Die bakkie oorlog: meer prominent as ooit vantevore
Die Suider-Afrikaanse mark is sterk besig om te neig na twee spesifieke voertuig-segmente, waarvan die Sportsnutsvoertuig een is. Die beeld en doel van ‘n bakkie (oftewel “Pickup”) het egter oor die afgelope paar jaar aansienlik verander. Die ‘bakkie’ soos ons dit ken word deesdae al meer gebruik as ‘n stedelike voertuig vir die avontuurlustiges. Dus het die rol van die bakkie verander om meer van ‘n stedelike “SUV” te wees, eerder as ‘n werks voertuig. Hierdie maak die taak vir vervaardigers geweldig moeilik.
Ons kyk dus in hierdie artikel na drie van die voorstaande vervaardigers, asook hul plek in die mark. Elk van die drie vervaardigers het hul eie sterk- en swakpunte en met die mark wat so kompiterend is, is daar nie werklik ‘n verloorder nie.
Die deelnemers:
Toyota Hilux 2.8GD-6 dubbelkajuit 4×4 Legend RS outomaties
Na 50 jaar vertel huidige verkoop-statistieke steeds dat die Hilux die staatmaker is in terme van werks-verrigting en ook as ‘n staatmaker-voertuig vir die stedelike inwoner, wat graag oor naweke die bergfiets roetes wil aanpak sonder om die voorwiele af te haal, of bekommerd te wees oor die hoogte beperkings van ‘n SUV.
Toyota se betroubare 2.8 GD-6 enjin ontwikkel ook nou ‘n stywe 150kW (3000 – 3400 opm) en 500Nm (1600 – 2800 opm), gepaard met ‘n 6-spoed outomatiese ratkas. Terselfdetyd mag die 2.8 Hilux ook dalk ‘n kragtiger enjin hê, maar lewer dit ‘n beter brandstof-verbruik (net onder 10 liter per 100km) te danke aan ‘n groter turbo-charger.
Ons vorige kennis met die uittredende Hilux model het ons met ietwat klaende rue gelos (dalk is dit net ons ouderdomme wat aan beweeg), maar met die nuwe Raider en Legend, voel die agterste vering veral sagter en ietwat meer gemaklik. Hierdie is grootliks te danke aan nuwe vering en skokbrekers. Met geen gewig in die laaibak nie, maak hierdie beslis ‘n groot verskil op die grondpad.
Die nuwe Legend en Raider kom ook nou met spoed-beheer, ‘n 8-duim raakskerm (met Apple CarPlay en Android Auto), ‘n JBL klank-sisteem, asook binneruim Wi-Fi.
Op die langpad maak elk van hierdie funksies ‘n reuse verskil, hoewel die outomatiese ratkas met tye stadig kan wees om te reaggeer. Onmiddelike krag-lewering is dus vinniger, maar nog nie heeltemal by dié van die kompetisie nie.
Toyota het wel goed gedoen om die vermoëns van die voertuig hoog te hou met ‘n laai-kapasiteit van 775kg en ‘n trek-krag van 3500kg. Verder het die Hilux ook ‘n ryvlak-hoogte van 286mm en ‘n brandstof-tenk van 80 liter.
Diefstal is altyd ‘n groot kommer vir bakkie eienaars, maar die nuwe Hilux RS reeks bring “rolling shutters” uit; ‘n meganisme waarmee die laaibak elektronies geseel kan word en sluit saam met die voertuig.
Die Legend word tans verkoop teen R868 100, met die Raider (2.8 GD-6 RB) wat teen R644 500 verkoop word. Elkeen kom met ‘n 3-jaar / 100 000km waarborg en ‘n 90 000km diensplan.
Volkswagen Amarok 3.0 V6 TDi dubbelkajuit 4Motion
Met die aanbreek van die vorige dekade is Volkswagen se nuwe Amarok in ‘n 2.0 liter Bi-Turbo bekend gestel en hoewel dit nie te veel koppe laat draai het nie, was dit die V6 3.0 liter turbodiesel wat onmiddelik bakkie liefhebbers na hul begrotings-beplanning gehaas het.
Nou, 12 jaar later, staan die nuwe Amarok bekend as die kragtigste, maar ook die duurste bakkie op die mark. Met 190kW (200kW vir ongeveer 10 sekondes) en 580Nm lewer hierdie Porsche Cayenne turbodiesel genoeg lae-revolusie krag (tussen 1400 – 3000opm) om van 0-100km/h te blits in ‘n skrale 7 sekondes. Een nadeel hiervan is dat die enjin wel swaar is op brandstof met ‘n verbruik per 100km, wat selde onder 10 liter val.
Hoewel dit nie eintlik van belange is nie, help hierdie baie wanneer daar ‘n string voertuie of groot trokke verbygeneem moet word; óf as iets swaar getrek moet word. Gepaard met ‘n 8-spoed ratkas kan hierdie voertuig ‘n absolute monster wees, maar terselfdetyd ook sagkuns by 1500 opm teen 120km/h ry.
