Britse Genot (met modderskerms uit die Ooste)
Dit is onmoontlik om oor die MG te skryf en nie so ‘n bietjie agtergrond inligting te gee nie; die nuwe generasie motorkopers is waarskynlik nie bewus van die roemryke verlede van hierdie handelsmerk nie.
Van die eerste Britse vervaardigers van sedanmotors was William Morris wat goeie en deeglike rygoed gemaak het. Die naam Morris is dan ook diep gegraveer in ons motorgeskiedenis omdat Britse motors die toneel hier tot en met 1960 oorheers het. ‘n werknemer van Morris, Cecil Kimber, het in die 1920’s begin om Morris enjins vir sportmotors te gebruik en hierdie vinnige Engelse motors het die naam MG gekry, vernoem na Morris Garages waar hulle naby Oxford hul oorsprong gehad het. Van die ouer lesers sal seker nog die Morris Oxford modelle onthou. En as u onlangs in Indië was, sou u daar nuwe 1958-model Morris Oxfords aantref, vervaardig onder die patriotiese handelsnaam van Hindustan.
Talle renjaers en tydrenjaers het oor die jare suksesvol met bekostigbare MG sportmotors op Killarney en Bolandse tydrenne meegeding teen ander, ewe bekostigbare Austin Healey’s en Triumph’s. Maar dit was die MG logo wat die manne se harte gesteel het lank nadat al die verskeie modelle onder een dak geland het voordat die Britse inheemse motorbedryf weens stakings en onmoontlike eise van die vakbonde geseneuwel het. Op die ou einde is die motor-vervaardigingsbdryf vandag grootliks in nie-Britse hande.
Die MG het ná die ondergang van die Britse BMC-groep van die mark verdwyn, weer herrys en wéér in die moeilikheid beland. So tussendeur het ons darem so ‘n klompie jare gelede vir ‘n kort rukkie weer MG (en Rovers) plaaslik kon koop en het ons presies tien jaar gelede die TF plaaslik getoets en daaroor geskryf. Soos in die geval van Land Rover en Jaguar wat deur die Indiërs gered is, was dit die Chinese wat tot die finale redding van MG-Rover gekom het. In die geval van die Rover word hierdie motors nou in China vervaardig terwyl die MG steeds in Brittanje gebou word, al is dit dan ook van bakdele wat uit China voorsien word. Ten minste kan die MG dus nog steeds met trots ‘n “Vervaardig in die UK” naamplaatjie dra waar die MG in Longbridge gemonteer word.
Die toetsmodel wat ons onder hande gehad het, was die 1,8 liter MG6 in semi-luikrug formaat. En nie sommer so nie; die stilering is uit die hoogste gestoeltes – om ‘n bekende karakter uit Sewende Laan aan te haal. Die vloeiende lyne van die MG trek sterk op die nuwe Hyundai Elantra wat wêreldwyd die koppe laat draai het en ontwerppryse die een na die ander ingeoes het. Skerp. Die bakvorm is dan ook uit-en-uit die nuwe en gewilde koepee-vorm wat ‘n kruis tussen ‘n luikrug en gewone sedan is.
Die nuwe MG6 is nie net ‘n motor met moderne lyne nie; die toerusting en uitrusting wat in die motor aangetref word, is uitvoerig en sluit in ‘n raakskerm wat navigasie en tru-kamera insluit; dinge wat normaalweg by heelwat duurder motors gevind word.
Die hart van die MG is ‘n milder weergawe van die TF sportmotor wat ons getoets het. Die turbo-aangejaagde 1,8 liter viersilinderenjin ontwikkel 118 kW teen 5 500 rpm en stel 215 Nm vry teen ‘n rustige 2 500 – soos dit by ‘n turbo-eenheid pas. Die resultaat is natuurlik dat daar nie gedurig ratte – daar is vyf van hulle – hoef te verwissel om ander voertuie verby te steek nie. Anders as die TF se 220 km/h maksimum snelheid, gaan draai die naald by die sedan/koepee model by 205 km/h. Versnelling van 0-100 km/h vind net onder 10 sekondes plaas en brandstofverbruik is ook minder as 10 l/100 km.
Padgedrag is soos van ‘n MG verwag kan word, uitstekend. Ook is al die veiligheids-toerusting daar en kan die MG sy man staan teen die mededingers binne sy prysgroep. Die toetsmodel, die vyfdeur Deluxe model, verkoop teen N$269 900. Daar is egter ook ‘n goedkoper Luxury weergawe teen N$239 900 en die Comfort teen N$229 900. Al hierdie modelle beskik oor dieselfde basiese veiligheidseienskappe as die topmodel. Hierby is ‘n diensplan van 3 jaar of 90 000 km ingesluit. Behalwe hierdie 5-deur koepees is daar ook ‘n gewone sedanweergawe teen naastenby dieselfde pryse.
Wie gaan hom koop? Op ‘n positiewe noot; mense wat ouer is en ‘n lang emosionele verbintenis met die handelsmerk het en weet watter glorieryke tydperk in die logo van die MG ingebed is. En om eerlik te wees; daar is niks fout met die vakmanskap van die motor nie. Maar dié wat in die platteland woon, ver van ‘n handelaarsnetwer, sal meer prakties moet dink en waarskynlik sonder emosie ‘n Japannees, Duitser of Koreaan van nader bekyk. Dit ten spyte van die feit dat pa of oupa die meisies mal gemaak het met sy MGA of MGB!