Padtoets: GWM Steed 5E 2.0 TD Xscape

Van Matroos tot Marathon-Man

Op ‘n tog terug in die verlede in 2006 in Angola het die Chinese met mag en mening die paaie, of wat daarvan oor was, met ‘n spoed begin herbou. Dit was dan ook daar wat ek bakkies wat soos ouerige Isuzu’s gelyk het, teëgekom het. By nadere inspeksie, en ‘n navraag by die Chinese werkers, was die antwoord toe gekry; die bakkies het “Sailor” geheet! En dit was die enigste bakkies wat die Chinese werkers destyds daar gebruik het.

Intussen het dinge rondom die wêreld baie verander en die Chinese het ook hier te lande hulle opwagting op groot skaal gemaak. Behalwe die gewone handelsware in die winkels, elektroniese dinge en klere in Woolworths, het die motortoneel, maar veral die bakkiebedryf, ook by ons radikaal verander.

Aanvanklik was daar ‘n paar onsuksesvolle en kortstondige nuwe Chinese motors en bakkies op die plaaslike mark beskikbaar teen pryse wat ‘n mens se mond laat water het. Kort na die eerste “inval” uit die Verre Ooste het sommige kopers dit miskien berou. Maar verandering is ‘n historiese wet, en in die geval van GWM, wat weggetrek het met die Sailor, het die produk fenomenaal verbeter. Haal al die naamplaatjies van die verskillende bakkies af, blinddoek die voornemende kliënt en neem hom vir ‘n toetsrit. Tien teen een sal hy nie kan agterkom of die ryding uit Japan of China, Duitsland of Korea af kom nie!

Dit bring ons by die GWM Steed 5E 2.0 Turbodiesel Dubbelkajuit.

Op die oog af is die bakkie vol in die kol met sy stilering, hy lyk modern, hy sit gemaklik, al die jongste elektroniese toerusting waar sonder die jongklomp nie kan klaarkom nie, is daar – die blou tand, die “aux” sok vir musiek op ‘n stokkie en dié klas van dinge. Dit saam met leersitplekke, elektroniese klimaatbeheer, volkome verstelbare stuurwiel en knoppies op die stuurwiel om die klank en ander stelsels te beheer. So ook lugsakke vir ekstra veiligheid as dinge sou verkeerd gaan.

(ABS-remme met elektroniese remversrpreiding is standaardtoerusting).  Jy kan jou misgis deur te dink dat jy in ‘n duur Duitse motor sit as jy jou gedagtes effens laat gaan. Soos hulle sê; die GWM Steed is sag op die oog, maar dis natuurlik ‘n persoonlike waarneming en ander mag verskil.

Maar hoe aard hy as bakkie?

Die hart van die Steed 5 is die 2-liter turbodiesel wat 105 kW ontwikkel teen 4 000 rpm en 305 Nm tussen 1 800 en 2 800 rpm vrystel. Hierdie krag word deur ‘n sesggang handratkas na die agterwiele oorgedra soos dit ‘n ware bakkie betaam. Volgens GWM kan ‘n suinige 8,3 l/100 km verwag word as daar nie uitspattig gery word nie en sal die naald op 150 km/h gaan draai as dit die slag moét. Hoewel die wringkrag teen minder as 2 000 rpm moet inskop, is dit egter nodig om die toere maar so ‘n bietjie op te jaag as daar verwag word dat die perd so ‘n bietjie ekstra skop moet insit. Sesde rat is moontlik te hoog gerat en is slegs handig as ‘n snelrat op die oop pad om die enjintoere laag te hou en diesel te spaar.

Voor word McPherson mikvere gebruik met tradisionele bladvere agter. Verder is daar, vanselfsprekend, kragstuur en 16” allooiwiele om die prentjie af te rond. Finale uitspraak: ‘n Netjiese bakkie, finish en klaar.

Maar hoe ry hy? Hoe harder ‘n bakkie geveer is, hoe meer doeltreffend is hy as ‘n vragdraer. Maar as daar net passasiers in is en die laaibak is sonder vrag? Om dit sag te stel; die vering is hard! Aangesien die toetsmodel die 4X2 dubbelkajuit was, raak die ritvermoë vir die passasiers nogal belangrik. Wat het hulle te sê gehad? ‘n Passasier wat eers agter gesit het, en daarna voor gesit het, het die opmerking gemaak dat die rit vóór in die bakkie minder stamperig is as tussen die twee aste agter. Ek glo hom. As die teerpad glad is, ry die Steed soos ‘n droom. Maar op slegte teerpad is dit ‘n perd van ‘n ander kleur. Dit geld waarskynlik ook vir grondpaaie; hoe gladder die oppervlakte is, hoe beter. Ons glo egter dat indien daar werklik ‘n aansienlike vrag op die bak was, die rit baie meer verfynd sou wees.

Wat kos hierdie stoetperd uit die Ooste? Teen N$274 900 is hierdie luukse bakkie goed geprys as jy al die “ekstras” (eintlik luukse toerusting) in ag neem. Hierby is ‘n waarborg van 5 jaar of 100 000 km ingesluit. ‘n Diensplan vir 5 jaar of 60 000 km is teen ‘n bybetaling beskikbaar.

Klink dit te veel? Daar is ook die meer basiese model waar die leersitplekke en die raakskerm en ander nie-noodsaaklike items weggelaat is maar die kern-veiligheidseienskappe steeds teenwoordig is, vir N$259 900 beskikbaar. Hierdie een sou my keuse wees en dan die gespaarde geld gebruik om ‘n ewenaarslot te installeer.

Leave a Comment