Duursame, dog opwindende verrassingspakki
Vier jaar nadat die Opel Adam by die 2012 Parys Motorskou bekend gestel is, kan ons duidelik sien dat die klein stadsmotor ‘n gewilde kopie is. Vernoem na die vervaardiger se stigter, Adam Opel, het hierdie motor in talle mense se harte ingekruip. Op Europese grond het Opel immers oor die 45 000 Adams in die eerste vervaardigingsjaar verkoop.
Daar kan gesê word, altans in ‘n Europese konteks, dat die Opel Adam veral by ‘n vroulike teikenmark aanklank gevind het. Hierdie opinie is bevestig toe ek ontdek het dat talle van my eie vriendinne hierdie motor aangeskaf het.
Die Adam is egter van plan om hierdie statistiek om te keer met die splinternuwe Opel Adam S, die derde weergawe van hierdie klein stadsmotor, op Suid Afrikaanse paaie. Met die eerste oogopslag kan die sportiewe karkater van hierdie kar reeds waargeneem word.
Op die oog af is die 18-duim, sportiewe wieldoppe en lae profielbande, asook ‘n drukvlerk agter op die dak, duidelike kenmerke van hierdie buksie. As daar meer deeglik gekyk word, sal die bloedrooi OPC remskoene, ‘n meer ‘lywige’ bakwerk en natuurlik ‘n chroom uitlaatpyp opgemerk word. Indien hierdie nie genoeg is om jou te oortuig nie, sal die kenmerkende ‘S’ teken onder die agterste kajuitvensters, jou dalk van gedagte laat verander.
Sodra daar in die kar geklim word, kan die bestuurder hom- of haarself met gemak in die voorste sportsitplek tuismaak. Weereens word jy herinner aan hierdie motor se bedoelings wanneer jy die “S” teken op die voorste panel, sowel as die rooi gekleurde ratkop raaksien. Tweedens kom die Adam S ook met dieselfde tegnologiese- en veiligheidsraamwerk as sy ouer broer, die Opel Adam Jam, uit.
Hierdie behels onder andere ‘n gemaklike “bluetooth” oftewel die “Opel Inch IntelliLink” sisteem vir jou IOS of Android pakket, klimaatbeheer, stuurwiel hoogte en strekbeheer, elektriese vensters en ‘n parkeringsisteem om die bestuurder te help parkeer en te waarsku indien enige voorwerpe naby mag wees.
Indien jy enigsins van plan is om ‘n bejaarde familielid te akkomodeer in die nuwe sportvoertuig, sal dit wenslik wees om die persoon eerder voor te laat sit. Die Recaro voorsitplek behoort baie gemaklik te wees. Die probleem ontstaan wel as jy enige persoon agter wil laat sit.
Soortgelyk aan die vorige Corsa modelle, kan dit ietwat moeilik wees om die voorste stoele (en veral die Recaro sportsitplek) na vore te slaan en op te skuif. Indien een van jou passasiers ‘n kleinerige blaas het, en julle gaan langpad ry, laat hom of haar dus maar eerder voor sit!
‘n Oomblik van ekstase tref die bestuurder sodra die sleutel gedraai word en die 1.4 turboaangedrewe enjin ontwaak. Alhoewel net ‘n klein 4 silinder kragopwekker, kan hierdie nogal verleidelik wees. Met 110kW en 220 Nm beskikbaar gaan jy definitief nie ‘n rustige spoedtoets hê nie. Die Opel Adam versnel van 0-100 km/h in 8,5 sekondes. Alhoewel stadiger as die kompeterende Fiat 500 Abarth, is hierdie ‘n aksiebelaaide 8 sekondes.
Met so ‘n klein enjin en met ‘n relatief stadige 0-100, lê hierdie motor se fokuspunt nie in ‘n reguit lyn nie, maar eerder waar die paaie ietwat mag kronkel. Weens ‘n sterker fokus op die Adam se suspensie en ‘n lae algehele gewig, kan hierdie motor baie gerieflik en effektief deur knap draaie skiet en ook sy spoed deur die draaie behou.
Nes die sportiewe natuur van hierdie motor ‘n stewige en ratse klein buksie maak, het dit ook natuurlik ‘n rustige rit in die stad tot gevolg. Die laeprofiel- bande en harde vering maak dit baie moeilik om ‘n stabiele en sagte rit te hê in jou algemene Suid Afrikaanse stedelike omgewing.
Waarmee ons egter baie verras is, is die gemak op die langpad. ‘n Sesgang ratkas laat toe dat die bestuurder in redelike lae rewolusies kan ry, wat uitermate ook die kar baie gemaklik maak. Padgeraas mag met tye ietwat steur, maar hierdie is ook minimaal in vergelyking met ander laeprofiel sportmotors in hierdie klas. Dit sluit aan by die statistiek dat die voertuig net 5,9 l per 100km verbrand.
Jou banksake sal egter hersien moet word indien jy sou besluit om hierdie motor te koop. Teen N$330 000 is hierdie definitief nie ‘n winskopie nie. Maar dit sluit ‘n 5 jaar/120 000 km waarborg asook ‘n 3 jaar/60 000km diensplan in.
Die Opel Adam S is nie ontwerp om op ‘n Sondag rustig deur die systrate van ‘n plattelandse dorpie te kruie nie. Die S se teikenmark is vir die individu wat sou verkies om op ‘n daaglikse basis met ‘n glimlag by die werk aante kom. Alhoewel die voertuig ook nie gepas is om jou jaarlikse kersboom te vervoer of langpad-bagasielading te akkomodeer nie, is dit wel verrassend gemaklik om ver te ry – en vinnig!
Performance:
0-10km/h: 0,40 seconds
0-20km/h: 0,93 seconds
0-30km/h: 1,46 seconds
0-40km/h: 1,95 seconds
0-50km/h: 2,88 seconds
0-60km/h: 3,72 seconds
0-70km/h: 4,52 seconds
0-80km/h: 5,78 seconds
0-90km/h: 7,02 seconds
0-100km/h: 8,19 seconds
0-110km/h: 9,61 seconds
0-120km/h: 11,63 seconds
0-130km/h: 13,45 seconds
0-140km/h: 15,64 seconds
0-100m: 6,77 seconds @ 87,76km/h
0-200m: 10,30 seconds @ 114,16km/h
0-300m: 13,27 seconds @ 128,90km/h
0-400m: 15,93 seconds @ 141,36km/h
Maximum acceleration G-force: 0.59G
Altitude: 65m
All data captured by Racelogic® Performance Box