Padtoets: Volvo S60 T6

Anatomie van ‘n supermotor

Wat gee jy vir die man wat reeds alles het? ‘n Volvo S60 T6. Hoekom? Sy BMW 3-reeks en sy Audi A4 en sy Mercedes C-klas is almal al gekaap. Die kanse dat sy Volvo gekaap gaan word, is heelwat minder. Maar die mindere kans beteken nie dat dit ‘n mindere motor is nie; inteendeel, die Sweed hang saam met die bestes uit wat kwaliteit, toerusting, verrigting en prys betref. Saamgevat, waarde vir geld.

Die week met die S60 turbo was een waarin talle nuuskieriges nader gestaan het om te kom kyk; ja, ‘n Volvo sien jy nie om elke hoek en draai nie. En die manne wat kom kyk het juig almal vir die Duitse Bundesliga.

Prysgewys is die S60 T6 die duurste model in die reeks, behalwe nou vir die viertrek met sy 3-liter enjin. Die hart van die T6 is die viersilinder 1 969 cc enjin met turbo-aanjaging wat 225 kW teen 5 750 omwentelinge per minuut ontwikkel en ‘n kragtige 400 Nm teen 2 100 opm dadelik beskikbaar stel as daar skielik versnel moet word of ‘n swaar boot getrek word. Laasgenoemde beeld is in my kop want ek sien die tipiese eienaar as een wat ‘n groot vakansiehuis by die see het, of wie se dogter ‘n perderuiter is en die perd iewers heen vervoer moet word. Natuurlik kan dit ook ‘n doodnormale mens wees wat kwaliteit op alle terreine hoog ag.

Wat in die besonder opgeval het is die ekonomiese brandstofverbruik vir ‘n motor met hierdie verrigting en dan ook boonop met ‘n 8-gang outomatiese ratkas toegerus is; hierdie luukse wa kan met so min as 7 liter per 100/km oor die weg kom maar is nog steeds in staat om van 0-100 km/h te versnel in minder as 6 sekondes as die nood hoog genoeg is. En die naald by 230 km/h laat draai. Maar in ons geliefde land met sy spoedperke is hy meer as man genoeg.

Wat belangrik is vir sulke vinnige waens is die vraag hoe stabiel hy op hoë spoed is en om draaie hanteer. In beide gevalle kry die Volvo volpunte, veral omdat al die moontlike elektroniese veiligheidstelsels aan boord is. Wat my by die eintlike punt bring van Sweedse deeglikheid en hulle konsep van veiligheid.

Dit is juis hierdie eienskappe, wat begin het met Volvo se botstoetse en die ontwikkeling van veiligheidsgordels in die vyftigerjare, wat produkte van hierdie vervaardiger so populêr by die kieskeurige Duitsers gemaak het. In die dae van die Koue Oorlog was dit ook die keuse van die Oos-Duitsers en was ‘n Volvo Limousine die amptelike staatsmotor van die partyleier van die Rooies, Erich Honecker!

So vir die man wat alles al gehad het, is die Volvo ‘n goeie keuse om aan sy individualiteit uiting te gee, al het die Duitse mededingers effens van ‘n voordeel as dit by inruilwaarde mag kom. Maar ook die manne met die Duitse modelle verkoop maar hulle motors die oomblik voordat die diensplan sy einde nader. Terloops die Volvo kom met ‘n 5-jaar of 100 000 km en gaan jou N$556 000 uit die sak jaag. As verrigting nie alles is nie, is daar die T3 Essential wat inweeg teen N$361 800 en dalk ‘n “winskoop” mag wees.

Nou op ‘n ander noot; met ‘n vorige Volvo, wat nou nie meer hier bemark word nie, het dit my opgeval dat van die ruite uit drie lande gekom het; België, Italië en Swede.

Nuuskierigheid het die oorhand gekry en ‘n vinnige inspeksie het die volgende opgelewer:  Die Bridgton bande en voorruit is in Pole gemaak, die kant-ruite in Swede, die agterruit in China. Van die ander dele onder die enjinkap kom uit Hongarye en Duitsland met nog ‘n onderdeel met ‘n etiket “Made in European Union”, wat natuurlik enigiets kan sê. (Griekeland uitgesonder).

Twee van die voorsieners van onderdele is ASIAN en Fuyao. Watter komponent AISAN maak is nie bekend nie maar ek onthou die dae toe die eerste Datsuns ASIAN vergassers gebruik het, tensy my gheue my parte speel. Fuyao het ek gegoogle en toe uitgevind dat dit ‘n massiewe groot maatskappy in China is wat motorglas oor die hele wêreld lewer.

So as jy ‘n ou Mercedes uit die laat sewentigerjare ry is dit goed om te weet dat die plaaslike verteenwoordigers vir jou ‘n voorruit kan lewer. So leer mens elke dag nuwe dinge.

Hierdie voorsiening van onderdele van dwars oor die wêreld maak van die Volvo letterlik en figuurlik ‘n wêreldmotor. Ondanks sy Oosterse eienaarskap, bly Volvo Sweeds. En soos my motorvriend Marnus gesê het; die Swede is eintlik maar net Duitsers maar met ‘n mindere sin vir humor!

Foto’s

 

Leave a Comment