Padtoets: Peugeot 207

Opgekikkerde Peugeot 207

Peugeot se nuwe 207 is amptelik einde September in Suid-Afrika bekend gestel en het ‘n aantal verbeteringe ondergaan waaronder ‘n opkikkering met ‘n vars nuwe voorkoms. Peugeot het ook die 207-reeks se modelbenamings verander. Die vorige XL-, XR- en XS-benamings staan nou as Urban, Active en Dynamic bekend.

Na die klein veranderinge is die voorkoms van die motor nog steeds onmiskenbaar ‘n 207 met ‘n moderne voorkoms en ‘n baie skuins en diep voorruit. Die subtiele veranderings is net  genoeg om die 207 nog ‘n paar jaar nuut te laat lyk. Die sierrooster is selfs effe  groter, maar is smaller gemaak met twee kleiner lug inlate aan weerskante.

Agter is daar nuwe, gevorderde stertligte wat gebruik maak van liguitstralende diodes (LED) – ’n tegnologie wat nie gewoonlik in hierdie laer marksegment aangetref word nie. Die 15 diodes sorg vir meer doeltreffende liguitstraling, en lyk ook besonder aantreklik. Die Peugeot 207 is net in luikrug-weergawes beskikbaar.

Aan die binnekant is min verander maar is nou meer gebruikersvriendelik. Die lugkontroles kan met die druk van ‘n skakelaar ge-aktiveer word. Die koue en vars lug word met die draai van ander knoppe beheer. Die flikkerligte het twee maniere waarop jy dit kan gebruik; as jy die armpie liggies tik, dan flikker die ligte net drie keer soos byvoorbeeld as jy van baan wil verander op ‘n snelweg of wanneer jy ‘n ander voertuig wil verby steek.

Die intrumentepaneel is ergonomies doeltreffend ontwerp en, soos met sy voorganger, is gehalte duidelik te sien. Verder het die goedkoopste 207 (Urban) ‘n redelike lang lys van standaard toerusting wat nog hoër is as die vorige 207.  Daar is klimaatbeheer in al die 1,4 liter modelle en hulle het ook elektriese vensterruite voor. Die voorste sitplekke kan op en af verstel word en die stuurwiel vir hoogte en diepte. Soos deesdae die gebruik is die digitale inligting in die middel van die instrumentepaneel geplaas en die snelheidsmeter en toereteller reg voor die bestuurder.

Vir veiligheid op die pad is die 207 toegerus met ABS (met EBD) remme asook noodremhulp (EBA). Die 1,4 liter modelle is almal met staalwiele en ‘n volgrootte spaarwiel (185/65 R15) toegerus. ‘n Ander belangrike veiligheidskenmerk wat ook in al meer motors aangetref word, is dat die deure vanself sluit sodra jy begin ry. Sentrale sluiting is standaard op al die modelle en ‘n elektriese kindersluitstelsel op die Active (70kW) weergawe. Daar is twee lugsakke voor op die twee goedkoper (Urban) modelle en addisionele kant lugsakke op die duurder model.

Daar is twee weergawes van die 1,4 liter enjins om van te kies. Die goedkoopste model, die Urban, se enjin ontwikkel 54kW teen 5 400 rpm en 118 Nm teen 3 300 rpm terwyl die meer luukse Active ‘n  1,4 liter enjin met veranderbare kleptydreëling (VVT) het. Dit stoot die kragvlakke op na 70 kW teen 6 000 rpm met 136 Nm beskikbaar teen 4 000 rpm.

Die weergawe wat ek op ‘n toetsrit na die Boland en en Breërivier-vallei kon ry was die 54 kW 1,4 liter vyfdeur luikrug. Getrou aan die tradisie van Peugeot stel die nuwe 207 se rit op die oop pad nie teleur nie. Oor die Franschhoekpas het die klein enjin min gepla en ongelyke padoppervlakke word gemaklik uitgestyk deur die 207 se veerstelsel. Uit die aard van die relatief lae kraglewering kan daar nie vonke verwag word nie, maar as jy meer krag wil hê dan sal jy meer moet betaal. Op die oop pad het hierdie swakker enjin nie so gou uitasem geraak soos wat ek verwag het nie, waarskynlik omdat die 54 kW enjin sy maksimum wringkrag (118 Nm) teen ‘n relatief lae 3 300 rpm ontwikkel wat meehelp dat jy teen ‘n laer enjin snelheid in hoër ratte kan ry.

In die stad is hy natuurlik ideaal, veral met die opsie om die stuuraksie makliker te maak met die druk van ‘n knoppie.  Verder is die 207 lig op brandstof en 7/100km kan maklik behaal word.

Volgens die vervaardiger is die brandstofverbruik 6,4 l/100 km vir die 54kW enjin. (5,9 vir die 70kW enjin)  met ‘n brandstoftenk wat  55 liter kan hou. Die motor kan van 0-100 km/h in 12,6 sekondes versnel en ‘n maksimun snelheid van 178 km/h haal. Kragtiger 1,6 liter petrolmodelle is op pad en ook ‘n turbodiesel.

Die volledige reeks, kraglewering en pryse is as volg:

  • 207 Urban 1.4 3-deur | 54kW@5400 en 118Nm@3300 | N$150 000
  • 207 Urban 1.4 5-deur | 54kW@5400 en 118Nm@3300 | N$157 000
  • 207 Active 1.4 VVT 5-Deur | 70kW@6000 en 136Nm@4000 | N$170 000

Alle Peugeot 207-modelle word voortaan deur ’n diensplan van 4 jaar/60 000 km en ’n waarborg van 3 jaar/100 000 km ondersteun, terwyl die Peugeot Assistance-padbystand ook by die verkoopprys ingesluit is.

Leave a Comment