Die Nuwe Polo het aangekom!
Normaalweg skryf ‘n mens iets by die opskrif by soos “rewolusionêr”, “waarde vir geld” of iets in dier voege. Hierdie keer nie. Die hoofnuus is dat die nuwe Polo hier is en dat die befaamde klein ikoon van Volkswagen nou nog better is en ‘n nog sterker indruk in sy nuwe baadjie maak en dat die kragbronne ook nuut is. Uitstekend word nou nog beter.
Vanaf die intrapslag het die Polo sy merk gemaak toe hy meer as ‘n dekade gelede op die plaaslike toneel verskyn het; eers in Classic sedan-formaat en daarna in sy luikrug Playa weergawe. Die kragbronne het gewissel tussen 1,4, 1,6 en 1,8 liter en laasgenoemde weergawe het hom destyds die onderskeiding gegee dat hy die vinnigste Polo ter wêreld was! Geen wonder dat Volkswagen in Suid-Afrika meer as 300 000 Polo’s verkoop het nie.
Die Polo het oor die jare by ons ‘n reputasie opgebou as ‘n betroubare en gewillige motor waar dinge meeste van die tyd altyd reg geloop het – met apologie aan ‘n Japannese mededinger. Maar oor die jare het die ontwerp begin verouder ondanks die bekendstelling van die nuwer weergawes wat direk uit Duitsland gekom het nadat die Spaanse konneksie verbreek was.
Die nuwe Polo onderskei homself van die vorige reeks met sy nuwe, breëbors voorkant wat die breedte van die motor beklemtoon. Aan die agterkant is dit weer die bonkige agterligte wat die Polo se status verander van Buksie na Buks. Op die oog af ‘n kragtige knaap.
Onder die enjinkap is die masjinerie ook nuut met met 1,4en 1,6 petrolenjins en ‘n turbodiesel wat 1,6 liter verplaas. Hierdie nuwe-tegnologie enjins is almal vier-klep per silinder-masjiene wat omgewingsvriendelik is en aan die Europese norme voldoen om die planeet aarde ‘n blaaskans te gee.
Die 1,4-enjin verplaas 1398 cc en ontwikkel ‘n parmantige kW teen 5 000 rpm en stel 132 Nm vry teen 3 600 revolusies; die groter 1598 cc ontwikkel 77 kW teen 5 250 revolusies en maak 155 Nm beskikbaar teen 3 500 rpm. By die kus behoort die 1,4 in die meeste motoriste se vereistes vir krag en wringkrag te voldoen. Dit is egter die turbodiesel wat werklik indruk maak. Hy deel die petrolenjin se verplasing en uitset in kW maar as dit by die wringkrag kom stel hy die ander manne in die skadu met sy 250 Nm wat hy teen ‘n rustige 1 500 tot 2 500 rpm vrystel.
Sit hom in vyfde in die Kaap en ry tot in die Baai in dieselfde rat; hy sal dit in elke geval kan doen sonder om stil te hou vir brandstof want Volkswagen gee ‘n verbruik op die oop pad (en stad) van 4,2 liter per 100 km! Hy is ook die vinnigste van die merk af van al die modelle en behaal 0-100 km in10,4 sekondes en laat draai die naald by 189 km/h. Toegegee, die ander knape haal tussen 177 km/h tot 188 km/h. In ons land met sy 120 km/h spoedbeperking is dit in elk geval slegs van akademiese belang.
Dit is nie net die voorkoms en verrigting wat beïndruk nie; die binne-afwerking en algemene bougehalte van die Suid-Afrikaanse Polo is steeds die norm. Daarom kan hulle in Uitenhage ook spog met uitvoerkontrakte vir 55 000 eenhede na regterhandstuurllande wat insluit die puntenerige Japan; in 2009 het hulle reeds 19 000 eenhede uitgevoer.
Veiligheid was nog altyd ‘n sterk punt van Volkwagen en die nuwe Polo’s word almal toegerus met lugsakke en kant-lugsakke om die passasiers te beskerm. Die aanwending van ABS-sluitwerende remme en remhulp word ook op al die modelle ingebou. Die warmer Tdi beskik ook oor stabiliteitsbeheer en die baie handige hulp om teen heuwels weg te trek sonder dat die handrem gebruik hoef te word. (Let op leerlingbestuurders; dit is die ideale motor om ‘n rybewystoets makliker mee deur te kom!). Ouer bestuurders sal ook hierdie funksie baie waardeer.
‘n Inherente veiligheidseienskap van die Polo is die feit dat die stuurwiel vir beide hoogte en diepte verstelbaar is. Hiermee kan die ideale sitposisie van die bestuurder gevind word – ook die feit dat die sitplek vir hoogte verstelbaar is – en is dit iets wat nooit oorskat kan word nie omdat dit nie net groter gemak verskeker nie maar ook baie beter beheer oor die motor gee. En op die lang pad tussen die Kaap en die Baai, of Egoli, is hierdie faktor baie belangrik.
In die Kalahari het die manne destyds gepraat van ‘n “klaargemaakte mouter”; ‘n motor wat wat alles het wat ‘n mens nodig het. Die Polo is so ‘n motor.
En wat kos hierdie knaap om in jou garage te parkeer?
Pryse vir die 1,4 intreemodel is ‘n uiters billike N$144 900 met die Comfortline met ekstra toerusting N$161 900. Die intree 1,6 Trendline N$166 900 en die Comfortline met alles daarby N$183 800. Die outomatiese Tiptronic gaan jou N$197 900 uit die sak jaag terwyl die TDI met alles wat oop- en toemaak N$209 900.
Volkswagen gee ‘n 3-jaar/120 00 km waarborg en twaalf jaar waarborg teen roes. ‘n Diensplan is opsioneel en gaan die koper vanaf N$6 856 kos vir 5 jaar of 60 000 km.
Goed gedoen, Uitenhage!