Langpadtoets: 2017 BMW 520d

Nuwe BMW 520d ‘n uitstekende langpad vennoot

Ons het onlangs die nuwe BMW 520d (met M-Sport pakket) vir ‘n 800km langpadrit geneem en dit het ons aangenaam verras. Nie net was dit verbasend ekonomies nie, maar ook uiters gemaklik (soos gedemonstreer deur my twee snorkende passasiers).

Die 520d kom uit met ‘n 4-silinder, 2 liter enjin, wat 140kW en 400Nm uitskop. Met ‘n 70-liter diesel tenk en ‘n gebruik van 5.3l/100km, het ons net een keer nodig gehad om ‘n kwart van die tenk vol te maak. Ons het ná 880km stilgehou met genoeg brandstof in die tenk om nóg 430km te gaan.

Op die langpad loop die 520d baie gemaklik teen 120km/h en hardloop heel stil deur die outomatiese 8-spoed ratkas (in “Eco”, “Comfort” of “Sport”). Beide die enjin- en windlawaai is bykans onhoorbaar en net die padlawaai van die lae-profiel, 19-duim bande kan effens gehoor word.

Binne is die voertuig baie noukerig uitgedink. Die gemaklike leersitplekke gee jou ‘n sagte drukkie. Die stuurwiel met leerbekleedsel word ook toegerus met ratwisseling-pedale. Beide die elektroniese spoedmeter en informasie stelsel, is goed ingestel om soveel as moontlik informasie, simplisties aan te dui. Die 12-duim sentrale skerm kan ook verdeel word, om aan die bestuurder relevante navigasie informasie uit te wys, terwyl die passasier hul media deur die i-drive sisteem kan opstel.

Natuurlik is die 520d ook toegerus met “dual-zone” temperatuur verstelling en ‘n keuse tussen twee interne kajuit geure.

Alhoewel die 520d nie gemik is op spoed nie, sal dit van 0-100km/h kan versnel in 7.5 sekondes. Alhoewel hierdie spesifieke model uitkom met die sportiewe M-sport pakket, is dit meer gerig op gemak. Die sportfunksie, alhoewel dit die 520d ratser laat voel, sal gemaklik die bestuurder help om enige verkeer verby te steek, maar is egter nie bruikbaar om daardie Ariel Atom les op te laat sê nie.

Alhoewel dit redelik gemaklik sal wees om hierdie groot sedan om die skerp draaie van ‘n bergpas te bestuur, skep die estetiese ontwerp van hierdie voertuig ‘n rustige atmosfeer.

Weens ontwerp, mag die kattebak dalk kleiner wees as dié van die kompetisie, maar dit sal steeds ‘n bergfiets kan akkommodeer (met die voorwiel ontkoppel en die agterste sitplekke platgeslaan).

Die 520d was voorwaar ‘n goeie langpad vennoot vir my as bestuurder en my 2 ‘ontspanne’ passasiers.

Die BMW 520d word bekendgestel met ‘n prys van omtrent N$800,000. Die M-sport pakket kos nog meer en ‘n 520d kan ook met addisionele ekstra’s soos ‘n elektroniese afstandbeheer, verhitte sitplekke en self-parkering, aangekoop word.

BMW bied ook standaard ‘n 5-jaar/ 100 000 km motorplan.

 

Leave a Comment