Drie-liter Amarok: Kleinboet kry ‘n Grootboet!
Die Volkswagen Amarok is al sedert 2010 in die rondte en oor die jare heen het ons aan hom gewoond geraak. Miskien nie heeltemal met groot enstoesiasme nie want die 2-liter tubodiesel se wringkrag was tot ‘n klein reeks enjinrewolusies beperk. Die koms van die Amarok met ‘n outomatiese ratkas ‘n jaar of vier later het dinge heelwat verbeter maar om een of ander rede het Suid-Afrikaanse kopers nie dieselfde kooplus as die Suid-Amerikaners en Duitsers getoon nie.
Die koms van grootboet met sy 3-liter V6 turbodiesel het nou die bordjies dramaties verander!
Eerstens lyk hy meer indrukwekkend met ‘n nuwe sierrooster en buffer en die V6-logo is prominent geplaas om die krag van hierdie nuwe model duidelik oor te dra.
In die kajuit lyk dit soos een van Volkswagen se top sedans met alles wat kan oop-en-toe maak, vanaf ‘n groot rekenaarskerm met aanraak-funksie tot bekleedsel uit die boonste rakke. So ook die feit dat beide voorste sitplekke vir hoogte gestel kan word en ‘n stuurwiel wat op-en-af beweeg kan word om die regte sitplekposisie vir die bestuurder te verkry. Dit is juis hierdie funksie wat nodig is as daar op regte rowwe terrein gery word waar die pad vorentoe oor bulte gesien kan word.
Verder is al die nodige dinge vir die jongklomp daar: Volkswagen se modulêre vermaaklikheid en klankstelsel wat deur aanraking in werking kom, die radio, App-konneksie, Bluetooth en USB poort wat ook iPod/IPhone versoenbaar is. Noem dit en dit is daar. Dink maar aan die SD-kaartgleuf en ses 20 watt hoë-verrigting luidsprekers.
Veiligheid was nog altyd ‘n handelsmerk van Volkswagen en die Amarok beskik oor al die jongste tegnologie om hom veilig te maak. Daar is nie minder nie as vier lugsakke, elektroniese stabiliteitsbeheer wat werklik goed werk (vra my maar!) en ‘n ten volle outomatiese stelsel wat ekstra remkgrag verskaf selfs ná ‘n ongeluk om ‘n tweede ongeluk te vermy! Een van die belangrike eienskappe van die nuwe Amarok is die “grondpad-ABS” stelsel wat inskop as daar op grondpaaie gery word en die 4×4 modus in werking kom. Tradisionele ABS – en sy gepaardgaande glipbeheer – is nie altyd die 4×4-entoesias se beste vriend nie maar die Amarok s’n skakel die probleme uit, weereens outomaties.
Met bogenoemde gegewens in ag geneem is dit duidelik dat die nuwe Amarok nie meer net ‘n werkesel is nie. Dit is om hierdie rede dat die gewone enkelkajuit-model nou van die toneel verdwyn het, van nou af is dit meer die leefstylmark wat in die visier is.
Bogenoemde mag die indruk wek dat die Amarok nou “sag” geword het maar dit is nie die geval nie. Daar is twee grade van luuksheid beskikbaar, die vorig Trendline word nou die Comfortline en bo-aan is die Highline. Maar dan is daar ook die Extreme weergawes wat eers die vorige Ultimate-reeks was.
Maar wat is daar in ‘n naam as die hart van die reeks die fenomenale 3-liter V6 is?
Volkswagen is die enigste bakkievervaardiger wat hierdie soort enjin op die mark het. Maar méér belangrik is die feit dat hy die kragtigste enjin op die mark is en ook die hoogste spoed kan behaal. Hy is dus die Nommer Een in hierdie marksegment.
Hoe lyk hierdie syfers? Hy ontwikkel 165 kW tussen 3 000 en 4 500 rpm en die belangrikste, 550 Nm wringkraf vana 1 400 tot 1 750 rpm. Enigste kritiek is dat dit ‘n relatief “smal” bandwydte het. Maar met die 8-gangoutomatiese ratkas, wat teen optimale wringkrag die regte ratvehouding kies, is hierdie “tekortkoming” geen probleem nie.
Met hierdie krag en ratkas is dit geen wonder dat die Amarok soos ‘n windhond van 0-100 km/h in 8 sekondes versnel nie. Die naald gaan draai dan by 193 km/h, die vinnigste op die mark. Boonop doen hy dit ook suinig en word ‘n verbruik van 9 liter/100 km.
Indien dit nie vinnig genoeg is nie, is daar ‘n aanjaer wat vir 10 sekondes lank 180 kW en 580 Nm beskikbaar kan maak as ‘n ander voertuig vinnig verbygesteek moet word. Genadiglik sny hierdie funksie dan uit nadat hy sy ding vinnig gedoen het!
Bandgroottes bepaal die funksie waarvoor die voertuig hoofsaaklik gebruik gaan word en daar is ‘n keuse tussen 17”, 18” en 19” wiele. Hoe meer rubber tussen die naaf en die pad, hoe geriefliker; hoe minder rubber, hoe meer sportief.
‘n Handige “ekstra” is die meganies-sluitbare ewenaar indien die eienaar hom nie op elektroniese stelsels wil verlaat nie.
Dit is handig as daar in die middel van nêrens ‘n groot fout kom.
Die V6 is begeerlik maar as die pryse wat wissel tussen N$665 700 vir die Auto Highline en N$748 600 vir die Auto Extreme, dit buite die gewone koper se prysklas val is daar nog altyd die tweewieltrek 2-liter variant teen N$487 700!
Die prys sluit in ‘n 3 jaar/100 000 km waarborg deur Volkswagen en ‘n 5 jaar/90 000 km Automotion diensplan. Die Amarok moet elke 15 000 km gediens word.