die optog teen brandstofverbruik en skadelike gasse en Lexus het ‘n paar notas by Pa-hulle gevat.

Reeds met my toets van die Lexus GS450h het dit duidelik geword dat ‘n groot weeldemotor ook lig op brandstof kan wees. Wel gedaan, Lexus! ‘Skuus, Toyota. En nou het hulle hibriede-tegnologie ook die polities mees veragte voertuie verower, die SUV of sportnutsvoertuig.

Die nuwe Lexus RX450h (“h” vir “Hybrid”)  kombineer ‘n 183kW 3.5 liter V6 met twee elektriese kragbronne om ‘n totale syfer van 220 kW te bied. Sy topsnelheid is ‘n verbasende 200 km/h en hy vlieg by 100km/h in 7.8 sekondes verby. Die Hybrid se batterye word herlaai of deur die petrolenjin, of remme, of energie-herwinning as die motor momentum verloor.

Die gemiddelde verbruik lê by 6.3 l/100km en ‘n CO2 vrystelling van 148g/km. Ek het ongelukkig nie 6.3 l/100km behaal nie, maar wel 8.4 met alledaagse gebruik. As mens oorweeg dat ons van ‘n 2.7 ton vier-by-vier praat, is dit byna ongelooflik.

‘n RX450h lyk indrukwekkend, duur en groot genoeg om ‘n Yaris vir brekfis te eet. Terwyl ek meer van die vorige vorm gehou het, lyk die nuutste weergawe tog modern en dinamies. Sy skerp neus en eenmalige (sterk?) daklyne kenmerk ‘n Lexus RX, en nes sy voorganger sal mens hom nooit in ‘n parkeerarea verloor nie.

Aan sy binnekant is dit besigheid soos mens al van die ouer RX-modelle gewoond is. Vloeiende ontwerp, uitstekende materiaal en afwerking, sagte leer, ‘n stukkie hout of twee (hopelik vals!), ‘n paar skerms, en tientalle knoppies. Ek is onseker of hy meer ruimte het as sy voorganger, maar slegs omdat dié al klaar koninklike mates besit het.

Die leer-sitplekke is hoogs-gemaklik, ook die agterste sitbank met sy goeie beenruimte. Nadat passassiersgemak behoorlik verower was, het Lexus elke denkbare vermaak- of geriefgereedskap in die RX gesit. Nee, rêrig, hulle het!

Kragstuur, sentrale sluiting, elektries-beheerde vensters/speëls/sitplekke, bla, bla, is almal teenwoordig, en in goeie Lexus tradisie is die meer indrukwekkende items deel van die voertuig se standaard pakette. 6-CD klankstelsel, ipod en AUX-sok, Bloutand, Xenon hoofligte, metaal-verf, niks kos ekstra in die Lexus RX450h nie.

Mens se enigste keuses is tussen die RX450h SX, XE, of LXE modelle wat tussen N$698 700 en N$769 300 kos. Die duurder modelle ontvang nóg meer speelgoeters, soos ‘n 6 CD/DVD Mark Levinson klankstelsel, navigasie, hardeskyf, nog ‘n tru-kamera, elektriese agterdeur, sondak, en aktiewe hoofligte. Sjoe.

Die beheer van so ‘n reuse versameling van toerusting is beslis nie maklik nie, en Lexus se oplossing is ‘n groot knoppie wat hom soos die muis van jou rekenaar gedra. Hy sit tussen die voorste sitplekke en gee albei voorste insittendes toegang tot die voertuig/klank/telefoon/navigasie stellings op die groot sentrale informasieskerm.

Die stuurwiel bied ook satelliet-knoppies vir klank, informasie, en ‘n vriendelike dame wat iewers in die instrumentetafel woon. Sy luister na jou wense en doen haar beste om klank, navigasie, of lugversorging te stel, maar sy hou nie van Duitse aksente of Afrikaans nie.

Die RX450h bestuur nes hy lyk – gesofistikeerd en luuks. Met genoeg batterykrag (slegs onder 60 km/h) sal hy ook fluister-stil en brandstof-vry wees. En dan gee hy jou nog ‘n verrassing omdat sy padvermoë ook uit die boonste rakke is. Hy’s nie ‘n sport-motor nie, maar die RX is nie bang vir ‘n skerp draai of twee nie.

Nog beter is die gemak van sy vering; die Lexus vlieg oor slegte padoppervlakke soos die beste gróót weelde-motors. Hy loop ook botstil teen die wettige spoedgrens op ‘n snelweg, en het ‘n top remstelstel met wieltolbeheer, stabiliteits-hantering, sluitwerende remstelsel, elektroniese kragverdeling en noodgeval remhulp.

Sou dinge nou effens skeefloop, sit jy tussen 7 lugsakke en kan staat maak op ‘n goeie padbystand program. Die RX450h kom ook met ‘n 3-jaar 100 000km meganiese en 6-jaar roes waarborg, en ‘n 4-jaar 100 000 km diensplan. Ja, hy’s pynlik duur; maar hy’s ook luuks, vermaaklik, vinnig, gemaklik, en lig op brandstof.

Leave a Comment