Padtoets: Toyota Hilux Legend 45

Die Legende raak luuks en modieus!

Die taaiheid van die Toyota Hilux is ‘n legende en het grootliks bygedra tot die advertensie-deuntjie wat maar net nie uit ons koppe wil padgee nie; u onthou dit: “Alles loop reg, altyd reg…” Om die Legende te vier het Toyota in Oktober verlede jaar die Hilux Raider-reeks opgedollie met spesiale toerusting soos daar nog nooit vantevore opgedollie is nie.

Die vraag is hoekom? Die antwoord: Suid-Afrikaners en Amerikaners is lief vir bakkies en beskou dit as ‘n lewenstyl by uitstek, daar word tien- teen-een waarskynlik méér op bakkies aan ekstras bestee as aan motors om die persoonlikheid van die eienaar te pas of ‘n beeld uit te straal aan almal wat wil kyk! Om die entoesiastiese bakkie-eienaar ‘n klomp moeite te bespaar, het Toyota hulle marknavorsing deeglik gedoen en vasgestel wat die bakkie-entoesias as begeerlike ekstra’s op/in sy bakkie wil hê.

Die lys is lank en uitvoerig en die volgende is net ‘n paar van die ekstra’s waarmee die Hilux voor jou deur afgelewer word: Vlekvrye staal stampstaaf voor en vlekvrye staal agterste buffer/trap met ‘n sleepstang om die agterkant af te rond. Beide die voorkant gee dus nou die ekstra beskerming wat die meeste van ons soek; ‘n afskrifmiddel vir ander bestuurdes wat dit té naby aan jou voertuig wil waag. Hierdie is die baie praktiese tipe van dinge wat werklik nodig is.

Dit is egter op die stilisitese front wat dinge interessant word: Unieke hoofligte en misligte met ‘n donker/gerookte afwerking wat ook in die agterligte nagevolg word, dowwe-swart afgewerkte treeplanke langs die kant en 17” allooi-speekwiele, ook met ‘n donker antrasiet afwerking.

Party van die boere wat Hilux bakkies in die diep Karoo of afgesonderde Boesmanland besit, en net een keer per maand in die dorp kom, mag hierdie prentjie effens aan die donker kant lyk, veral ook omdat die leerbekleedsel  ook swart is en ook die afwerking van die paneelbord.

Net vir die rekord; hierdie is die beeld wat al die duurste Duitse en Engelse nutsvoertuie uitstraal! Hierdie inligting is ook bedoel vir dié manne wat miskien dink dat die Hechter en Delpört manswinkels deur ouens van Oudtshoorn of Caledon besit word; hulle is nié familie van hierdie geeërde plaaslike families nie!).

So wat het ons nou? ‘n Baie byderwetse Toyota bakkie wat by die byderwetse man pas, alles wat te begere is, is daar.

Ons toetsbakkie was die outomatiese 4X4 weergawe met die deeglik-beproefde 3.0 D-4D turbodiesel eenheid onder die enjinkap. Frans Brink en ekself kan getuig van die betroubaarheid en ekonomie van hierdie besondere enjin op ‘n baie vinnige en lekker trippie tot by die Kongorivier amper tien jaar gelede. Dit was in die dae wat die paaie in Angola ellendig vrot was en daar in een kilometer méér kere ratte verwissel as op ‘n normale rit Windhoek toe.

Beide van ons sal instem dat die aanbring van ‘n outomatiese ratkas op die Hilux seker een van die mees praktiese en sinvolle dinge is wat in die evolusie van die bakkiereeks kenmerk. Ook die aanbring van ‘n trukamera op die bakkie om te sien wat agter hom aangaan, veral omdat die nuwe Hilux se agterruit kleiner is as dié van die voorgangers.

Die vraag is wat hierdie spoggerige plesierigheid ‘n man uit die sak gaan jaag. Die toetsmodel, met al sy klokkies en knoppies as standaardtoerusting, kan van die vertoonkamervloer afgehaal word teen N$509 300. In ruil kry jy ‘n enjin wat ver ente tussen brandstofpompe aflê en 343 Nm tussen 1 400 en 3 299 rpm oplewer, dié soort wringkrag wat nodig is as jy die groot boot see-toe sleep. As brute krag die eerste vereiste is, gaan die 4-liter petrolmodel met sy 175 kW teen 5 200 rpm, die aangewese een wees om die koppe by die robots te laat draai.

Vir die van ons wat meer beskeie is, maar van die byderwetse modes hou, is die enkelkajuit 2,7 liter petrolmodel met die hoër grondvryhoogte en die prys van N$300 200 net die regte een!

Watter model ook al die keuse is, die goeie nuus is dat daar ‘n 5-jaar of 90 000 km diensplan saam met hom kom!

Leave a Comment