Padtoets: 2009 Volkswagen Golf GTi DSG

“G” vir “Giftig”

Die Volkswagen Golf GTi word dikwels as ‘n legende in die motor-industrie beskou, en ek ‘n paar dae met hom gekuier om uit te vind hoekom. Die eerste GTi uit die sewentige jare was een van die eerste “warm blitsbukse” omdat ingeneurs ‘n klein stadsmotor met ‘n hoë-verrigtingsenjin gemeng het.

Die betroubare en veelsydige luikrug het skielik hope verrigting en bestuursgenot gelewer en die GTi-legende is gebore. Hierdie resep word nog steeds gevolg met die sesde generasie van die Golf GTi; die (alreeds goeie) Golf 6 word met ‘n 210 pk 2-liter turbo-enjin in ‘n olimpiese atleet verander.

Petrolkoppe en entoesiaste was verbaas om uit te vind dat die enjin onveranderd uit die Golf 5 GTi gebruik is, en dan is daar nog die hele debat oor Golf 6 se nuwe vorm. Party mense is teleurgesteld in die min veranderings teenoor die vorige model, sommige noem hom ‘n Golf 5 1/2, maar die 6 toon in baie aspekte groot verbeteringe.

Sy bakwerk is nie so ‘n vars ontwerp nie (soos vorige modelle); die Golf 5 se balanserende vorm is net ‘n bietjie opgekikker. Die GTi kry ‘n paar geskenkies wat hom van sy kleiner boeties laat uitstaan, soos ‘n bynes sierrooster, groter buffers, twee blink uitlaatpype, en die aantreklike 18-duim wiele van sy voorganger.

Aan die binnekant beteken dit nuwe sportsitplekke, ‘n goeie sportstuurwiel, en ‘n spoedmeter wat hoogs-onwettelike syfers vertoon. Die res van die populêre Volkswagen se kajuit is bekende gebied vir enige VW of Golf aanhanger; die uitleg is eenvoudig, alle kontroles is maklik om te gebruik en alles is perfek afgewerk.

Sy instrumente en sentrale informasieskerm vertel jou alles van gemiddelde verbruik, spoed, temperature, en tesame met die stuurwiel se knoppies kan jou ook die klankstelsel beheer. Dié het ‘n groot aanraakskerm om jou gunsteling radiostasie, musiekspeler (AUX-sok), of 6 CD’s met musiek / mp3 klanke te vertoon.

Hierdie gebruikersvriendelikheid het ook die voertuig se meganiese elemente geraak, en veral die DSG (dubbel-koppelaar outomatiese) ratkas maak die GTi nog makliker om te bestuur. Hy bied jou drie moduse om van te kies; ‘n volle outmaties (of “D”), ‘n self-skakeling funksie, of Sportmodus.

Ratwisselaars (spane) aan albei kante van die dik stuurwiel sal in enige modus help om ‘n ander rat te kies, maar in “D” sal die ratkas na ‘n tyd weer sy eie dinge doen. Die Sport-instelling gedra hom in ‘n soortgelyke manier en sal dikwels ‘n laer rat kies om die enjin se toere (en turbo-aanjaer) besig te hou.

Die fris 2-liter enjin is ‘n uitstekende kragbron en lewer indrukwekkende wringkrag vir alledaagse gebruik. Nes ander dubbel-koppelaarstelsels sal hy ook ‘n kort brul by die uitlaatpype uitjaag as mens (veral in Sport-modus) die ratte op- of afskakel.

By hoër toere klink die enjin nie te inspirerend nie, maar die verrigting is asemrowend. ‘n GTi sal 100 km/h in net meer as 6 sekondes behaal, en sy topsnelheid lê by ‘n verbasende 238 km/h. Mens hoef die enjin ook nie te martel nie; daar is altyd 280 Nm wringkrag om met enigiets bó 1800rpm blitsig te versnel. Ek was veral beïndruk met die GTi se versnelling bó 100 km/h!

My vriende het almal ‘n ander gunsteling eienskap van die nuwe motor gevind; die “Launch Control” of wegtrek-assistent. Sit die ratkas in “S”, skakel die wieltolbeheer af, sit jou linkervoet op die rempedal, en trap die versneller. Die GTi se toere skiet na 3000 r/min en hy sal eers wegtrek as jy jou linkervoet vrystel! Die voorwiele kerm ‘n bietjie en die neus spring rond, maar 7 of 8 sekondes later sal mens by die nasionale spoedgrens verbytrek. En as jy ‘n rooi verkeerslig nader, sal die GTi se ABS-remme ook enige insittendes beïndruk.

Die nuwe GTi is ‘n fantastiese verrigtingsmotor, maar hy kan ook saggies speel en ‘n handige byvoegsel tot ‘n jong familie wees. Die kattebak is groot, daar is hake vir wederhelfte se inkopies, die agterste sitplekke slaan plat en alle sitplekke is hoogs-gemaklik.

Die nuwe GTi se vering en lae-profiel rubber is ‘n bietjie ongemaklik teen lae snelhede in die dorp, veral oor slegte padoppervlakke, maar hy vergoed met ‘n gemaklike en voorspelbare rit op die langpad.

As jy hom op draaierige paaie vat en bestuur asof jy hom gesteel het (en glo my, jy sal wil!) haal die GTi sy finale troefkaart uit. Die stuur is presies, sy bak kantel matig en die vering en wiele kombinasie gee jou genoeg waarskuwing as jy te dapper raak. In hierdie geval maak die goeie ESP stabiliteitsbeheer ook sy verskyning en straf jou met slim remwerk en verminderde enjinkrag.

Hierdie uitstekende voertuig kos N$331 800 met ‘n 5 jaar 90 000 km diensplan, en hy moet beslis boonop jou lys wees as jy ‘n moderne luikrug verrigtingmotor soek!

Leave a Comment