Padtoets: Nissan Qashqai 1,2 Visia

Nuwe Visie vir die Visia

Nissan het die afgelope aantal jare ‘n hele klomp grense oorgesteek met veral sy ontwerpe wat nuut en fris was, amper Frans in voorkoms. Dit is natuurlik nie toevallig nie, die Franse vervaardiger Renault het ‘n paar jaar gelede die meerderheidsaandeel in Nissan bekom toe die maatskappy so half in die knyp was.

Sedertdien het sake drasties verbeter en moes die manne uit die Ooste dikwels die Franse uit die drif uit trek. Maar die vennootskap het wat stilering en filosofie wedersyds tot voordeel van beide vervaardigers gewerk. Vandaar die dramatiese stilering van die Qashqai en ook die Juke.

Dit is nou reeds sewe jaar wat die Qashqai hier by ons bemark word en ‘n daaglikse verskynsel op ons paaie is, daar is reeds meer as 20 000 van hulle verkoop. Dit was miskien nodig om van ‘n baie goeie motor/kruismodel ‘n nog beter een te maak. Dit het Nissan nou onlangs gedoen en noem dit “innovasie wat opgewondenheid veroorsaak”!

Waar lê hierdie opgewondenheid waaroor die Nissan-manne praat? Die bakvorm is van buffer-tot-buffer gemoderniseer met ‘n nuwe Nissan rooster, LED dagry ligte, is langer en platter met rondinge om die wielnisse. Die bak is gemonteer op ‘n nuwe Nissan-Renault platform wat in ander toekomstige modelle ook gebruik kan word. Boonop word hy, soos ander modelle uit die Nissan stal, in Brittanje gemaak en is boukwaliteit van hoë gehalte.

Maar dit is aan die binnekant waar daar heelwat nuwighede is en waar kwaliteitmateriaal gebruik word; daar is verbindingspunte vir al die jongste elektroniese toerusting, die paneelbord is herontwerp en selfs die agtersitplekke is herontwerp om die menslike fisiologie te pas volgens NASA standaarde!

Die ruimte binne die volle vyfsitplek voertuig word optimaal benut en die binneruimte is nou meer as in sy voorganger. Daar is 430 liter ruimte agter die agterste sitplekke en, met die sitplekke afgeslaan, is die bakkapasiteit ‘n volle 1 585 liter.

Die heel belangrikste veranderings aan die Qashqai is egter die enjin; die 1,6 liter enjin is nou vervang deur ‘n 1,2 liter turbo-petrolenjin en die krag word na die voorwiele deur ‘n sesgang handratkas oorgedra. Die turbo ontwikkel 85 kW teen 4 500 rpm en stel ‘n stewige 190 Nm wringkrag vry teen slegs 2 000 rpm.

Is die enjin nie te klein vir die groot bak wat hy moet trek nie? Nee, dit beteken miskien meer ratwisselings om die kragkurwe te behou, maar as hy eers op spoed is, kuier hy lekker en dit met ‘n lae brandstofverbruik. Een van die redes hiervoor is die gladde lyne wat ‘n weerstandsfaktor van 0.33 meet. Hierdie vaartbelyning stel hom dan ook in staat om in binne 11 sekondes van 0-100 km/h te versnel en die naald te laat draai by 185 km/h. Brandstofverbruik met die 1.2 liter enjin behoort minder as 7,5 liter per 100/km in die algehele siklus te wees, op die oop pad aansienlik minder.

Hoe ry hy? Die beproefde McPherson mikvere voor en multiskakel vering agter laat hom soos ‘n ordentlike sportsedan hanteer en die vering is ‘n goeie mengsel van soepel en ferm.

Wat kos hierdie prettige familievoertuig met ‘n leefstylhouding? Ons toetsmodel, die 1.2 Visia, maak jou beursie ligter met N$281 900 maar dit sluit in die vyfjaar/90 000km diensplan en ‘n  6 jaar/150 000km waarborg teen inherente defekte. Met hierdie waarborg bevestig Nissan sy vertroue in ‘n handelsnaam wat vroeër jare in Suid-Afrikad roem en faam behaal het.

Naskrif: Kyk ook na die turbodiesels in die reeks en ook die 4X4 variante!

Leave a Comment