Padtoets: Nissan Qashqai Acenta dCi

Langpad Lanie

Nissan se Qashqai was sedert sy bekendstelling in 2009 baie gou ‘n sukses en het al oor die 2 miljoen verkope wereldwyd gehad. Dit was Nissan se eerste sogenaamde “Crossover” of kompakte SNV (Sportsnutvoertuig). ‘n Nuwe Qashqai het verlede jaar op die Suid-Afrikaanse mark verskyn en met die eerste oogopslag is dit duidelik dat Nissan weer ‘n wenner beet het.

Die nuwe Qashqai se lyne is meer modern en die voorkant meer aggressief maar nog steeds onmiskenbaar met die tipiese Nissan sierrooster.

Die nuwe generasie Qashqai voldoen aan ‘n hele paar belangrike kriteria wanneer ‘n koper ‘n nuwe voertuig oorweeg: dit is ‘n ruim voertuig vir ‘n gesin, dit is gemalik en het genoeg krag vir die langpad en daarby is dit lekker lig op brandstof en beskik oor van die nuutste tegnologie binne om die insittendes se rit aangenaam te maak.

Daar is hele aantal variante om van te kies. Dit sluit drie enjins, ‘n 1,2 liter turbo petrol, ‘n 1,5 liter diesel en ‘n 1,6 liter diesel in. Dan is daar ook twee afwerkingsvlakke, naamlik die Visia en die Acenta. Die Acenta met die 1,6 liter diesel kan met outomatiese ratte of met vierwielaandrywing gekies word. Ongelukkig nie beide nie.

Die toetsmotor was die Acenta met die 1,5 liter turbodiesel. Die Acenta word verkoop met heelwat moderne toerusting soos elektriese voor- en agterdeurruite, verstelbare stuurwiel, ‘n stuurgevoel wat aanpas by spoed en ‘n keuse van sport of normale modus. Spoedbeheer is ook standaard. Verder is die Qashqai toegerus met ‘n CD/radio klankstelsel wat vanaf die raakskerm beheer kan word.

Daar is ook nog ‘n keuse van twee pakkette om meer toerusting by te voeg en ook die motor mooier te laat lyk. Dit is die sogenaamde “Design Pack” wat uit 19 “ allooi wiele, dakrelings en donker ruite bestaan. Verder is daar die “Techo Pack” wat navigasie en ‘n trukamera insluit. Die trukamera het, behalwe die beeld na agter, ook ‘n beeld van bo wat die area voor, agter en aan die kante van die kar vertoon.

Dit kan ook met jou slimfoon koppel.

As jy van voornemens is om meestal teerpaaie te ry, is die 19 duim wiele met die lae profiel bande ‘n goeie opsie. Dit gee aan die Qashqai ‘n ferm rit maar daarmee saam ‘n uitstekende en sportiewe padhouvermoë. Die standard 17” wiele met die hoër profiel sal meer geskik wees as jy van plan is om meer grondpaaie te ry.

Soos deesdae die geval is, is die enjins kleiner as die vorige model, maar al die enjins het nou hulp van turbo-aanjaers, ‘n petrol eenheid van 1,2 liter en twee turbodiesels van 1,5 liter  en 1,6 liter onderskeidelik. Belangrik is egter is dat die reeks nuwe enjins almal meer effektief en ligter op brandstof is as die enjins in die vorige model. Die 1,5 turbodiesel enjin van die toetsmotor was verbasend stil vir ‘n diesel – veral binne die motor.

Die 1,5 liter diesel eenheid is ‘n goeie voorbeeld van die wêreldwye gebruik van kleiner enjins met minder skadelike uitlaatgasse. Dit ontwikkel 82kW en 260Nm wringkrag vanaf so min soos 1 750 rpm. Dit is laasgenoemde syfer wat die Qashqai so lekker gemaklik op die oop pad maak. Jy kan kilometer na kilometer in sesde rat ry en hoef slegs na vyfde rat terug te skakel wanneer ander voertuie verby gegaan word. Verder weet jy dat jy maklik tussen 1 000km en 1 300km kan ry sonder om te stop vir brandstof met die Qashqai se 65 liter brandstoftenk.

Die Qashqai is ook toegerus met al die moderne veiligheidshulpmiddels soos stabiliteitsbeheer, ABS, vastrapbeheer, hulp om teen opdraande weg te trek, en ses lugsakke.

In meeste aspekte is die nuwe Qashqai ‘n verbetering op die gewilde vorige model en sal ‘n goeie koop wees indien jy van plan is om ‘n kompakte SNV aan te skaf. Die Ford Kuga, VW Tiguan en Kia Sportage is egter ook van die ander fabrikate wat oorweeg kan word.

Pryse van die Qashqai wissel van N$287 500 vir die goedkoopste 1,2 liter turbopetrol model tot N$421 700 vir 1,6 liter diesel met vierwielaandrywing. Die toetsmotor se koste is N$338 800 plus N$29 600 vir die twee ekstra opsies.

Nissan verskaf ‘n waarborg van 6 jaar of 150 000km plus ‘n 5 jaar of 90 000km diensplan.

Leave a Comment