Padtoets: Range Rover Evoque

‘n Range Rover vir die jonger, stylvolle geslag

Vandat die Range Rover Evoque verlede jaar op die mark gekom het, het dit wêreldwyd groot belangstelling uitgelok en was dit met hoë verwagtings dat ek die Evoque onlangs in ontvangs geneem het.

Van die eerste oomblik af was dit duidelik dat hier ‘n spesiale motor is. Wat dadelik opval is sy breë, bonkige maar kompakte voorkoms en van die kant af, die dak wat na agter val.  Dan is daar die groot wiele met prominente  wielboë wat daarop dui dat dit ook ‘n voertuig is vir meer as net die stad en snelweë.

Voor het die Evoque die herkenbare hoë voorkant van die Land Rover familie. Binne is die Evoque afgewerk om by die naam Range Rover te pas en alhoewel hy oor goeie veldry vermoëns beskik, lyk dit tog meer of hy in die stad tuis hoort.

Binne is die Evoque luuks en smaakvol maar tog prakties toegerus. Die afwerking is puik met leer orals en min harde plastiek. Die koper het ook die moontlikheid om ‘n aantal keuses te maak t.o.v. die kleur van die binneruim, soos die leersitplekke, die instrumentepaneel en deure. Die panoramiese sondak, wat amper die volle lengte van die kajuit oopmaak, dra baie by tot die atmosfeer binne die motor.

Dit help ook om die beknoptheid binne as gevolg van die lae dak en die kleinerige  vensters  te verlig. Dit is veral die passasiers op die agter sitplekke wat hierby baat. Die agterste beenspasie is egter voldoende en drie passasiers kan heel gemaklik daar sit. Die bagasiebak het ‘n handige kapasiteit van 264 liter, maar kan vergroot word tot 856 liter met die agterste sitplekke wat kan platslaan.

Die Evoque is toegerus met ‘n hele aantal luukshede en kenmerke. Dit het klimaatbeheer, leerbekleedsel, parkeerhulp met ‘n tru-kamera en ‘n Radio/CD/USB/AUX. Op die raakskerm in die middel van die instrumentepaneel kan jy die outomatiese lugversorging en die klankstelsel beheer asook die navigasiestelsel. Op dieselfde skerm sien jy ook die beeld van die tru-kamera.

Die voorste sitplekke kan elektronies verstel word asook die stuurwiel wat op en af en nader en verder kan beweeg.  Ander standaard kenmerke vir die gerief van die bestuurder is elektriese venters, ‘n elektries beheerde agterste bagasiedeur, spoedkontrole, outomatiese hoofligte en ruitveërs en  ritrekenaar.

Vir die veiligheid van die bestuurder en passasiers is daar voor-, kant- en gordyn lugsakke. Nog belangrike standaard veiligheidskenmerke is die ABS remme met EBD en EBA asook stabiliteitsbeheer.

Daar is’n keuses van twee enjins, ‘n 2,0 liter turbo petrol en  ‘n 2,2 liter turbo diesel. Daar is ook twee bakwerk vorms om van te kies, ‘n vyf-deur en ‘n drie-deur asook twee afwerkingsvlakke; dit gee ‘n totaal  van 8 variasies. Die drie-deur model se dak is 30mm laer as die vyfdeur.

Al die modelle wat in Suid-Afrika te koop is, het permanente vierwielaandrywing en ‘n outomatiese sesgang-ratkas. Die ratte kan ook in sport-modus gestel word wat meer verrigting georiënteerd is. Ratwisseling kan ook met klein spane teen die stuurwiel geskied.

Die petrol enjin ontwikkel 177kW @ 6 000 rpm terwyl die maksimim wringkrag van 340 Nm @ 3 500rpm beskikbaar is. Die diesel enjin se kraglewering is 140 kW @ 4 000 rpm en 420 Nm @ 2 000 rpm onderskeidelik. Dit maak die Evoque lekker lewendig en krag is meer as voldoende. Die versnelling van die petrol model word deur Land Rover aangegee as 7,6 sekondes van 0-100km/h terwyl die diesel effe stadiger is met 8,5 sekondes. Maar dis nog altyd uitsetekend!

Alhoewel die Evoque juis nie gemaak is om uitgebreide 4×4 roetes aan te durf nie, is hy goed toegerus om op grondpad en rowwe terrein te ry met behulp van die Land Rover se “Terrain Response” funksie. Met die druk van ‘n knoppie kan jy vier verskillende modusse kies. Dit pas die Evoque aan om die meeste algemene en grondpad toestande, soos gladde oppervlaktes, rowwe rotsagtige terrein, modder en sand baas te raak.

Die Evoque is op die platform van die Freelander 2 baseer, maar het ‘n laer swaartepunt. Dit is ook wyer en saam met die groot 19” wiele voel die Evoque baie padvas.  Sy padhouvermoë is puik en voel baie veilig op beide teer en grond. Die hantering om draaie is so goed as wat in hierdie klas voertuig verwag kan word.

Teen pryse wat tussen N$582 995 en N$605 995 is, is die Evoque nie goedkoop nie, maar jy kry ‘n puik voertuig wat sonder twyfel in baie opsigte puik is en regtig ‘n koppedraaier  is.  Kenmerk vir kenmerk is daar seker ander fabrikate wat hom kan ewenaar of klop met krag, spasie en padhouvermoë, maar die kombinasie van alles werk baie goed saam om die Evoque  ‘n puik, begeerlike en unieke motor te maak.  Ander kompakte luukse SNV’s in dieselfde prysklas is die Audi Q5 en die BMW X3.

Land Rover Suid-Afrika bied as deel van die koopprys ‘n 3 jaar of 100 0000km  waarborg en ‘n 5 jaar of 100 000 km diensplan aan. Soos ander Britse staatmakers soos die Jaguar, het hierdie voertuie net daardie iets wat hom van die Duitsers onderskei; ‘n ware individualis!

Leave a Comment