Die veilige keuse
Tyd vir ‘n belydenis. Ek het my lewe te danke aan ‘n Mercedes-Benz, oftewel my ouers se keuse van motors. Ek was omtrent vyf jaar oud toe die dronk bestuurder van ‘n vragmotor laat op ‘n Dinsdagaand met ons gras-groen 280S moeilikheid gesoek het.
Die Mercedes het maar lelik tweede gekom; sy agterkant was vernietig en het vloeistowwe gelek, maar die hardnekkige passasiersel het enige verdere vordering van die lorrie se staalbuffer gestop.
Hierdie herinnering kom altyd in gedagte as ek na ‘n blink enjinkap kyk met die goeie drie-punt ster daarop; dit herinner my aan dié vervaardiger se trotse geskiedenis van veiligheid.
Die middel-reeks E-Klas mag die gunsteling keuse van Duitse taxibestuurders wees, maar dit bewys dat hy maklik is om te gebruik, langlewig is, en hope passasiersgemak bied. En natuurlik ook veiligheid.
Twee generasies gelede het Mercedes met die nuwe vier-ogie gesig gedobbel, wat uiteindelik só goed aanvaar is dat sy vervanger met dieselfde lyne ontwerp is. Die nuutste weergawe wys kantige ligte met sterk C-Klas kante wat ‘n kort maar aggresiewe gesig teken.
Die E se profiel sou miskien vervelig lyk as dit nie vir die sterk lyne by sy agterwiele was nie. Hulle loop by die agterwiele verby en ontmoet die groot agterligte wat ‘n skoon gesig vorm wat effens kwaad lyk.
Ek was eers nie oortuig nie, maar na ‘n deeglike kyk wys die nuwe Benz toe sy konserwatiewe maar indrukwekkende vorm. Dit is ook binne te vind en Belangrike sakemanne (en vroue) sal hier beslis tuis voel.
Leer, hout en fantastiese toerusting ontmoet in ‘n logiese en gemaklike manier, en die enigste twee gróót verrassings was die start/stop knoppie en die ratwisselaar op die stuurkolom. Die kort instrumentebord bevat vyf pragtige horlosie-instrumente en die groot informasieskerm wat ook in die huidige C-Klas te vind is. Hy word deur die silwer wieletjie by jou linkerhand beheer, en wys jou graag (afhanklik van die model) musiek, navigasie, telefoon en verskeie voertuig opsies.
Die vloei van informasie was maklik om te beheer; die radio/CD wisselaar en knoppies op die stuurwiel sal jou ook help. Nog meer inligting is beskikbaar op die digitale skerm binne die spoedmeter, wat jou ook bewus maak van onverwagte baanveranderings, motors in jou spieëls se blinde hoeke, of aanbeveelde koffie pouses as jy begin vaaak raak.
Na ‘n paar dae het ek talle lugsakke, subtiele ligte, sitplekverwarming, ongelooflike beenruimte agter, outomatiese gordelverstellers, twee 12V sokke en ‘n bottel-houer gevind; maar g’n koffiemasjien!
Terloops; die goeie klimaatbeheer sit ver onder in die konsole met sy silwer aksente wat die groot middel tonnel groet. Elektriese venster en speel knoppies sit in die bestuurder se deur, asook ‘n knoppie wat die kattebak oopmaak.
‘n E-Klas se sitplekke bied baie goeie ondersteuning en is effens hard, maar verstelbaar op alle maniere. Die stuurwiel kan ook by jou wense aanpas, en bied twee pedale vir sportiewe bestuurders om ratte te wissel. Dié twee gee die somtyds lui maar altyd sagte 7-spoed outomatiese ratkas meer lewe, maar (nes die wieltol- en stabiliteits-beheer) sal hulle nie kinderagtige of rowwe gebruik duld nie. Dis ‘n Mercedes, mense; as u van rokende bande en toerebeperkers hou, bestel ‘n AMG!
Hierdie bekwame en veilige gedrag is ook te sien in die res van ‘n E300. Sy veringstelsel is nog ‘n verfrissende verbetering oor die vorige model; sy fokus lê meer op absolute gemak, maar hy sal skerp draaie verbasend goed hanteer.
Ongelyke padoppervlakke het my altyd laat glimlag, omdat die nuwe E-Klas hulle met ‘n doeltreffendheid laat verdwyn het wat ander vervaardigers nog moet leer. Die volgende keer as ek by Frankfurt lughawe uitstap, sal ek onmiddelik die nuutste geel E-Klas opspoor.
Verrigting is ewe bekwaam en pas perfek by die E-Klas se bedaardheid. Met 7 ratte om van te kies, sal die 170kW 3-liter V6 altyd die regte een vind om met ‘n rowwe (maar sagte) V6 brul te versnel, of by ongelooflik lae toere (en verbruik) op die snelweg sweef.
Mercedes se nuwe E-Klas het nog meer verrassings wat vir nuwe eienaars wag, ook op ons paaie aan die voet van die pragtige Helderberg. Sy stuur is nou meer presies ingestel en die harde Mercedes remme is vir meer beheerbare toerusting verruil.
Die E300 is minder van ‘n sportmotor en meer van ‘n ongelooflik gesofistikeerde luukse sedan. Veral op die langpad kom hierdie eienskappe na vore, en ek was rêrig ontsteld toe my toetsrit eindig. As ek ooit die kans kry, sal ek graag met ‘n E300 vir ‘n naweek Windhoek toe en terug wil ry.
Ek vra om verskoning dat ek nie die motor se veiligheidstoerusting genoem het, maar ek word beperk deur ‘n sekere aantal woorde! En soos ek in die eerste paar sinne genoem het, was dit nie vir Mercedes-Benz se veiligheid nie, sou u hierde artikel nie gelees het nie.