Cabriolet en Coupé in een voertuig
Sedert die bekendstelling van die Volkswagen CC in Suid-Afrika en Namibië, ongeveer vier jaar gelede, was hierdie vierdeur koepee reg van die begin af ‘n treffer en was dit veral die opvallende en sportiewe ontwerp van die motor wat heel eerstens die oog getref het. Dit is dus ook geen wonder dat die Volkswagen CC in Europa en ook in Australië verskeie pryse vir sy ontwerp gewen het nie.
Maar nog was Volkswagen nie tevrede om die CC-ontwerp (vir coupé en cabriolet) te laat stagneer nie en is die verbeterde uitgawe van die motor onlangs in Johannesburg aan die pers voorgestel. Onder leiding van die hoofontwerper van Volkswagen, Klaus Bischoff, het die voor- sowel as die agteraansig van die CC ‘n meer dinamiese en gesofistikeerde voorkoms verkry.
In vergelyking met die vorige model is dit veral veranderinge aan die voorbuffer, groep van hoofligte en die sierrooster wat opval. Laasgenoemde is nou geïntegreer met die hoofligtegroep as ‘n eenheid wat op hulle beurt weer saam met die verfynde enjinkap die vloeinde horisontale lyne van die motor nog meer beklemtoon. Luginlate onderkant die buffer op dieselfde lyn as die misligte dra by tot die sportiewe vooraansig van die nuwe CC.
Soos die vooraansig is ook die agteraansig aansienlik verfyn deur meer klem te lê op reguit, horisontale lyne en ‘n herontwerp van die groep van agterligte in hierdie verband. Agterligte, die nommerplaatlig sowel as die flikkerligte in die kantspieëls is toegerus met LED-liggies wat die CC veral in die nag onmiskenbaar maak.
Ook die binneruim van die Volkswagen CC toon verfyning en groter gemak. Die ergonomiese sportiewe sitplekke voor sorg vir ‘n gemaklike rit op die langpad terwyl die banktipe agterste sitplek meer as genoeg ruimte verskaf aan drie volwassenes. Die 847mm afstand tussen die voorste en agterste sitplekke sorg vir genoeg beenruimte en hoewel die sportiewe voorkoms van die CC misleidend kan wees wat kophoogte betref is daar vir meer as genoeg ruimte voorsiening gemaak met onderskeidelik 955mm onder die panoramiese sondak voor en 922mm agterlangs.
Volkswagen se ingenieurs het verder gesorg dat die CC ook toegerus is met die hoogste vlak van reisgemak wat insittendes maar kan verlang. Klimaatkontrole is standaard terwyl die bestuurder se sitplek toegerus is met ‘n masseringsfunksie. Wanneer die klimaatkontrole aangeskakel word, word koel of warm lug, soos die voorste passasiers mag verkies, deur die sitplekke gesirkuleer wat deur middel van skakelaars aan die buitekant van die sitplekbekleedsel beheer kan word. Sou daar tekens van uitputting by die bestuurder bespeur word is die CC toegerus met ‘n elektroniese en akoestiese waarskuwingstelsel wat die bestuurder sal aanraai om ‘n ruskans te neem. Sou daar nie gehoor gegee word aan so ‘n waarskuwing nie, sal dit na 15 minute herhaal word.
Maar nog is dit nie die einde nie. Die CC beskik ook oor parkeerbystand. Met die druk van ‘n knop sal daar deur middel van sensors aangedui word wanneer en waar daar ‘n parkeerruimte langs die kant van die straat is. Die bestuurder sal stilhou, die motor in trurat sit waarna die motor homself outomaties sal parkeer. Die bestuurder sal slegs die remfunksie self uitvoer.
Sleutellose toegang tot die motor asook die aanskakeling daarvan bring ook ‘n ander unieke kenmerk na vore. Sou mens by die bagasiebak met arms vol inkopies aanland kan daar met die beweging van jou voet onder die agterste buffer die bagasiebak se kap oopgemaak word. Dit, natuurlik, as jy in besit van die sleutels is. Sou die sleutels per ongeluk saam met die inkopies in die bagasiebak beland sal dit outomaties na twee sekondes weer oopgaan.
Deur van gesofistikeerde beligtingstegnieke gebruik te maak, sowel as die strategiese posisionering van sodanige beligting, word die ambiance van die CC se interieur optimaal beklemtoon. Daarby is die akoestiek van die binneruim ook aansienlik verbeter deur die gebruik van klankdempende materiaal aan die binneruim sowel as in die instrumentepaneel en selfs ook op die voorruit!
Die Volkswagen CC is beskikbaar in drie opsies wanneer dit by aandrywing kom, naamlik twee petrolmodelle en een dieselmodel waarvan die krag tussen 125 kW en 220 kW wissel. Brandstofinspuiting is direk terwyl die 2.0 TDI (125 Kw) toegerus is met BlueMotion Tegnologie met ‘n stop/start stelsel. Die 2.0 TSI- petrolenjins lewer 155 kW terwyl die 3.6 FSI V6 ‘n indrukwekkende 220 kW krag lewer. Volkswagen maak daarop aanspraak dat die dieselmodel se brandstofverbruik slegs 5.5 l/100 km is terwyl die 3.6 liter FSI V6, soos mens sou verwag die haastigste is met slegs 5.5 sekondes wat dit neem om die 100 km per uur merk te bereik. Beide die dieselmodel en die V6-model lewer ‘n kragtige 350Nm en die petrolmodelle 280 Nm wringkrag wat in al die modelle deur middel van ‘n sesgang- handratkas na die wiele verplaas word. Van belang is die feit dat krag by die V6-model elektronies na al vier wiele versprei kan word ongeag die spoed wat gery word.
Pryse wat BTW en Uitlaatbelasting insluit is as volg: 2.0 TDI DSG (125kW) teen N$373 800; die 2.0 TSI DSG (155kW) teen N$395 950 en die vlagskip 3.6 V6 FSI 4Motion DSG (220kW) teen N$469 405.
Die nuwe Volkswagen CC kom met ’n 5 jaar/100 000 Onderhoudplan, 3 jaar/120 000 km waarborg en ’n 12 jaar anti-roes waarborg terwyl die motor elke 15 000 km gediens moet word.