Die nuwe Tata Indica Vista is verlede week in die Paarl aan motorjoernaliste bekend gestel. Die Indica Vista is ‘n slinternuwe model en is van voor tot agter herontwerp en met ‘n nuwe enjin-ratkaskombinasie toegerus. En dit lyk of hierdie nuweling die wêreld vir sy mededingers gaan warm maak; ‘n kragtige en sterk nuwe spesery uit Indië!
Teen hierdie tyd het die handelsnaam Tata al behoorlik nes geskrop in Suid-Afrika en bestaan daar reeds 67 agentskappe in die land om sy motors, bakkies en vragmotors te verkoop. En net vir die rekord vir diegene wat nie so goed vertroud is met die handelsnaam nie: Tata is die familienaam van een van die wêreld se grootste nyweraars en filantrope, ‘n Indiese variasie van Anton Rupert. Aanvanklik het die voertuigbouery begin met ‘n samewerkingsooreenkoms met Mercedes-Benz vroeg in die vyftigerjare toe die gerespekteerde Duitse firma in vennootskap met Tata vragmotors daar begin bou het. Die bloedlyn is dus goed! En verder behoort die gerespekteerde Britse vervaardigers, Jaguar en Land Rover, nou ook aan Tata.
Die Vista is langer, wyer en hoër as sy voorganger maar behou die essensie van ‘n sportiewe, kompakte luikrug weens mespunt stilering wat nou ‘n sentrale voulyn op die enjinkap, aantreklike nuwe voorligte en sterk wielboë insluit. Die nuwe motor lyk ook nie meer so regop soos sy voorganger nie. Binne is ‘n nuwe instrumentepaneel wat in die middel van die konsole geplaas is. Die binneruimte is groter en die paneelkissie is groot genoeg om ‘n (kleinerige) skootrekenaar in te stoor! Baie nuttig. So ook die twee kragpunte vir elektriese toebehore plus ekstra nuttige stoorspasies vir kleiner voorwerpe plus die onontbeerlike koeldrankhouers.
Die middelkonsole is afgewerk in ‘n tweekleur-skema, wat bydra tot die Vista se sportiewe voorkoms. Alle modelle kom met ‘n hoogteverstelbare bestuurdersitplek, asook lae rugsteun vir beide voorste passasiers.
Die Vista kom in drie uitvoerings, die intreevlakmotor is die INI, gevolg deur die AURA en die IGNIS wat Tata se vlagskipmodel is.
Al drie modelle kom met bakkleurige buffers en volgrootte wieldoppe. Die kantstroke, kantspieëls en deurhandvatsels is swart op die INI model, en die bakkleur op die AURA- en IGNIS-modelle. Hulle is almal beskikbaar in ses verskillende bakkleure: Gala Rooi, Solar Oranje, Cavern Grys, Marino Silwer, Arktiese Silwer en Infinity Swart. Laasgenoemde lyk besonder deftig en met lugversorging as standaardtoerusting op al die modelle, sal hy sy passasiers die somer laat oorleef!
‘n Verstelbare stuurkolom en hoogteverstelbare bestuurdersitplek skep die ideale sitposisie vir die bestuurder. Belangrik ook is die sitplekke wat ferm is sonder om hard te wees. Op ‘n langpad deur die Karoo behoort ‘n rug nie seer te word nie.
Die AURA- en IGNIS-modelle is met kragvensters voor en agter toegerus asook misligte voor en agter. Verder kan die agtersitplek in die 60/40-konfigurasie platgevou word vir meer laairuimte. Die IGNIS beskik ook oor elektriese beheer vir die kantspieëls en ‘n DIN-CD-radiostelsel met vier luidsprekers en ‘n spesiale USB-poort.
As die bakwerk nuut is, is die enjin en ratkas-kombinasie nog beter! Die nuwe enjin is die 1368 cc Safire MPFI-petrolenjin wat deur Fiat ontwerp is en in Indië gebou word. In die INI- en AURA-modelle lewer die enjin 55 kW by 6 000 rpm en stel 114 Nm wringkrag teen 3 250 rpm vry. In die IGNIS-model is die enjin aangepas om 65 kW teen 6 000 rpm op te lewer. Sy wringkrag is ook effens hoër met 116 Nm teen 4 750 rpm. Die krag word deur ‘n vyfgangeenheid na die voorwiele oorgedra. Vir die dieselaanhangers is daar ook goeie nuus; die 1.3 diesel-QUADRAJET-enjin word vroeg volgende jaar tot die reeks bygevoeg.
Al die Vista’s gebruik McPherson-stutte en kronkelvere voor met ‘n semi-onafhanklike stelsel met ‘n wring-as, kronkelvere en gasgevulde skokbrekers agter. Die Vista ry op 14” bande op staalvellings en gebruik skyfremme voor met trommels agter. ‘n Volgrootte spaarwiel is ook standaard op alle modelle. Op die pad hanteer die Vista goed om draaie en is die suspensie ‘n goeie kompromis tussen sportiewe hantering sonder om te hard te voel soos by motors wat op sportmotorstatus aanspraak maak. Die kragstuur gee goeie terugvoer van die pad af.
Wat veiligheid betref is daar op al die modelle sentrale sluiting en immobiliseerder, kinderslotte op die agterdeure, ‘n stuurkolom wat opvou in ‘n botsing, frommelsones en kantbeskermingstawe in die deure ingebou. Die IGNIS-model beskik oor lugsakke vir die bestuurder en voorste passasier, sowel as ABS-remme met noodremdrukverspreiding (EBD).
Rand vir Rand bied die nuwe generasie TATA Indica Vista in die luikrugmodelreeks goeie waarde vir geld en kan hy ander vervaardigers se kaarte deurmekaar maak. Veral omdat die Tata-mense luister na wat kliënte (en motorjoernaliste) oor hulle motors te sê het. Tensy ek die Tata manne verkeerd verstaan het, is hulle werklik ernstig om van die vroeëre probleme met dienste en wagtye, daarwerklik en positief aan te spreek.
Wat gaan hierdie nuwe Tata Vista’s die koper uit die sak jaag? Die intreemodel INI kos N$119 900, Die AURA N$127 900 en die vlagskip IGNIS N$139 900. Al die modelle kom ook met ‘n 3-jaar / 75 000 km diensplan en ook ‘n 3 Jaar / 100 000 km-fabriekswaarborg. Verder ook ‘n nood-padbystandskontrak vir 2 jaar met onbeperkte kilometer. Netjies!