‘n Nuwe maatstaf vir die medium-klas
Die bekendstelling van die nuwe Corolla in Februarie het die doelpale in die motorbedryf aansienlik verskuif en sal die mededingers hulle sokkies moet optrek om by te hou. Die eerste Corolla wat in 1966 die lig gesien het, was seker een van die mees suksesvolle “wêreldmotors”; daar is reeds meer as 40 miljoen van hulle oor die wêreld heen verkoop.
Montering en vervaardiging van hierdie ikoon vind onder andere in sestien aanlegte plaas waaronder Suid-Afrika tel. Ander fabrieke is onder andere in Viëtnam in die Ooste en Venezuela in die Weste.
Die Corolla was nog altyd ‘n gesinsmotor waar die tradisionele waardes van betroubaarheid, gehalte en duursaamheid gegeld het. Met die nuwe uitgawe is dit egter ‘n perd van ‘n ander kleur; al die tradisionele eienskappe is steeds daar maar met die nuwe stilering, veral aan die neus se kant, kom daar ‘n nuwe sportiewe kant tevore. Die familieooreenkoms met die nuwe prestige Toyota, die Lexus, is opvallend. So ook die algehele ontwerp wat ‘n amper-koepee vorm volg, is indrukwekkend en laat ‘n mens dink aan ‘n motor met ‘n warm oond onder die enjinkap. Hierdie eienskap gaan hom beslis ‘n wenner maar by die jonger geslag!
Die nuwe Corolla is meer vaartbelyn as sy voorganger en die sleursyfer is verlaag van Cd 0,29 tot net Cd 0,27 en, volgens Toyota, is dit die laagste in sy klas. ‘n Praktiese voordeel is natuurlik dat dit ook brandstofverbruik verminder.
Binne is daar nuwe sitplekke wat méér ruimte vir al die insittendes verseker en ook ‘n groter bagasieruim bied waar 452 liter bagasie kan inpas. Daar is ook alles wat kan oop- en toemaak teenwoordig:’n Raakskerm-klankstelsel-eenheid met AM/FM-radio, CD/DVD/MP3-speler, Bluetooth-selfoonstelsel, ’n USB-sok vir draagbare musiekspelers wat ook ’n iPod se speellys kan vertoon. Verder is daar ook ’n truratmonitor en natuurlik elektriese bediening van die vensters en lugversorging.
Die 1,6 liter petrolenjin met sy dubbele, veranderbare kleptydreëling, ontwikkel 90 kW teen 6 000 rpm en stel 154 Nm wringkrag beskikbaar teen 5 200 rpm. Laasgenoemde beteken in die praktyk dat die 6-gang ratkas vryelik gebruik moet word om maksimum verrigting te verkry. Hierdie kombinasie van enjin en ratkas stel die motor in staat om binne 10,5 sekondes van 0-100 km/h te versnel en word die algehele brandstofverbruik aangegee as 6,6, liter/100 km. Volgens Toyota sal die naald by 195 km/h gaan draai.
Met die gebruik van sterker staal is daar ‘n gewigbesparing op die Corolla terwyl die algehele bakwerk in die proses nou sterker as tevore is. Die gewone vering van MacPherson stutte voor en draaibalk agtervering is behou maar die voorsuspensie het nuwe en groter skokbrekers maar met ‘n korter spiraalvere om algehele padgedrag, veral om draaie te verbeter. Verder is daar ‘n nuwe elektries-beheerde kragstuur wat beter terugvoer gee.
Veiligheid is natuurlik hoog op Toyota se prioriteitslys en die Corolla het die Euro-NCAP-botstoetse met vlieënde vaandels geslaag met ‘n vyfster-gradering. Hiermee saam is die motor ook ontwerp om die minste moontlike skade aan voetgangers te veroorsaak indien hulle voor die motor sou beland.
Aan die binnekant is daar, soos te wagte, ses lugsakke om al die instittendes te beskerm in geval van ‘n botsing. Die driepunt gordels is ook met rukstopaksie en vooraf-terugtrekaksie. Verder is ‘n patent uit die jare sestig weer toegepas; ‘n meganisme wat die persoon se bolyf na agter stuur om sweepslagbeserings te verminder as die motor van agter gestamp word.
Voorkomende maatreëls is natuurlik die gebruik van ABS remme, elektroniese remverspreiding, en remhulp wat beter beheer oor die voertuig verskaf as paniek-situasies ontwikkel.
Maar hoe ry hy nou eintlik? Eintlik was die toetstydperk aan die kort kant maar met ‘n rit op die draaierige pad tussen Gordonsbaai en Bettiesbaai het die uitstekende suspensie baie beïndruk, so ook die gladde ratwisseling, En dan natuurlik die skares wat na die Corolla kom kyk het en die nuwe, sterk lyne bewonder het.
Die Corolla 1,6 Prestige petrol-weergawe is ‘n klaargemaakte motor en verkoop teen N$241 900. Daarby is ingesluit ‘n fabriekswaarborg van drie jaar of 100 000 km en word dit deur ’n diensplan van vyf jaar of 90 000 km ondersteun.
Indien die prys aan die hoë kant is, is daar die intreemodel 1,3 liter Esteem beskikbaar teen N$214 900 en gaan draai die prys vir 1.8 Exclusive Multidrive S (outomaties) by N$283 900. Die een wat ek self sou koop, al het ek hom nie bestuur nie, is die 1,4 liter turbodiesel Esteem teen N$237 900.