Nou nog méér Land Rover!
Hoe méér dinge verander, hoe méér bly hulle dieselfde. Almal herken dadelik ‘n Land Rover Defender as hy (of sy) hom sien; of dit nou ‘n1950 model is of die jongste 130 met sy dubbelkajuit en groot bak met ‘n seilkappie agter, maak nie saak nie. Wat my laat dink aan die Bybelse gelykenis van nuwe wyn in ‘n ou wynsak!
Die eerste indruk van die nuwe Defender 130 is dat hy groot is – in die oortreffende trap. Of dit is bloot is soos omdat hy so groot lyk, en in der waarheid nie so groot is nie, is onseker. Maar feit bly staan, as jy hom sien dink jy aan ‘n Holgate trippie van die Kaap na Kaïro met al die moderne toerusting aan boord waarsonder Afrikareisigers deesdae blykbaar nie meer kan klaarkom nie.
Hoewel daar deesdae baie meer Land Rover Freelanders, Discovery’s en Range Rovers as Defenders verkoop word, bly dit die Defender wat die groen-en-goud ovaal naamplaat wêreldberoemd gemaak het. En laat ons nie die emosionele en handelswaarde van die naamplaat onderskat nie. Ek is self een wat my laat vang deur die logo of naamplaat of simbool wat vervaardigers skep om ‘n sekere persepsie te skep en dan daarmee vir jare lank ploeg en winste verseker. Dink maar aan die sukses van die driepuntige ster, die blou en wit vliegtuigskroef, en die naamplaat met die twee letters uit Duitsland. In Suid-Afrika het ons vir jare lank die wit hings van Albert Wessels gehad wat ‘n plaaslike weergawe van ander vurige hingste uit Europa was. En wat gehelp het om voertuie te laat verkoop!
In my jongmensjare was die Land Rover 88 en 109 die enigste 4X4 wat in die voormalige Britse kolonies die swak of ongebaande weë kon aandurf en (gewoonlik) veilig anderkant aankom. Hierdie beeld het iewers vasgesteek. ‘n Ware 4X4 moes eenvoudig soos ‘n Land Rover lyk. Maar dinge het natuurlik oor die laaste paar dekades drasties verander vandat stilering en gemak by sulke voertuie die prentjie radikaal verander het.
Teen hierdie tyd het ek al talle 90’s en 110’s voordat die Defender naam verskyn het en kon ek amper voorspel hoe die 130 hom gaan gedra.
Die 130 word amptelik die Crew Cab genoem want die gedagte is dat hy vyf werkers en hulle gereedskap agter onder die seilkap kan akkommodeer; daar is dus nie sprake van die “fyner” geriewe wat die deursnee motorkoper van so ‘n duur voertuig verwag nie. Ook miskien nie die nuwerwetse elektroniese veiligheidstelsels nie. Dit het ek op ‘n nat, gladde teerpad ervaar toe ek redelik vinnig moes remme aanslaan! Dit is duidelik dat ABS-remme nie, soos op die ander Defenders, teenwoordig is nie. Maar is ABS-remme altyd gewens by regte 4×4 voertuie? Soms kan dit regtig lol as die nuutste tegnologie op ‘n 4X4 aangebring is en daar moet berg-af gery word. Hierdie swakplek op ‘n voertuigbekendstelling met al die klokkies en dinge het van die motorjoernaliste behoorlik laat les opsê. Dus; alle tegnologie is nie altyd ‘n voorsprong nie.
Die hart van die 130 is die 2,4 liter turbodieselenjin wat 90 kW teen 3 500 rpm ontwikkel en 360 Nm wringkrag teen 2 000 rpm lewer. Die krag word na die aste oorgedra deur ‘n sesgang-handratkas en natuurlik is daar ‘n oordra-ratkas om aan die Landie 12 ratverhoudings vorentoe te gee vir optimale krag of spoed. Dit stel hom in staat om rondom 130 km/h te gaan draai met relatiewe ligte brandstofverbruik van rofweg 11-12 liter/100 km. Hy is egter nie die vinnigste 4X4 van die merk af nie; 100 km sal eers kort duskant op die meter verskyn.
Binne is die paneelborduitleg verbeter en so ook die sitplekke. Maar ai, die plek vir die bestuurder se regterarm bly maar ‘n probleempie wat seker nie verander of verbeter kan word nie.
Wie gaan hierdie werkesel koop? Miskien manne van ESKOM wat kraglyne in die veld in stand moet hou. Of die paar hardebaardmanne wat anderkant die Kongo wil gaan draai en hulle nie steur aan vaartbelynde, méér indrukwekkende voertuie nie. En ook waar kort draaiafstande nie belangrik is nie. Die 110 modelle is reeds berug vir hulle groot draaiafstande en by die 130 is dit nog groter.
Op die oop pad draai die enjin teen 2 000 rpm met die spoednaald op 100 km/h en is daar so ‘n gerusstellende sing van die enjin wat die indruk gee dat hy langpad lekker gaan loop mits daar nie reisies gejaag gaan word nie. Maar as jy hom druk, kan hy dit doen maar die brandstofverbruik gaan styg.
Die 130 is nie elke man se speelmaat nie, as gemak en weelde die finale beslissing gaan fel, is die Discovery die antwoord, of die 110 stasiewa. Maar teen N$416 995 kan die 130 oorweeg word vir die Vrystaatse mielieboer wa t sommer ‘n aantal implemente wil saamneem na sy nuwe plaas in Uganda; plek in die hoekige bak is meer as genoeg! Boonop kan hy staatmaak op ‘n 3-jaar of 100 000 km onderhoudsplan.