‘n Nuwe ontwerpsfase
Met die bekendstelling van die derde generasie Optima het die hoof in beheer van die ontwerp van – produkte, Peter Schreyer, en sy span in die ateljees in Frankfurt en Kalifornië dit onomwonde gestel dat met die Optima dit die doel was om aan die publiek ‘n motor bekend te stel wat hulle nie van sou verwag het nie.
As die styl en ontwerp van die nuwe Optima as maatstaf geneem word, is dit presies waarin Schreyer en sy span uitmuntend geslaag het. Met ‘n mengsel van eenvoudige maar stylvolle en elegante vloeilyne skep die Optima ‘n sportiewe maar ook ‘n gespierde uitdaging aan sy mededingers in die middelslag segment.
Die Optima se kant-, voor- en agteraansig spel heirdie sportiewe karakter ondubbelsinnig uit en straal amper ‘n beeld van selfvertroue vanaf elke denkbare hoek uit. Amper soos ‘n perfek ontwerpte Italiaanse snyerspak, soos Schreyer dit uitgedruk het.
Die Optima se koepee-voorkoms word beklemtoon deur ‘n breë sierrooster met ‘n indrukwekkende maar fyn gestileerde hoofligtegroep aan die kante asook die chroomboog wat vanaf die A- na die C-pilare toe strek. Die lae profiel van die daklyn vorm ‘n eenheid met die hoë skouerlyn en breë wielbasis (2795mm) en wielboë terwyl die styl helling van die agterrruit hierdie sportiewe silhoeët verder beklemtoon.
Van wielboë gepraat – die 18 x 7,5dm allooiwiele met hulle tien speke sit hierdie boë behoorlik en bekoorlik vol! Die Optima sal beslis die oog vang op die pad, in die parkeerarea en sommer net in die verkeer ook.
Die ontwerp van die Optima se binneruim is in tandem gedoen met die bakontwerp en komplementeeer die sportiwiteit van hierdie motor nog verder. Die paneel meters en instrumente is met ‘n hoek van 9.6 grade na die bestuurder toe gedraai, wat tesame met die diep sitplekke, die persepsie skep dat die binneruim eintlik rondom die bestuurder gebou is.
En reg so ook, want bestuurplesier en gemak is tog waarom dit gaan in motors van hierdie omvang. Vir die meer entoesiastiese bestuurder is daar dan ook die gerief en plesier om eerder van die ratspane net agter die stuurwiel gebruik te maak in plaas van die outomatiese sesgangratkas. Natuurlik is die metaal voetpedale van die Optima ‘n gegewe om die motor se sportiewe voorkoms af te rond.
Beide voorste sitplekke, wat in ‘n kombinasie van geweefde materiaal en leer afgewerk is, bied aan die insittendes die gemak van elektriese verstelling sowel as verwarming en ventilasie. Agterste sitplekke se rugstutte kan in ‘n 60/40 kombinasie gevou word om groter pakplek te verseker. Die gemaksones van die voorste sitplekke word gememoriseer sodra die verstelling gemaak is en keer outomaties terug na die oorspronklike verstelling as insittendes sou omruil.
‘n Sondak wat byna oor die lengte van die dak strek, maar wat net oor die voorste gedeelte oopskuif, skep ‘n persepsie van ruimte maar is opsioneel vir die voornemende eienaar. Outomatiese temperatuurbeheer vir beide voorste insittendes is standaard en so ook die aanboordrekenaar wat temperatuur, brandstofverbruik, afstand voor brandstof weer verlang word en gemiddelde spoed bereken.
Benewens ‘n uitstekende klankstelsel wat met MP3, USB en IPOD versoenbaar is, spog die Optima ook met sleutellose toegang, “welkom tuis’ begeleidingsligte, kantspieëls wat outomaties invou, reënsensors wat die veërs outomaties aktiveer en ‘n veiligheidskamera aan die agterkant wat die trutoneel in ‘n hoek van die truspieël aan die bestuurder reflekteer vir veilige parkering. Bluetooth-verbinding is nog ‘n standaardkemerk.
So, bogenoemde in ag genome, kan daar met reg gesê word dat, die dame se skoonheid amper asemrowend is, maar kan sy dans? Hierdie is ‘n metaforiese cliché wat al dikwels gebruik is om motors se estetiese voorkoms te vergelyk met wat dit bied in terme van werkverrigting, veiligheid en rygenot. Hoe vaar sy/hy?
Die Optima is toegerus met ‘n 2.4 liter enjin en ‘n sesgang outomaties ratkas, maar, soos reeds vermeld, kan ratwisseling ook met spane vanaf die stuurwiel beheer word, of dan ook vanaf die sentrale ratlewer. Hierdie 2.4 Theta 11 MPI-enjin lewer ‘n maksimum kraguitset van 132 kW teen 6 000 rpm en 231 Nm word teen 4000 rpm beskikbaar gestel. Die Optima versnel van 0-100 km/h binne 9,5 sekondes met ‘n topsnelheid van 210 km/n – hierdie syfers is miskien effens optimisties.
Brandstofverbruik is ook volgens KIA ‘n goeie 8,7 liter/100 km en CO2 uitlaatgas so laag as 207 g/km. Verder is die Optima toegerus met die “Active Eco System” as standaardkenmerk wat enjin- en ratkasfunksies elektronies beheer om tot soveel as 7,5% besparing op brandstof mee te bring.
Aktiewe en passiewe veiligheidsmaatreëls was ‘n hoë prioriteit vir KIA toe die Optima bekend gestel is. Die ABS-remstelsel word ondersteun deur elektroniese remkragverspreiding (EBD) sowel as elektroniese stabiliteitsbeheer (ESC).
Lugsakke voor en aan die kante beskerm insittendes in geval van ‘n botsing en ‘n kindersitplek word beveilig deur die Isofix-sitplek-ankers. Remkragontsluiting word teen ‘n helling met sowat twee sekondes vertraag om wegtrek te vergemaklik.
Die Optima bied ‘n standaard waarborg van 5 jaar/90 000km en ‘n diensplan van 5 jaar/
100 000 km asook ‘n 3 jaar/onbeperkte km padbystandplan. Prys? N$305 995.