Padtoets: Mazda 5 2.0 Active

Met plek vir sewe!

Van ons ouer lesers sal nog Peugeot se Super Seven stasiewa onthou wat destyds deur Samcor gemaak is, dieselfde maatskappy wat ook Mazda en Ford produkte in Gauteng gebou het. Uit dieselfde, aanvanklike stal, en op dieselfde lees geskoei, kom die Mazda 5 wat ook ‘n sewesitplekvoertuig is.

Maar die vergelyking is nie regverdig nie. Die Peugeot was ontwerp as ‘n stasiewa en die persone wat agter moes inklim, moes almal akrobate gewees het teenoor die doelontwerpte Mazda met sy breë skuifdeure aan die kante wat toegang net soveel makliker maak. Dit is die voordeel van nuwe ontwerpe en nuwe idees.

Die vervaardigers noem dan ook dat hulle ‘n ontwerperswoord, nagare, vir die vorm van die Mazda gebruik het. Nagare is die Japannees vir die vloeibeweging van water, die mees aerodinamiese vorm met styl daarby.

Eintlik word die Mazda 5 geadverteer as ‘n ses-plus-een voertuig omdat die middelsitplek in die tweede ry ‘n meerdoelige houer/sitplek is wat ‘n deurgang tussen die tweede en derde rye maak. En dan ook lang, smal voorwerpe te vervoer sonder om al die agterste sitplekke plat te slaan. Baie handig.

Die Mazda 5 is nie maar net nog ‘n gewone veeldoelvoertuig waaraan ons gewoond geraak het nie, eintlik is hy ‘n renperd met plek vir baie. Hier is hy getrou aan Mazda se “zoom-zoom” effek waarin die vervaardiger beweer dat sy motors altyd aan voldoen. Miskien kan ‘n mens eerder van ‘n “wroem-wroem” effek in Afrikaans praat, die geluide wat peuters maak as hulle ‘n motor sien!

Boonop het hy ook die stilering en toerusting van ‘n luukse sedan met al die geriewe wat ‘n mens in so ‘n voertuig verwag. Die lys van “luukse” items is te lank om op te noem; ‘n mens moet hom maar eintlik self ervaar. Vanselfsprekend kan die stuurwiel beide horisontaal en vertikaal verstel word om kort persone en ook lang persone die ideale bestuursposisie te gee.

Maar van die handige en praktiese dinge, wat veiligheid bevorder, is die logiese uitleg van die instrumente en die voordeel om die radio en ander inligting te verkry deur stelknoppies wat op die stuurwiel gemonteer is. Almal van ons het al ‘n “blonde” oomblik gehad toe ons afgekyk het na die radio se normale beheerknoppies en dan tot die besef gekom het dat daar meteens ‘n stadige motor vlak voor ons is. Wees maar eerlik!

Mazda maak heelwat van die skuifdeure langs die kante en vra self die vraag of daar nie ‘n veiligheidsprobleem kan wees as daar ‘n ongeluk is nie; sal die deure nie padgee en die passasiers in die middelste ry sitplekke aan gevaar blootstel nie? Volgens hulle sluit die deure so goed dat dit nie sal gebeur nie.

Myns insiens is die gebruik van skuifdeure die maklike toegang wat ‘n mens in eng parkeerruimtes het; sonder deure wat teen die motors langsaan kan stamp. En om toegang na die derde ry sitplekke te verkry, het jy juis ‘n groter deur as normaalweg nodig. Probleem opgelos.

Die hart van die Mazda vyf is die wakker viersilinder enjin met 16 kleppe en dubbele nokaste wat 1 999 cc verplaas en 106 kW ontwikkel teen 6 500 rpm. Die enjin stel ‘n ruimhartige 180 Nm beskikbaar teen ‘n effens hoë 4 500 rpm maar baie van daardie krag, wat gebruik kan word om ander vinnige voertuie vinnig verby te steek, is reeds teen laer rewolusies beskikbaar.

Die enjin is werklik soepel en versnel naatloos vanaf lae enjinsnelhede. Die krag word deur ‘n sesgangratkas oorgedra sodat daar teen hoë snelhede teen lae enjinomwentelinge gery word.Brandstofekonomie is dus uitstekend op die lang pad en kan daar ‘n verbruik van minder as 9 liter/100 km verwag word; nie sleg vir ‘n groot, gerieflike sewesitplekker nie. Versnelling van 0-100 km/h is onder 11 sekondes en die naald sal op 195 km/h gaan draai as die lepel getrap word.

Hoe hanteer die groot Mazda? Op ‘n Sondagrit na Tulbagh, op ‘n variasie van goeie en slegte teer asook goeie en slegte grondpad, is die indruk van soliede konstruksie verkry; en om draaie was die klouvermoë onberispelik en voorspelbaar. Die vering is sportief – in die Mazda tradisie – maar gee hoegenaamd nie ‘n stamperige, harde rit nie. Hier kry die Groot Vyf volle punte vir rygemak.

Nadele? As passasiers al die sitplekke gebruik, en daar lê ‘n vakansie voor, sal ‘n Ventertjie gehaak moet word om al die bagasie in te kry.

Die Mazda word gedek deur ‘n onderhoudsplan vir 5 jaar of 90 000 km wat by die prys ingesluit is; so ook ‘n 4-jaar of 120 000 jaar omvattende waarborg op meganiese komponente. Hierdie waarborg kan (opsioneel) verleng word tot 6 jaar of 200 000 km. Nie sleg nie!

Maar wat kos hierdie plesierigheid? Die intreemodel Original  gaan die koper N$249 140 uit die sak jaag, die Active N$256 140 (soos getoets) endie Individual sowat N$285 140. Laasgenoemde beskik oor elektries beheerde skuifdeure.

In vergelyking met ander sewesitplekkers is die Mazda een wat ernstig oorweeg moet word op grond van waarde vir geld.

Leave a Comment