Plaasbakkie, Toerbakkie, Teaterbakkie
Dit gebeur elke keer as ek met ‘n Isuzu 4×4 ry, die eerste ry-ervaring met ‘n Isuzu hier uit die tagtigerjare, die bakkie wat aanvanklik bekend was as die Chev Luv. Wat opgeval het was die feit dat hy dieselfde grondvryhoogte as die gewone 4×2 modelle gehad het en hoegenaamd nie bo die ander uitgetroon het nie.
Hy het doodgewoon gelyk soos enige ander Japannese bakkie; alleen as jy onder hom gelê het aan die voorkant kon jy die ekstra ewenaar voor sien met die dryfaste wat deel was van die onafhanklike suspensie. Die groot ding was egter as jy hom oor slegte grondpad gery het, het jy besef wat eintlik onder die bakwerk aangegaan het. Hy het soos enige sedanmotor gery, danksy daardie onafhanklike voorsuspensie. ‘n Mens het véél meer gekry as wat jy verwag het. Dit is miskien met die nuwe 300 D-Teq reeks dieselfde.
Destyds was daar kritiek teen die Isuzu se voorvering as sou dit maklik deurstamp en is daar deur die opponente die bewering gemaak dat ‘n vaste of starre as ‘n vereiste was vir ‘n ordentlike 4×4. Hulle moes hulle woorde sluk want die ernstige manne gaan nou dieselfde roete! Op die oop pad, en met geen ekstra gewig op die kattebak, is Isuzu se bakkie-suspensie nog steeds een van die mees toegeeflike vir hierdie soort van voertuie. Behalwe dat Isuzu’s aangepas het om soos die res van die 4×4 kudde van bo af na onder af te kyk.
‘n Tyd gelede het ‘n kollega en vriend van my die bekendstelling van die nuwe reeks Isuzu bakkies bygewoon en as volg daaroor berig: “Verbeteringe in die binneruim van die nuwe Isuzu toon veral drie opvallende kenmerke.
Eerstens vergelyk die luukse rygerief en absoluut lae wind- en enjingeraas van die KB Dubbelkajuit goed met dié van ‘n luukse passasiersmotor.
Tweedens maak die kontroles en instrumente se logiese en goed beplande plasing en posisionering dit maklik vir die bestuurder om lesings met een oogopslag waar te neem en is kontoles binne maklike bereik.
Derdens is die binneruim mildelik toegerus met veelvuldige kleiner stoorkompartemente vir kleiner artikels wat maar altyd hulle weg na binne vind en maklike bereikbaar moet wees. En natuurlik beteken die nuwe Isuzu se groter afmetings ook meer ruimte en gerief aan insittendes, veral in die dubbelkajuit modelle”. Na ‘n week met die nuwe drieliter turbo kan ek alleen elke woord beaam.
Isuzu het wyd en syd roem verwerf met sy 2,5 liter enjin, dieselfde geld vir die 3-liter enjin wat 380 Nm teen ‘n baie lae en nuttige 1 800 rpm vrystel; dit is immers die wringkrag eerder as die perdekrag of kW wat belangrik is by hierdie klas van voertuig, in die geval van die Isuzu 130 kW. Boonop is die enjin suinig en maak die vervaardigers aanspraak op ‘n verbruik van so laag as 7,7 l/100 km.
Die pragtige ding is dat die ratkas outomaties is en dit eintlik makliker maak vir die minder-ervare bestuurders wat hindernisse en moeilike plekke moet deurkruis. Die laestrek-ratkas plus die sluitbare agterste ewenaar maak van hom ‘n derduiwel in die bos of 4×4 roetes. En dan lyk hy nogal mooi ook; jy kan met hom in die stad na die teater toe ry sonder om snaakse kyke te kry!
Belangrik vir bakkies wat ook op die oop pad sy ding moet kan doen is die feit dat daar ernstig na veiligheid gekyk is; daar is nie minder nie as ses lugkussings vir beskerming ingebou terwyl remkrag met die mees moderne elektroniese tegnologie ondersteun word. Die verbeterde nuwe onderstelontwerp, dra nie net by tot beter hantering nie, maar lewer ook ‘n bydrae tot passiewe veiligheid met die maksimum absorbering van energie tydens die impak van ‘n botsing.
Wat kos hierdie hardebaard met die akteursvoorkoms? Die model wat ons getoets het gaan jou N$440 100 uit die sak jaag. As dit bo jou vuurmaakplek is, is die 250D-Teq LE met handrat teen N$383 900 miskien ‘n goeie alternatief. Goeie nuus is dat ‘n 5-jaar/90 000 km diensplan by die prys ingesluit is.