Padtoets: Mitsubishi Triton 2,5 DI-D DK 4×4

Lang naam vir lekker ry op die langpad!

Iewers tussen my lêers is daar ‘n foto van twee Japannese wat met ‘n Mitsubishi Jeep in die vroeë Sestigs van Japan af na Engeland gery het om ‘n Formule Een Grand Prix vir Japan te propageer.

Hierdie Jeeps, wat onder lisensie van die Amerikaanse maatskappy gebou is, was tot in die laat Sestigerjare ‘n topverkoper in Mosambiek. (Die ander 4×4 medingers in die gewese Portugese kolonie, was natuurlik die Toyota Land Cruiser bakkies en stasiewaens. Sedertdien het dinge natuurlik baie verander; Japan het ná ‘n baie lang wagtyd toe sy Grand Prix gekry maar die Jeep-naam het amptelik uit Mitsubishi se woordeskat verdwyn toe die vervaardigerslisensie verval het. In die plek daarvan het die legendariese Pajero en ‘n reeks taai 4×4 bakkies onder die naam Colt en Triton, die lig gesien.

Plaaslik het die Colt ‘n goeie reputasie ontwikkel as ‘n geharde voertuig wat hier uit die Mercedes stal bemark was. Die enigste klagtes was teen die swaar brandstofverbruik van die petrolenjins toentertyd.

Die Colt van destyds het maar net soos enige Japannese bakkie gelyk totdat die Triton sy verskyning op die plaaslike toneel gemaak het; van die kant af lyk die kajuit soos ‘n rugbybal. Hierdie voorkoms pas natuurlik in die kraam van die deursnee Namibiërs wat rugbymal is. Aan die ander kant is rugbymanne ook dikwels aan die konserwatiewe kant en wil miskien nie gesien word in so ‘n futuristiese ontwerpersbakkie nie. Smaak verskil, en dit is goed so!

Die ongewone voorkoms ten spyt, is dit die binnekant wat tel, en veral wat onder die enjinkap aangaan. Dit is juis hier waar die Mitsubishi Triton drieë gaan druk en punte gaan wen.

Ons het onlangs die kans gehad om weer ‘n Triton te toets en hierdie keer was dit die topmodel, die dubbelkajuit, 4×4 met ‘n turbodieselenjin. Wat buitengewoon vir ‘n toetsvoertuig was, was die feit dat ook toegerus was met ‘n baie netjiese kappie wat dieselfde kleur as die res van die bakkie was. As die bakkie in vakansietyd aangekom het, sou daar beslis ‘n rit na die Kalahari gewees het om weer ‘n slaggie gemsbokke in die duineveld  te gaan groet.

Die Triton is ‘n deeglike en beproefde 4×4 voertuig wat enige harde en rowwe terrein kan sagmaak sonder dat die insittendes die harde en stamperige rit mooet ervaar wat soms by sulke voertuie gevind word. Natuurlik is daar ook ‘n laestrekratkas wat maak dat, saam met die normale vyfgangratkas, daar uit tien ratverhoudings gekies kan word om ‘n betrokke stuk pad, bos of hindernis suksesvol te oorkom. Op hierdie gebied staan die Triton geen tree vir enige van sy teenstanders uit Japan of Europa terug nie.

Die hart van die Triton is die vier-silinder, turbodiesel enjin wat 2 477 cc verplaas en teen 4 000 rpm 131 kW ontwikkel. Teen 2 000 rpm is daar ‘n baie gesonde 400 Nm wringkrag beskikbaar; dié soort krag wat jy teen lae spoed teen heuwels en hindernisse en oor los klippe nodig het. Hierdie krag word verkry deur die gevorderde  rekenaarskyfie in die swart boksie want dieselfde enjin lewer in die gewone bakkie 100 kW en 314 Nm teen presies dieselfde enjinsnelhede.

Daar was geen turbotraagheid by die Triton te bespeur nie en die bakkie sal binne 12 sekondes van 0-100 km/h versnel as dit moet en sal die naald laat draai by ‘n kilometer of wat minder as 180 km/h; as dit moet, kan hy! Volgens Europese spesifikasies is sy CO2 vrystellings 204 gram per kilometer.  (Hierdie wakker enjin is in ander markte ook in die ClubCab (1+1/2 – model) formaat beskikbaar).

Die Triton is ‘n klaargemaakte 4×4 wat al die gerief van sedanmotors aanbied met ‘n uitstekende klankstelsel, lugreëling, elektriese vensters en dan natuurlik ook al die veiligheidseienskappe waaraan ons gewoond geraak het, dinge soos lugsakke voor en ABS-remme. Die tol wat die Triton eis is natuurlik ‘n kort bak agter wat inherent is aan alle dubbelkajuite.

Ook die binneruim van die Triton bied ‘n eenvoudige dog funksionele ontwerp.  Die goed ontwerpte, indien verouderde, instrumente paneel komplementeer die res van die afwerking wat met duursame viniel toegerus is. Selfs op ‘n uiters stamperige grondpad skep die Triton ‘n gevoel van stewigheid met geen hoorbare teken van enige geluid wat dui op ‘n los onderdeel erens nie. Die stuurwiel se hoogte kan verstel word vir ‘n gemaklike rit terwyl daar baie stoorruimte in die paneekkissie is wat aangevul word met ruimte in die binnepanele van die deure.

Wat kos hierdie geharde diamant, sonder ‘n kappie? ‘n Harde N$419 900 in kontant (as daar nie om afslag gekibbel word nie. In ruil kom hy met ‘n 3 jaar/100 000 km waarborg en ‘n 5 jaar/70 000 diensplan. Diensintervalle is elke 10 000 km.

Leave a Comment