“Is hierdie ‘n diesel”, was een van my passasiers se onlangse kommentaar, met die verwagting dat iets so stil ‘n bitter klein petrol enjin of selfs ‘n hibriede format sou huisves.
Verder word die binneruim versier met baie gemaklike Nappa leer (verhitte) sitplekke, ‘n leer stuurwiel, ‘n dubbele klimaat-beheer sisteem, spoed-beheer, en ‘n raakskerm met Apple CarPlay , Android Auto en USB / Bluetooth konneksie. Bykomend het die Amarok ook ABS (met EBD), elektroniese stabiliteits-beheer, lugsakke (hoewel nie in die agterste ry nie), en ‘n trurat-kamera.
Die Amarok is ook wyer as die Hilux modelle en het dus beter padhouvermoë, maar kan weer moeilik wees om te hanteer in knap stedelike spasies.
Anders as die Hilux egter, laat die Amarok mens soms vergeet dat dit ‘n bakkie is, weens die sagte vering, soortgelyk aan die van ‘n SUV. Die langpad is dus ‘n absolute plesier met hierdie voertuig. Ons sou wel meer hoë profiel bande verkies vir die grondpad. Nog tekortkominge is die veel laer ryvlak-hoogte as die van die Hilux, minder beenspasie in die tweede ry en ‘n tekortkoming aan die “roller shutter” konsep.
Nes die Hilux, kan die Amarok ook 3.5 ton sleep.
Die Amarok 3.0 TDi V6 word verkoop teen R908 300 (R974 600 vir die Extreme) en sluit in ‘n 3-jaar / 100 000km waarborg en 5-jaar / 90 000km diensplan.
Ford Ranger Raptor 2.0 Bi-Turbo dubbelkajuit 4×4
Die Ford Ranger Raptor het na Suider-Afrika gekom na sterk navraag vanaf kopers om ‘n meer sportiewe Ranger bakkie plaaslik te sien. In 2019 het hierdie wens waar geword en is die bakkie mark ietwat op sy kop gedraai.
Ironies genoeg het die Raptor die kleinste enjin van die 3 bakkies, met ‘n 2.0 liter Bi-Turbo enjin, wat net meer krag lewer as die Hilux, teen 157kW en 550Nm. Gepaard daarmee lewer dit ook dieselfde brandstof-verbruik as die Hilux, maar loop dit veel stiller op die oop pad, te danke aan ‘n 10-spoed outomatiese ratkas.
Die Raptor is nooit vervaardig vir werksverrigting nie, maar eerder as ‘n prettige bakkie, wat meestal vir stedelike diens gebruik sou word. Indien daar wel na laai-kapasiteit en trekkrag gekyk wil word, moet daar eerder na die Thunder of Wildtrak (R751 000) gekyk word, wat met dieselfde enjin en ratkas, ongeveer 3.5 ton kan sleep en 500kg kan dra. Prys is juis die een rede waarom die Wildtrak en Thunder soms die Hilux verkope laat sweet.
Die Raptor, met die Fox Performance skokbrekers en ryvlak hoogte van 310mm, maak egter hierdie voertuig ‘n absolute plesier om te bestuur. Die skokbrekers alleen kos R100 000. Die Raptor dra dus nie dieselfde harde vering agter as normale bakkies nie en gly sagkuns oor enige oppervlakte. Gepaard met die spesifiek ontwerpte BFGoodrich bande en 17-duim allooi wiele, absorbeer die Raptor amper enige grond oppervlakte.
Bygesê kan die Raptor absolute pret wees (veral in Baja mode) op die grond pad, maar kan die enjin effe stadige reaksies toon en sukkel om die 2430kg gewig te versnel.
Soos voorheen genoem, het elk van die drie vervaardigers ‘n regverdige plek in hierdie geveg. Die Amarok is gebou vir primêre stedelike gebruik, waar die Hilux meer toegerus is vir werkverrigting op die plaaspaaie. Die Raptor aan die ander kant, mag dalk die mees gemaklike van almal wees, maar kom kort as dit by krag lewering kom.
Waarna ons wel uitsien en dalk hierdie artikel heeltemal op sy kop sal laat draai in ‘n jaar se tyd, is die verhouding wat Volkswagen en Ford gesluit het om die volgende Amarok op die Ford onderstel te bou. Meng dit met die brute V6 krag van die Amarok en daar mag dalk diep gate orals op grondpaaie verskyn.
Hierdie sal nie ‘n verhouding wees soos dié van ‘n ander Japanese bakkie en Duitse vervaardiger nie, maar eerder een soos dié van Toyota en Subaru met die 86 model. Beide partye het iets om van mekaar te leer en te steun.
Hier gaan Volkswagen en Ford ‘n kragtige en prettige, dog gesofistikeerde bakkie ontwerp.
i prefer the big power and sound of the amarok V6!