Die Namib (en Kalahari) se Plaaspadpioniers!
Mercedes-Benz van Suid-Afrika het so-pas ‘n wye en nuwe reeks viertrekmodelle losgelaat op die mees gepaste plek; plaaspaaie en rowwe, regte rowwe voetspoorpaaie in die Namib. Behalwe die hoekige, alombekende Geländewagen wat reeds in 1979 op die toneel verskyn het, en uiterlik nie maklik van die oer-model onderskei kan word nie, was daar die GLC koepee-tipe sportnutsvoertuig en ook die opvolger van die gewilde M-klas, die GLE.
Met al die tipes en variante is dit effens aan die moeilike kant om elkeen in detail te beskryf. Dit is dus die beste om te begin by die toetsmodel waarmee die meeste van die tyd deurgebring is, die GLC250d 4MATIC. Die GLC kan ‘n mens maklik flous; die lyne is so byderwets as wat dit kan kom en het boonop van die laagste sleursyfers in die industrie met ‘n CD waarde van slegs 0.31, dus so stroombelyn sooswat kan kom.
Op die langpad beteken hierdie “gladde” bakwerk dat hy minder brandstof teen relatief hoë snelhede gaan gebruik en dat sywinde ook nie eintlik ‘n vat op hom gaan hê nie. Natuurlik straal die motor as geheel dieselfde indruk van gehalte uit soos al sy legendariese voorgangers voor hom; Mercedes en gehalte is immers sinoniem.
Met sy voorkoms is die GLC die ideale toermotor vir die langpad met ‘n ruim kajuit, gemaklike sitplekke, uitstekende klankstelsel en natuurlik die jongste elektroniese hulpmiddels wat van die swak bestuurder ‘n goeie bestuurder maak as daar ‘n glipsie kom op die los gruispaaie met sand om die draaie; beide my reisgenoot en selwers het weereens uitgevind dat hierdie tegnologie werklik sy ding kan doen as daar net té vinnig op hierdie soort paaie geryword.
Watwerklik beïndruk het van hierdie GLC is die feit dat die bakwerk met 20mm gelig kan word as die middelmannetjie of die klippe net té hoog is; al wat nodig is om dié metamorfose van sportkoepee tot plaaskar te laat plaasvind, is die draai van ‘n draaiknop op die konsole tussen die twee sitplekke.
Wat dan in sand of modder of enige ander hindernisse geskied hang af van die vernuf van die bestuurder om nie pad byster te raak nie en die voertuig anderkant heelhuids deur te haal.
Wat belangrik is op hierdie soort voertuig met al sy elektroniese stelsels, is dat die elektroniese stabiliteitstelsels (ESC) afgeskakel kan word sodat die bestuurder self volle beheer kan oorneem.
Ons was al by ‘n 4×4 bekendstelling wat dit juis laasgenoemde stelsel was wat ons en ons makkers amper almal bokveld toe gestuur het!).
Aan die ander kant van die skaal kan die draai van die knoppie ook die bakwerk laat sak as daar vinnig op teerpaaie gery word. Dit is nou oulik. En tussen hierdie uiterstes in is daar ook verstellings om ‘n meer gemaklike rit te laat plaasvind, sogenaamde“comfort” verstelling.
‘n Verstelling wat hier egter min gebruik sal word is dié een vir paaie waar ‘n yslagie gevorm het. Maar met die veranderende klimaat is alles natuurlik moontlik!
Die hart van hierdie besondere model is ‘n tweeliter turbodiesel wat 350Nm tussen 1,200 en 4,000rpm beskikbaar stel; dit is hierdie soort krag en die lae omwentelinge waarteen dit beskikbaar is,wat veral beïndruk.
Aandrywing na die vier wiele vind plaas deur die 9-gang (ja, NEGE gang) ratkas. Iewers in die middel, by die 6de gang is die aandrywing direk een tot een, die hoër ratte is almal snelgange.
Ander handige hulpmiddels is die elektroniese drukmeter wat elke band se druk op die 17” wiele monitor en op die skerm weerspieël. Volgens Mercedes-Benz versnel die GLC 250 d van 0-100km/h binne 7,3 sekondes en gaan draai die naald op 223km/h. ‘n Gemiddelde verbruiksyfer val tussen 6,5 en7L/100km.
Wat kos hierdie spesifieke Mercedes? Hy kan van die vloer af gery word teen N$625,000 maar die eienaar sal meer moet opdok vir die GPS stelsel (N$24,800) en die lugvering wat dit bak lig (N$14,500), iets wat ons persoonlik saam met die motor sal bestel.
Hoe lyk die pryse van die ander in hierdie bepaalde reeks? Die goedkoopste is die GLC 220 d teen N$605,000 en die duurste die GLC 300 teen N$661,000. Maar dan moet die “ekstras” natuurlik nog bygereken word.
As teen prestasie bied Mercedes-Benz sy 6-jaar/ 100,000km PremiumDrive onderhoudspakket aanwaar die eienaar geen bydraes hoef te maak as sy Benz gediens moet word nie.
En die ander perde uit die stal van Mercedes- Benz se G-reeks?
Oorhulle gesels ons ‘n ander keer!