Padtoets: Peugeot 2008 ActiveHDI

Die leeu word al hoe sterker…

In 2014 het die Peugeot 2008 sy buiging op die plaaslike mark gemaak en het ek ná die persbekendstelling geskryf dat die Leeu van Afrika uiteindelik weer terug is met ‘n model wat aanklank gaan vind by baie kopers. Dit het my herinner aan my 204-stasiewa waarmee ek in die jare sestig Malawi en Mosambiek se rowwe grondpaaie deurkruis het en die gedrag van die Fransman dit soos teerpaaie laat voel het.

Intussen het die 2008-reeks ‘n vernuwing aan die buitekant ondergaan soos ‘n nuwe “sterker” sierrooster. Belangrik ook; die Leeu-embleem van Peugeot is terug op die plek waar hy al die jare was; nie op die enjinkap nie maar op die rooster! Die mees indrukwekkende verandering is egter nie van buite af sigbaar nie; die toevoeging van turbodieselenjins tot die reeks. Die goeie nuus gaan nog verder; in 2014 was die prys van die 1,6 liter petrolmodel N$269 900; die nuwe intree-dieselmodel is N$274 900! Hierdie weergawe was die een wat ons getoets het.

Die ander modelle in die nuwe reeks is die Allure dieselweergawe met ‘n paar ekstras wat die prys laat opgaan na N$299 900 en die outomatiese modelle wat aan die nuwe 1,2 liter turbopetrolenjin gekoppel is. Die pryse begin dan te styg vanaf N$324 900 tot N$349 900 vir die GT-weergawe – wat ook die vlagskip van die reeks uitmaak.

As die 2008 nie by ons ‘n blitsverkoper was nie, was dit wel in die wêreldmark, veral in Europa. Sedert sy bekendstelling in 2013 is nie minder nie as ‘n driekwartmiljoen van hierdie nutsvoertuie verkoop.

Die binneruimte en sitplekke weerspieël die tradisionele gemak en funksionele uitleg van instrumente en hefbome en is die binne-afwerking gekenmerk deur ‘n kombinasie van materiaal en kunsstof, op die duurder modelle is daar ‘n kombinasie wat leer insluit. Verder is daar Bluetooth-aanpasbaarheid, USB en addisionele klank-optelpunte en ‘n goeie radio met verskeie luidsprekers. Opvallend is die groot 7-duim raakskerm. Die instrumente is ook herrangskik in wat Peugeot ‘n i-Cockpit noem. Hiermee word bedoel instrumente wat bokant die stuurwiel gelees kan word vanweë die gebruik van ‘n kleiner stuurwiel.

Die dieselenjin verplaas 1 560 cc en ontwikkel 68 kW teen ‘n maksimum enjinspoed van 4 000 rpm. Die indrukwekkendheid van die enjin is egter die 230 Nm wat vanaf 1 750 rpm beskikbaar is. (Die 1,2 petrolenjin doen eintlik relatief beter in een opsig; die wringkrag is reeds teen 1 500 rpm beskikbaar maar die wringkragsyfer is laer). Hierdie voortreflike enjin is gekoppel aan ‘n 5-gang handratkas wat die 2008 vanaf 0-100 km binne 11,5 sekondes laat versnel en die naald laat draai by 181 km/h.

Die mooiste van hierdie Peugeot is die suinige brandstofverbruik. Die vervaardiger geen ‘n gemiddelde verbruiksyfer van 4,7 liter/100 km aan. Op ons toetsmodel het die elektroniese brein getoon dat die algehele verbruik tot op daardie stadium net oor die 5 liter/100 km was maar daar moet in gedagte gehou word dat die meeste motorjoernaliste berug is vir swaarvoet ry! ‘n Nuttige brandstofbespaarder is die af/aansluitfunksie van die enjin as daar by ‘n verkeerslig in neutraal geskakel word. Wanneer die koppelaar getrap word om eerste rat te skakel, skakel die enjin outomaties weer aan.

Praktiese toerusting is die wegtrek-hulp wat die motor vir ‘n sekonde of twee laat stilstaan teen ‘n bult voordat weggetrek word. So ook die wisselbare pakruimte wat normaalweg 410 liter is maar vergroot kan word na 1 400 liter as die agterste sitplekke platgeslaan is.

Vanselfsprekend is al die nuutste veiligheidseienskappe aanwesig; ABS remme met EBS beheer en lugsakke as die ergste sou gebeur. Alles is daar.

Die mees waarskynlike teikenmark vir die 2008 is die jonger, professionele groep wat styl waardeer, moontlik reeds kinders het maar wat ook spasie soek vir die bergfiets binne in die laairuimte.

Die 2008 is geskoei met 16-duim wiele en die grondvryhoogte is ‘n dienlike 165 mm.

Van die talle opsionele ekstras wat beskikbaar is, is die verskeidenheid van dakrakke waarop ‘n fiets monteer kan word as asook die fiets-drarak agter die motor. Praktiese dinge wat vir avontuurlike families belangrik is.

Met die 2008 het Peugeot ‘n goeie kans om sy verkoopsyfers weer te laat groei.

Vir die N$274 900 wat die koper gaan betaal vir sy nuwe 2008 otvang hy in ruil ‘n 3-jaar/45 000 km diensplan en 3-jaar/100 000 km fabriekswarborg.

Leave a Comment