ABS-Remme en ander nuwighede: Is hulle regtig noodsaaklik op nuwe motors?
‘n Week of twee gelede het ek weer ‘n ongeluk gesien wat vermy kon gewees het. ‘n Klein motortjie het probeer uitswaai vir ‘n motor wat voor hom ingedraai het. Twee weke later is die remmerke nog steeds daar as ‘n stille getuienis van die drama wat op die pad wat ek elke werksdag ry, afgespeel het.
Hoe weet mens dat dit vermy kon gewees het?
Kyk gerus volgende keer na die swart strepe op die teerpad. Die remme het gesluit omdat die bestuurder instinktief die rempedaal so hard as moontlik getrap het en die wiele gesluit het. Teen hoë snelheid sal dit gebeur op alle motors wat nie oor ABS-remme beskik nie. (Vir diegene wat werklik nog nie weet nie, ABS is die afkorting vir Anti-Blokkering (sluit) Stelsel).
Indien die bestuurder die stuurwiel probeer draai het om ‘n ongeluk te vermy, sal die patroon altyd dieselfde wees; twee lang swart strepe gevolg deur kort swart spoortjies wat na links of regs uitswaai net voordat die motor amper tot stilstand gekom het. Dit het gebeur omdat die spoed sodanig verlaag het dat die wiele teen lae spoed meteens “stuurbaar” geword het. Maar gewoonlik was dit dan al te laat en is die voorwerp wat die bestuurder wou vermy het, reeds getref. Hou maar dop volgende keer as u weer na vars strepe op die pad kyk.
Hoe gebeur dit dat ‘n mens beheer verloor oor ‘n motor met goeie skokbrekers en padhouvermoë en selfs splinternuwe bande? Die antwoord is eenvoudig; die oomblik as ‘n paniekstop gemaak word, het die rubber geen vasklouvermoë op die teer of ander oppervlakte nie; dit is so goed as wat die wiele gedraai is maar op ys beweeg en slegs vorentoe gaan – ongeag watter manewales die bestuurder probeer om die voertuig se rigting te laat verander.
Die ABS-remstelsel is in Duitsland deur die firma Bosch ontwikkel en is vanaf die tagtigerjare feitlik die norm in Wes-Europa by Mercedes-Benz en Volvo motors wat eerste hierdie stelsel as standaardtoerusting op hulle motors – later ook Busse – aangebring het. Wat dit beteken is dat die remme nie sluit nie maar deur die gebruik van elektroniese sensors, die remme vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde sal sluit en dan weer laat los – en so aanhou sluit en los totdat die voertuig tot stilstand gekom het. Boonop gee dit die belangrike voordeel dat die motor wel “bestuur” kan word in die sin dat die rigting waarin die voertuig beweeg, verander kan word. Dit gebeur ten spyte van die feit dat die bestuurder paniekbevange eenvoudig die remme doodtrap – en daar gebeur niks nie behalwe dat daar rook trek soos die bande skuur en lelike byklanke daarby.
Ou veterane van my tyd wat elkeen een of ander tyd so-iets ervaar het, en wat in ‘n botsing of ongeluk geïndig het, kan van daardie magtelose gevoel getuig; jy sien al in jou geestesoog hoe die volgende sekonde of twee-drie gaan verloop en jy wag op die slag wat gaan volg. Dit is dan ook daarom dat ons nie ons kinders of kleinkinders wat so-pas hulle bestuurslisensies verkry het, hierdie nare ervaring toewens nie.
In die geval van die ongeluk wat ek bo genoem het, kon die ongeluk vermy gewees het as die pa vir sy onervare seun of dogter ‘n paar duisend rand meer uigehaal het en die duurder model van die selfde fabrikaat gekoop het wat wel oor ABS-remme (en lugsakke) beskik.
Maar in tye waar die ekonomie nog sy kop moet oplig, is nuwe motors met die ekstra veiligheidskenmerke waarskynlik buite die ouers (of jong werkendes) se geldelike vermoë. Wat dan gemaak?
As deel van die motorlisensietoets behoort daar ook klem gelê te word op gevorderde tegnieke wat op ‘n glybaan geoefen kan word. Die ABS-elektronika kan deur enige bestuurder aangeleer word op ‘n eenvoudige manier. Die rempedaal word hard getrap tot op die punt wat die remme sluit. En hier kom die moeilike deel: LOS die rem vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde en trap weer hard, los weer en trap weer hard – en hou so aan totdat die motor geleidelike stadiger beweeg en weer hanteerbaar is. Die Engelse noem hierdie stelsel “cadence braking”; so ver ek weet het ons nie ‘n soortgelyke term in Afrikaans nie.
Hierdie tipe remtoetse kan op ‘n stil, reguit pad geoefen word maar die beste is tog maar om dit op ‘n glybaan onder toesig en raadgewing te probeer by ‘n instelling wat gevorderde motorbestuurkursusse aanbied. Die AA sal enige tyd bereid wees om die naaste instelling se naam en nommer te verskaf.
Ek self het op die harde manier die “trap-en-los” manier na ‘n dramatiese pletterstop in 1975 in Angola toe ek met my regterhandstuur links moes gaan om te sien of die pad skoon was om ‘n staande vragmotor verby te steek. Op die laaste oomblik was daar toe ‘n voertuig van voor-af op pad in my rigting! Op die heel laaste oomblik het die Peugeot sy remkrag teruggekry en het ek dwars voor die voertuig gestop met die voorwiele op ‘n klein bruggie – die enigste een vir kilometers. Hierna het ek toe die geheim van “cadence braking” aangeleer en kon ‘n paar besliste ongelukke oor die dekades daarna vermy.
Kyk volgende keer weer met meer kundigheid na remstrepe op die teerpad en kry óf ‘n motor met ABS-remme of kry gevorderde bestuursopleiding!