Padtoets: Opel Astra 1.4 Turbo

Europese Ster-Skip kom land

As ek reg onthou, was die ruimtetuig in ‘n destydse tv-reeks se naam Galactica, of so-iets; die storie waarin die kaptein met die spits ore gespeel het. Hoe daarby uitgekom? Die naam Astra het beslis iets te doen met sterre en futuristiese stories. En die nuwe Opel Astra hier te lande is een wat beslis met ‘n oog op die toekoms ontwerp is.

Kort voor die bekendstelling van die nuwe reeks op die plaaslike mark, wat modelle van 1,4 tot  1,6 liter insluit en in beide gewone en turbo-aangejaagde weergawes beskikbaar is, het ons twee weke lank meer as 2 000 km met die 1,4 Turbo op Duitse paaie afgelê; vanaf die haastige Autobahn tot slingerende klein landelike paadjies.

Die eerste indrukke van die (bloedrooi) Astra was dat hy op die oog af  onder die voorstes tel wat lyne betref. En as dit miskien nie die voorkant is wat indruk maak nie, is dit wel die stertkant van die luikrug wat die beeld gee dat hy inderdaad ‘n haastige man is. Dit is ook hierdie deel van die Astra wat ander motoriste miskien meer sal sien as die voorkant! (GM se mense noem dit ‘n “atleties-gebeitelde ontwerp” wat dinamiese verrigting belowe. En hulle is in die kol met hierdie stelling).

Die binneruim van die Astra is ruimer as dié van sy voorganger en die afwerking staan nie ‘n aks terug vir die ander Duitse vervaardigers nie. Die sitplekke ondersteun op al die regte plekke en is verstelbaar om die korrekte rugsteun te verskaf. Hierdie eienskap het om dan ook ‘n toekenning van Duitse artse besorg; nie een keer het ons van ‘n seer rug kon kla nie al was daar van die ritte wat lank en vinnig was.

Maar deel van die gemak van die nuwe Astra was natuurlik te danke aan die ten volle verstelbare vering-opsies wat hy bied. Met die druk van ‘n skakelaar gaan die vering in ‘n “sport” of  “tour” modus, danksy Opel se Flexride aanpasbare elektroniese veringstelsel. Met wederhelfte langs my het ons die grootste deel van die toer in die “normale” modus afgelê! Maar die “sport” modus werk goed op die klein turbo-model om sy hantering nog verder te verbeter.

Die kattebak is ruim genoeg om vier volwassenes se bagasie te dra – al is twee van die vier ook vrouens! Verder was die toetsmotor toegerus met ‘n uitstekende klankstelsel gekombineer met ‘n navigasiestelsel. Nog ‘n handige luukse was die sitplekke wat kan verwarm – en help om rumatiekpyne te verminder. Of dit ons klimaat regtig nodig is, is ‘n ope vraag.

Hoe gedra die klein 1,4 Turbo, met sy ses-gang handratkas, hom op die pad?

Met die nuwe neiging onder Europeërs om liewers kleiner enjins te gebruik en dan turbo-aanjaging te gebruik om verrigting te verkry, moet ‘n mens eers aan die konsep gewoond raak. Dit beteken dat die enjintoere meer as gewoonlik gebruik moet word om maksimum verrigting te verkry. Maar die entoesias sal dit in elk geval geniet om die ratte van die een na die ander deur te raps totdat die sesde een bereik word.

Die groot voordeel is natuurlik dat die brandstofverbruik uitstekend is en dat daar minder skadelike uitlaatgasse in die atmosfeer eindig. Volgens Opel is die verbruik minder as 6 liter/100 km in die algehele siklus. Dit is 20% minder as dié van die 1,8 liter model wat hy vervang – en albei ontwikkel 103 kW. (Al die windgenerators in die talle windparke in Duitsland maak ‘n mens baie bewus van die groot skaal waarop hierdie probleem by die horings gepak word en wat die impak van die Groen-Beweging in Europa het). Vir ons was die suinige brandstofverbruik natuurlik ook goeie nuus met brandstof wat meer as dubbeld so duur is as in Suid-Afrika.

Vir die rekord: Die 103 kW van die 1 364 cc enjin word teen 4 900 rpm ontwikkel en daar is 200 Nm beskikbaar tussen 1 850 – 4 900 rpm.

Van watter hoek jy ook al na die nuwe Astra kyk, iewers gaan hy indruk maak; as dit nie op die uiterlike is nie, gaan die binneruimte dit doen of die tegnologie wat ekonomie beklemtoon sonder dat kraglewering regtig daar onder ly. Opel is lank nie meer die stereotipe “gewone gesinsmotor” nie; daardie “gebeitelde” stilering tel sterk in sy guns en Opel se reputasie vir betroubaarheid laat ‘n mens weer met nuwe oë na die vervaardiger van die eerste “volkswagen”, die Kadett van 1936, kyk!

Leave a Comment