Met Peugeot se 4008 op die langpad
Daar is met groot verwagting uitgesien na die dag wat Peugeot die mark vir nutsvoertuie in Suid-Afrika sou betree en met die bekendstelling van die 4008 vroeër vanjaar is daar aan hierdie verwagting voldoen. En laat mens dan ook maar dadelik byvoeg dat Peugeot met die 4008 weereens meer as voldoen aan die hoë standaarde van betroubaarheid en rygenot waaraan Peugeot aanhangers sedert die dae van die 404 en 504 so gewoond geraak het.
Peugeot het die 4008 in vennootskap met Mitsubishi se ASX en Citroen se C4 Aircross ontwikkel en hierdie driemanskap maak dus gebruik van dieselfde aandrywing- en onderstelmeganika. Maar soos in die geval van die menslike spesie waar raamwerk en aandrywing ooreenstem is daar tog opvallende kosmetiese en voorkoms verskille. Uiterlik toon die 4008, soos die nader Peugeot modelle, nog steeds die opvallende sierrooster met die leeuloge en die lugskorte aan die kant en die vloeilyne wat vanaf die hoofligtegroep langs die kante na agter met ‘n effense hoek na die dak toe loop. Dit verleen aan die 4008 dieselfde elegansie en sportiewe voorkoms wat so eie geraak het aan Peugeot- modelle se hedendaagse ontwerp en voorkoms.
Die 4008 is nie die eerste vir Peugeot wanneer dit kom by gesamentlike projekte met ander vervaardigers nie. Voorheen is enjintegnologie met onder andere BMW, Fiat en Lancia gedeel en kan die ondervinding van Mitsubishi in die bou van robuuste 4×4’s net voordele vir Peugeot inhou.
Die twee modelle in die 4008-reeks bestaan uit die Active en Allure wat byna identies is aan mekaar in terme van aandrywingmeganika en standaard kenmerke. Beide modelle is toegerus met ‘n 2-liter petrolenjin met ‘n kraguitset van 110 kW en 197 Nm en ‘n sesspoed CVT-transmissiestelsel
Die beginsel van CVT- (Convential Variable Transmission) transmissie is al solank as 500 jaar gelede deur Leonardo da Vinci gekonseptualiseer, alreeds in die 1880’s gepatenteer en oor die laaste klompie jare dramaties deur motoringenieurs verfyn. Verskeie vervaardigers maak deesdae in verskeie modelle gebruik hiervan om sodoende die optimale werksverhouding tussen enjinverrigting en rataanwending te bewerkstellig. Dit verseker uit die aard van die saak beter petrolverbruik alhoewel entoesiaste van tradisionele outomatiese aandrywing waarskynlik die “skokeffek” van ratwisseling sal mis. Die (negatiewe?) effek van die CVT-stelsel is dat, in die geval van die 4008, top wringkrag (Nm) eers teen teen 4 200 rpm en en maksimum kW teen 6 000 rpm bereik word.
Die 4008 kan óf in voorwiel- óf in vierwielaandrywing gebruik word terwyl ewenaarsluiting ook moontlik is. Dit kan by die buitelugentoesias miskien die vraag laat ontstaan of CVT-tegnologie wenslik is by ‘n nutsvoertuig, maar Peugeot is oortuig daarvan dat dit die regte opsie is vir gladde werkverrigting, veeldoeligheid en die bewese betroubaarheid daarvan. Tog sal daar kenners en entoesiaste wees wat waarskynlik voorkeur sou gee aan ‘n turbo-aangejaagde dieselmodel met handratwisseling. Spane wat aan die stuurkolom gekoppel is (en nie soos gewoonlik aan die stuurwiel nie) gee egter die geleentheid om na handratverwisseling oor te skakel as die behoefte daar is. CVT-ratwisseling is op die lange duur miskien eerder die antwoord op die eise van stadsverkeer of dan langpad-tweewielaandrywing. Op hierdie noot kan daar dan ook die vraag gevra word van die wenslikheid van twee modelle wat byna identies is (slegs dakbedekking, verhitte voorsitplekke en tipe bekleedsel verskil) in ‘n uiters kompeterende marksegment van SUV’s.
Hoe dit ookal sy, die topmodel in die reeks, die Allure, was die toetsmotor wat die langpad na die Oos-Kaap gevat het en in alle opsigte uitstekende bestuursgenot verskaf het. Met ‘n sonnetjie wat tweede viool moes speel in die koue reënweer kon die dak van binne oopgeskuif word om die panoramiese glasdak se voordele aan te wend. Verder is beide modelle toegerus met die mees moderne tegnologiese en veiligheidskenmerke soos ‘n aanboord rekenaar, elektries verstelbare en verhitte voorsitplekke, ‘n verkoelde paneelkissie, klimaatskontrole, sensories geaktiveerde reënveërs en hoofligte, parkeersensors, stabiliteitskontrole en, dankie tog ‘n linkervoetrus en ‘n verligte sleutelgat – klein dingetjies wat soms ergerlik afwesig is by sommige topmodelle.
Met vier passasiers en bagasie aanboord het die 4008 oor ‘n gemengde siklus- afstand van meer as 1500 km ‘n verdienstelike gemiddelde petrolverbruik van 9 liter/100km gegee. Die 4008 kom met ‘n 5 jaar/100 000km diensplan en padbystand en ‘n 5 jaar/100 000km waarborg. Die prys van die Active is N$363 900 en dié van die Allure met die sondak, N$388 500.