Méér as net ‘n papiertier uit die Ooste
Teen hierdie tyd het ons al begin gewoond raak aan Hyundai se nuwe neiging om hulle motors nommers eerder as name te gee. Dis nogal jammer want die Getz en Elantra en Atoz het vir baie mense al ‘n deel van hulle daaglikse woordeskat geword. Maar mense is aanpasbaar en syfers is seker daar om te bly!
Die jongste vrystelling van Hyundai het ook net ‘n nommer, die i30; ‘n nuweling in die C-segment waar hy meeding met legendes soos die Volkswagen Golf en die Ford Focus luikrugmodelle. Plus nog ander soos die BMW 1-reeks met die 1,8 liter enjin.
Die stylvolle bak van die i30 is miskien doelbewus in Duitsland ontwerp om die groot manne op eie terrein aa te durf. Maar hy spog nou ook met die jongste tegnologie van Hyundai onder die enjinkap. Die twee modelle wat so pas vrygestel is word aangedryf deur wakker 1,6 en 2-liter petrolenjins.
Hyundai het sy visier met die nuwe model dus hóóg gestel en die uitvoering van die modelle wat nou bekend gestel is, kom almal uit met leersitplekke en leerbekleding plus al die elektroniese veiligheidstelsels wat normaalweg net in duurder motors standaardtoerusting is. Dit sluit vanselfsprekend ABS-remme en elektroniese remstelsels in asook die slimmer en duurder elektroniese stabiliteitsprogram in wat dom foute van die bestuurder op ‘n slim manier kan regmaak. Dit natuurlik as die bestuurder nie reeds vooraf doelbewus besluit het om al die natuurwette soos swaartekrag en middelpuntvliedende kragte te oortree nie. Hier vind die i30 hom dus in die heel beste geselskap van Europa en Skandinawië waar veiligheid die mikpunt van vervaardigers is. En daar is ses lugsakke vir die slag wat dinge tog verkeerd loop.
Die stilering is mespunt vir die wat graag na die uiterlike voorkoms kyk; vir ons ouer en gesoute skrywers en motoriste word die lyne wat gevolg word deur die ontwerpers van midner belang; die hoofdoel is dat hy die lug moet sny om die beste brandstofverbruik te gee en in die proses goed moet lyk. ‘n Nuutjie, en goeie een, is die flikkerligte wat ook nou in die kantspieëltjies aangebring is en waarvan die spieëltjies elektries kan invou as daar in ‘n smal garage ingery moet word.
Volgens Hyundai het die i30 ‘n langer wielafstand tussen die aste as sy mededingers en ‘n korter bakwerk. Dit beteken groter stabiliteit op die oop pad maar ook makliker parkering in die stad.
Binne is daar al die elektronika wat dinge makliker en geriefliker maak; vanaf die klankstelsel tot “luukses” soos volledig, outomatiese klimaatbeheer. Verder word die instrumente en LCD-skerm blou belig; so ‘n effense kopiëring van julle weet wie! En dan die Hyundai eienskappe van USB poorte wat vir musiekmense en jonges van dae groot bonusse is.
Nuut in die Hyundai-reeks is die hoogte- en reikafstand verstelbare stuurkolom en die gebruik van stuurwielkontroles om die radiostasies te beheer en ook spoedbeheer (op die tweelitermodel) Al hierdie funksies dra by tot veiliger bestuur en minder spoedkaartjies. My geliefkoosde addisionele ekstra is ook op die tweeliter beskikbaar, ‘n sondak.
Ander bonuspunte is die hoogte-verstelbare sitplekke wat saam met die ten volle verstelbare stuur, aan die bestuurder die ideale bestuursposisie verskaf – afgesien van gewig of grootte.
Albei modelle ry op allooiwiele en die volgrootte spaarwiel is ook van allooi. Die 1,6 is met 16-duim vellings toegerus en die 2,0 liter met halfchroom 7×17 duim vellings.
Die kattebak maak voorsiening vir 340 liter bagasie maar kan tot 1 250 liter groei as die sitplekke platgeslaan word.
Die hart van die i30 is die 1,6 wat 89kW teen 6 200 rpm ontwikkel en 153 Nm vrystel teen 4 200 rpm. Die syfers vir die tweeliter is 105 kW teen 6 000 rpm en 186 Nm wat teen 4 600 rpm beskikbaar is. Hierdie verrigting word slegs oortref deur mdededingers wat heelwat duurder kos. Maksimum snelhede vir die twee vyfganghandratmodelle is 188 km/h en 195 onderskeidelik. Hyundai maak ook aanspraak op ‘n brandstofverbruik van 8,6 liter per 100 km en 7,5 liter per 100 km vir die 1,6 en 2,0 litermodelle.
Die suspensie is tipies Hyundai met McPherson-stutte voor met kronkelvere en gasgevulde skokbrekers en kantelwerende stawe voor en agter. Elektriese hulp word ingespan in die kragstuurstelsel en dra by tot ‘n beter brandstofverbruik..
Met die koms van die i30 betree Hyundai ‘n nuwe marksektor en sal die waarde per rand wat hy lewer, ‘n groot impak hê op die mark waar rand en sent al hoe belangriker word. Verwag dus dat daar van die mense gaan wees wat vroeër effens neus opgetrek het vir die Koreane, hulle lojaliteit aan hulle gevestigde handelsname gaan verander en met nuwe oë na Hyundai gaan kyk. En suiwer op die oog af lyk dit of die i30 dinge kan laat gebeur. Veral as daar na die prys gekyk word: N$189 900 vir die i30 1,6 liter en N$229 900 vir die tweeliter. Voeg dan nog daarby Hyundai se 5-jaar/100 000 km waarborg en 5-jaar/100 000 km diensplan.