Padtoets: Hyundai i10

Teen 55 myl per gelling deur die Engelse platteland!

Die onlangse duisend myl deur die Engelse platteland met ‘n Hyundai in September het talle herinneringe opgeroep uit my jeug, veral die gebruik om brandstofverbruik in terme van myl per gelling uit te druk.

Met die oorhandiging van die I10 net buite Heathrow, het die elektronika aangedui dat die gemiddelde verbruik van die Hyundai 55 myl per gelling was; deur die hele toer het die verbruik by hierdie syfer gehou. Omgereken kom dit neer op sowat 19,5 km per liter en is hierdie syfer indrukwekkend omdat daar op Britse Motorways en ook veel kleiner paaie gery was. En Engeland is nie net plat nie, daar was ‘n paar stukke pad op ons roete wat selfs as passe beskryf kan word!

“Ons” I10 was die jongste in hierdie reeks  wat by ons as die Grand I10 bekend is maar waarvan die spesifikasies effens ander is en ook hoër is as die plaaslike modelle. Hyundai het ‘n hele bladsy voorsien met al die toebehore wat standaardtoerusting is, die gewone “luukses” soos ‘n elektroniese stabiliteitsprogram wat bestuursfoute regmaak voordat dit uit die hande ruk tot Bluetooth met stemherkenning. Al wat gekort het, was satellietnavigasie om die pakket af te rond.

Wat die Engelse nie as belangrik genoeg geag het om op die lys aan te bring nie, was die feit dat daar op hierdie klein rakker ook skyfremme reg rondom aangebring is. Vol punte vir die Britse verspreiders van die I10.

Daar is egter ‘n tekortkoming met hulle spesifikasies, in elk geval soos dit met die Premium toetsmodel was; metaalverf kos ‘n ekstra £495. Myns insiens kon hulle liewer die navigasiepakket gratis ingegooi het om jou pad te vind in die groter stede (en in ‘n land wat vir my totaal onbekend was).

Die I10 het aan al die verwagtinge voldoen, ek kom self al ‘n lank pad met ‘n Hyundai Getz diesel en ‘n I10 outomatiese model met dieselfde enjingrootte as die Grand model met sy 1,25 liter eenheid. Wat rygemak en hantering betref is daar dus nie ‘n verskil nie en ding die Koreaan suksesvol met die beste uit Japan mee.

Die toetsmodel was die vyfgang handrat wat van 0-100 km/h in 12,3 sekondes versnel, of in die Briste terme, 0-62 myl per uur. Hiermee kon daar gerieflik met die relatief vinnige verkeer op die Motorways meegeding word sonder enige stres vir die bestuurder of die motor. En Motorway gepraat: Dit is net soveel makliker om op die Britse snelweë met hulle 70 myl per uur spoedbeperking te te ry as die Duitse Autobahnen waar die wilde Duitsers teen 250 km/h by jou verbyskiet en jy half skrikkerig is om in die vinnige baan te ry omdat jy gedurig plek moet maak vir die spoedvrate!

Die I10 is natuurlik vir Brittanje ‘n praktiese motor met sy kompakte afmetings om in ‘n klein (en skaars) parkeerplek in te glip. Wat egter ‘n foutjie is, is die klein kattebak waarin daar net plek is vir een goedgevulde 20 kg tas met die tweede op die agterste sitplek.

Die toetsmotor was afgwerk in “Stardust Grey” en dit was uit ‘n veiligheidsaspek om maar permanent met die ligte aan te ry om meer sigbaar te wees.

Maar wat kos hierdie stylvol, Europese Hyundai met sie premium afwerking? Sonder die metaalverf jaag hy die Britse eienaar £10 810 uit die sak; rofweg omgereken so N$193 000.

Dit is heelwat meer as die Namibiese Grand I10 wat by ons N$149 000 kos. Soos hier, geld daar ook ‘n vyfjaar onbepaalse afstand waarborg.

En brandstof? Eienaardig genoeg word petrol in liters en nie in gellings verkoop nie en gaan ‘n liter jou £1 en 30 pennies kos, weereens rofweg omgewerk na N$23 per liter. Om ‘n I10 op Heathrow by Interrent te huur vir 10 dae gaan jou N$2087 uit die sak jaag.

Dit is absoluut aan te beveel om jou reis deur die Britse platteland, Wallis en die meersdistrikte met ‘n klein, ekonomiese motor soos die I10 aan te pak. Die voordeel is dat jy kan kies waar jy wil stop; nie kort na middernag saam met ‘n toergroep die dagtog te begin nie en goedkoop verblyf op die platteland te vind.

Terloops, ons het die goedkoopste nag in die jeugherberg met die mooiste ligging en uitsig in Ambleside gevind; direk aan die meer en met sy eie private strand. Dit is slegs moontlik as jy jou jou eie motor het en nie afhanklik is van treine en busse nie!

Leave a Comment