Winskoop van die jaar
Drie maande moes ek wag voordat ek my beurt in Nissan se nuwe 370Z gekry het; en sy opgewonde aanhangers het nie gejok nie. Dit is ‘n fantastiese sportmotor, en hy’t sopas nog ‘n aanhanger gekry!
Die nuwe model is meer aggresief geteken as sy 350Z voorganger, die (Bi-Xenon) voorligte en die agterligte lyk baie opwindend en sy aantreklike lyne word ondersteun deur ‘n lae dak en vet heupe wat ongelooflik mooi 19-duim wiele bedek.
Aan die binnekant is daar ook veranderings soos ‘n moderne stuurwiel (met klank, foon en spoedbeheer knoppies), en ‘n uitstekende 6-CD / mp3 BOSE klankstelsel. Kragstuur, elektriese vensters en spieëls, klimaatbeheer, 6 lugsakke, en ander tegno-dinge is ook almal hier.
Die kajuit se afwerking bestaan uit ‘n goeie mengsel van swart plastiek en leer, met ‘n groot paneelkissie in die middel van die instrumentebord. Drie instrumente, insluitende ‘n digitale horlosie sit bo in die middel van die groep en is op die bestuurder gerig.
Jy sal vinnig gemaklik in die elektries-verstelbare en verhitte sport-sitplek voel, en die stuurwiel beweeg saam met die 3 hoof-instrumente op of af. Dit is ‘n baie goeie konsep, Nissan! Die dik toereteller met sy rat-posisieskerm sit in die middel, met die 280 km/h snelheidsmeter regs, en ‘n temperatuur / brandstof / digitale informasie skerm aan sy linkerkant.
So hoe voel hy om te bestuur? Sit die sleutel in ‘n gleuf, trap die koppelaar, en “kyk vir my, druk die knoppie”. Die groot V6 enjin word met ‘n metaal-geluid wakker en bedaar tot ‘n wonderlike diep 6-silinder klank. Hy sing ‘n sagte V6 liedjie by lae toere wat maklik deur die uitstekende klankstelsel of die bande/pad se geraas oortref word.
Die veringstelsel is deksels hard, nes die bewegings van die ratwisselaar en stuurwiel. Laasgenoemde toon baie skerp reaksies vir slegs die kleinste beweging, en die ratkas sal enige bestuurder help om bietjie spiere te bou.
Nee wat, hierdie is nie ‘n gemaklike manier van beweeg nie, hy soek ‘n outjie (of vroutjie) wat graag wil wérk aan hul ervaring agter die stuurwiel. As jy wil, kan die 370Z stadig deur die dorp beweeg, maar vir my was dit ‘n ongemaklike gehuppel en my linkerhand was na ‘n paar dae effens seer.
Gelukkig kan mens gou na die hoër ratte skakel en die Nissan 3.7 liter V6 se 363Nm wringkrag misbruik. Dit sal ook beter wees vir die motor se brandstofverbruik; die rekenaar het my van ‘n gemiddelde 13.5 L/100km verbruik beskuldig.
Meneer 370Z is effens dors, maar dit hang af van jou interaksie met die versneller. O ja, en die ratkas se fantastiese “SyncroRev Match” sisteem! Skakel dié hulpmiddel aan en die 370Z sal jou bystaan as jy ‘n rat terug skakel.
Sodra jy ‘n laer rat kies, skiet die enjin se toere na die perfekte nommer vir die uitgesoekte rat, en jy kan die koppelaar vrystel. Dit voel nie net indrukwekkend nie, dit lyk én klink ook so. Dus verseker ek almal dat die 370Z gevolglik die meeste bestuurders in spoedvrate sal verander.
As daar een van hierdie pragtige sport-motors by jou verbyskiet, blameer dit nie dadelik op die arme bestuurder nie. Die 370Z is gebou vir spoed, hy sal stadige of sagte bewegings nie duld nie, en is propvol tegnologie (en 245 kW of 333 pk) wat vir jou wag om voet neer te sit.
Sy verrigting is uitstekend, die fris V6 trek by enige toere vorentoe, maar die mees indrukwekkende ervaring is oop-ketel versnelling deur die eerste paar ratte. Die 3.7 liter se blaf verander in ‘n diep brul, al die pad na 7 500 toere met ‘n rooi flikkerlig vir die laaste 500.
Die Nissan 370Z bestuurders en passasiers sal die motor se klipharde veringstelsel begin waardeer as hy spoed optel; hy is nog steeds hard en effens senuweagtig maar die wieltol- en stabiliteits-beheer is altyd daar om die meer dapper bestuurders te help.
Mens voel die enjin se dreun en vibrasies deur die stuurwiel, ratskakelaar en sitplekke, en die hardnekkige ratkas begin skielik saamwerk; wat die eienskappe van ‘n regte sportmotor is. Een passassier het na ons rit te vergeefs na turbo-aanjaers onder die enjinkap gesoek.
Ander opmerkings oor die 370Z is sy groot draai-radius, lae neus, groot deure, min bagasieplek, ‘n spaarwiel wat verruil is vir ‘n onmoontlik groot BOSE bass-luidspreker, slegte ¾ sigbaarheid, en die feit dat die meeste eienaars nie in die minste oor hierdie eienskappe sal kla nie!
Nissan se 370Z sal jou N$499 000 uit die sak jaag, en ek dink dit is elke liewe sent werd as jy ‘n suiwer sports-coupé soek. Hier is ‘n (elektronies beperkte) 250km/h motor met ‘n “wilde” V6 kragbron, intelligente 6-spoed ratkas, amper 50/50 gewigverdeling, ‘n beperkte-gly ewenaar, uitstekende toerusting, 3 jaar 100 000 km waarborg, en ‘n 3 jaar of 90 000 km diensplan. Dit is die winskoop van die jaar.