Padtoets: Volkswagen Polo R-line

Sprokies(kar) vir ‘n stadskind

Francisca Heese

Die nuwe Volkswagen Polo R-line is pure pret. Vir enigiemand wat hou van ‘n ruim stadsmotor met genoeg krag om die langpad Noorde toe kaf te draf, is dié nuwe Polo ‘n goeie opsie. Vanuit ‘n praktiese oogpunt, is dit ‘n betroubare en veilige motor, wat met die Bluemotion tegnologie sorg vir effektiewe brandstofverbruik.

Moenie dat die 1.0-liter-turbo jou onderkry nie, die turbo (81 kW, 200 Nm) verseker dat jy betyds by enige ete-afspraak of uitverkoping sal uitkom, ten spyte van die klein drie silinder enjin met 999 cc in slagvolume.

Volgens Volkswagen behoort die gemiddelde brandstofverbruik sowat 4,4 liter vir 100 km te beloop – ideaal vir diegene wat in moderne en groener tegnologie wil belê (en dalk ‘n nuwe paar draftekkies). Die sewegang outomatiese ratkas is ideaal vir stadsverkeer, asook gemaklike langafstand ritte en met die vinnige skakelaksie tussen ratte, is daar geen tydmors nie.

Die stoprystelsel (waar die enjjin ewe skielik stop sodra jy by die robot stilhou) kan ook addisionele brandstofbesparings inhou, maar sorg net dat jy met die ryslag genoeg vet gee, sodat die grootmeneer in sy wit bakkie agter jou nie vir jou toeter plaas nie.

As ‘n vrou, is die estetika van die motor vir my ook deurslaggewend en dis juis op dié terrein is waar die Polo my boul vir ‘n ses. Die binneruim se eenvoud sorg dat mens se fokus op die pad bly, terwyl die bekende Volkswagenrooi paneelliggies sag op die oog is. Met behulp van Bluetooth word jou slimfoon gou-gou aan die motor se app gekoppel, vanwaar mens oproepe in die verkeer kan maak, musiek kan luister of net die pad na ‘n obskuur geleë restaurant kan vind.

Indien ‘n ongewilde treffer ewe skielik begin speel (miskien ‘n herinnering aan ‘n onaangename date night), kan mens vinnig op die stuurwiel net skip. Sodra Beyoncé jou egter weer laat glo in feminisme, kan jy die klank op die stuur aandraai en die goeie klankstelsel geniet.

Ek het die motor se padhouvermoë om skerp draaie getoets en sjoe – sy sit stewig! Ek moes net keer (oftewel my voet van die petrolpedaal afhaal) om nie die spoedbeperking te oorskry nie. Boonop kan jy binne 9.3 sekondes van 0-100 km/h versnel.

Indien daar ‘n stadige skilpad op die pad is (hetsy meganies of andersins), sal die ABS remme vir ‘n effektiewe noodstop sorg. As veiligheidsmaatreël is ‘n papwielaanwyser standaard in die R-line pakket, asook lugsakke en ‘n stuur-alarm wat keer dat jy in die middel van die dag aan die slaap raak.

Hoewel ek die Polo R-line as ‘n ideale jongwerkende se motor sou beskryf, kan die prys dalk bietjie styf wees, maar na ‘n eerste roadtrip sal mens nie spyt wees nie. Teen N$292 400 is die R-line moontlik bietjie dik vir ‘n daler en sal ek eerder die intreemodel (1,2 liter; 66/160 kW/Nm) teen N$226 900 aanbeveel.

Tog moet mens in ag neem dat dié prys ‘n diensplan insluit van drie jaar of 45 000 km en gee dit gemoedsrus dat daar nie skielik onbeplande uitgawes jou begroting beduiwel nie!

Leave a Comment