Padtoets: 2009 Chevrolet Lumina SS

Die Chev Lumina SS bult nog meer spiere.

Soos daar sekere dinge, gebeure en verskynsels in die lewe is wat wetmatig vasstaan en waaraan daar nie veel verander of gedoen kan word nie, so sal daar altyd in die wêreld van motorentoesiaste argumente gevoer en vergelykings getref word oor die voordele en nadele van die verskillende make en modelle.

‘n Man se motor is, soos hopelik ook in die geval van sy vrou, sy trots en sal hy staan of val by sy of haar deugdes en voordele.  Die negatiewe dinge sal hy tien teen op sy eie tyd en plek kontempleer en dan maar voorlopig probeer om te vergeet daarvan.

By die Chevrolet se Lumina SS is daar sekere aspekte en karaktertrekke van hierdie pragmotor waaroor daar nie te onderhandel is nie.  Hierdie is ‘n stuk ingenieursvernuf wat die koppe laat draai en oneindige bestuursgenot verskaf.  Die Lumina is ‘n moét vir die V8-geesdriftigte en individualis wat versot is op krag, ‘n aggressiewe vaartbelynde voorkoms en wat ook nog hope ruimte en geriewe bied vir die familie en ander huisdiere.  Die V8-enjin wat na 6-liter vergroot is klink na die veraf gerommel van donderweer wanneer brandstof deur die kanale gaan om krag na die agterwiele, vir watter doeleindes ookal, te verskaf,  Agter word uitgang aan brandstofgasse deur twee dubbele uitlaatpype aan weerskante van ‘n swart sierrooster verleen.  Tesame met ‘n  uitdagende groot drukvin is dit is dan ook hierdie agteraansig van die Lumina wat veral die brute krag en aggressie van die motor beklemtoon.

Om meer tegnies te raak:  Die Lumina SS se V8-enjin stel aan die bestuurder 270 kW teen 5700 opm en 530 Nm teen 4400 beskikbaar om dit na goeddunke aan te wend maar met dien verstande dat dit ook moeilikheid met die toepassers van die spoedwet tot gevolg kan hê.  Krag vir aandrywing van die 245/15/18dm agterwiele geskied via ‘n sesgang outomatiese of handratkas.  En hiervan gepraat – die Lumina se outomatiese ratkas moet sekerlik van die gladste en beste werkverrigting bied wat in die bedryf aangetref kan word.  Versnelling van 0-100 kmh neem slegs 6,5 sekondes vir die outomatiese model en 6,2 sekondes in die geval van die Lumina met die handratkas.  Topspoed word deur die vervaardigers as 238 kmh vir beide modelle aangegee.

En ja, daar word altyd tereg aangevoer dat in geval van vergelykings appels met appels vergelyk moet word.  Maar appels kan tog ook met pere vergelyk word indien funksionaliteit en persoonlik smaak in gedagte gehou word.  Daar is vroeër melding gemaak dat die Lumina ‘n motor vir die V8-entoesias is, maar die Lumina is veral vir die individualis wat nie ‘n kuddedier is en wat in baie gevalle vir slegs vir eletistiese doeleindes ‘n duur Duitse model of ‘n 4×4 aanskaf nie.  (In 80% van laasgenoemde geval word die voertuig nooit aangewend vir die doel waarvoor dit gebou is nie!)  Ja, die Lumina raak dorstig veral as jy in stadsverkeer roekeloos met die petrolpedaal omgaan.  As brandstofverbruik die enigste kriterium is vir ‘n voornemende koper is die Lumina nie die aangewese keuse nie.

Tog is ‘n brandstofverbruik van onder 15liter/100km in die stadsiklus en enigiets van 10-12liter/100 op die ooppad moontlik- afhangende van hoe haastig jy is.  En ja, daar is enjins wat vergelykenderwys meer kW per kubieke sentimeter lewer.  (Vergelyk byvoorbeeld hier Chrysler se 300C SRT-8 AT wat 317 kW teen 6000 opm uitskop, maar wil jy N$170 000 meer daarvoor betaal?)   Maar veral wat brandstofverbruik betref kan jy hier nie appels met pere vergelyk nie.  En wat maak jy met meer as 270 kW onder die enjinkap?

Wat wel vergelyk kan word is watter waarde vir geld in terme van ‘n pakket verkry word.  Gekyk na die prys van die Lumina se twee modelle wat in beide gevalle N$415 320 is, is  dit te betwyfel of daar oor die hele spektrum van make en modelle ‘n motor is wat in hierdie prysklas dieselfde of meer waarde vir geld as die Lumina kan bied.   Wat gemak, ruimte en luukse betref bied die Lumina alles wat mens van ‘n motor in hierdie prysklas verwag en vergelyk dit goed met die BMW 5-reeks en Mercedes se E-series.  Intreepryse in laasgenoemde gevalle is egter aansienlik hoër, en hierdie modelle sal heel moontlik nie in die smaak van die V8-brigade val nie!

Klimaatkontrole, elektroniese verstelde kantspieëls, elektriese vensters en  kragstuur, stuurwielkontrole vir die klanksisteem en gerekenariseerde ritinligting, afstandbeheer oor die sluitmeganismes, (hoekom die handoopmaakmeganisme van die bagasiebak in die paneelkissie?), genoegsame lugkussings en alle elektroniese rembystandmeganismes is standaard by die Lumina.

Wie gee dan om vir reënveërs op jou kopligte of verwarmde sitplekke?  In die Lumina het jy ‘n tweedoelige motor – ‘n familiemotor wat met gemak sitplek aan vyf mense bied met genoeg ruimte in die kattebak vir almal se bagasie asook ‘n motor wat menige ander motoriste twee maal sal laat dink en kyk.

Die Lumina word ondersteun deur ‘n 5 jaar/120 000 km waarborg, ‘n 3 jaar/60 000km diensplan en ‘n 5 jaar waarborg teen roes.

Leave a Comment