Bekendstelling: Ford Ranger 3.2 XLT AT 4×4 Wildtrak

‘n Nuwe Bul in die Blou-Ovaal se kraal

Sou die volgende beskrywing van luukse kenmerke van ‘n voertuig aan ‘n voornemende koper voorgehou word om die tipe voertuig te identifiseer, sou die raaiskoot waarskynlik na een of ander luukse Duitse-fabrikaat passasiersmotor verwys.

“Stuurwiel gemonteerde kontroleknoppe, aanboord rekenaar, eletronies verstelbare bestuurder sitplek, kantspieëls en vensters, outomatiese reënveërs en hoofligte, misligte, elektrochromatiese truspieël, tru-kamera, misligte, lugsakke voor en aan die kante, elektroniese stabiliteitskontrole (DSC), ABS-remme, noodrembystand, dubbel sone lugreeling, stem geaktiveerde Bluetooth, CD/radie en USB/iPod sokke ens. ens……”

Maar nee, meneer of mevrou of mejuffou, die voornemende koper, hierdie beskrywing verwys na Ford se nuwe dubbelkajuit 3.2 XLT AT 4×4 Ranger. En dit is nie al nie… Daar is hope en nogmaals hope ruimte vir groot lywe, lang bene, (iets wat tot ‘n meerdere en mindere mate altyd ‘n probleem by dubbelkajuitbakkies is), stoorspasie en holtes vir bottels, selfone, pakkies en sakkies en die klap van die paneelkassie is selfs groot genoeg om jou skootrekenaar daarop staan te maak. Ekstra pakplek is onder die voorste sitplekke ingeruim en die middelkonsole word deur lugreëling koud gehou vir die bier of koeldranke vir die langpad.

Die bestuursitplek kan elektronies verstel word om elke hoek en kurwe, breedte, lengte en hoogte van verskillende lyfkontoere te pas van wie ook al agter die stuurwiel inskuif. Die stuurwiel verstel ongelukkig egter net wat hoogte betref aangesien daar genoeg ruimte is om sitplekke te verstel sonder om enige gemak aan agterste insittendes prys te gee. Vir maksimum gemoedsrus, vir veral SA voertuigeienaars, het die Ranger met sy verskeidenheid van veilighheidsmaatreels, hom onderskei as die eerste bakkie in sy segment wat ‘n 5-ster Euro NCAP veilgheidsgradering verkry het.

Binneruimte, of dan die gebrek daaraan by die vorige model, het nie gunstig vergelyk met die Ranger se bekendste mededingers in die mark nie en juis daarom het Ford se ontwerpers die bul by die horings gepak met ‘n heel nuwe binneontwerp.  Selfs nie die onderstel is behou nie en moes plek maak vir ‘n nuwe en groter een.

Terwyl dit die luukse afwerking en die ergonomiese funksionaliteit van die binneruim van die nuwe Ranger is wat opval, is dit tog die heeltemal ruwe stillering van veral die vooraansig, wat die Ranger ‘n byna trokvoorkoms gee en wat baie byval sal vind by 4X4 entoesiaste. Die byna macho-charisma van die nuwe Ranger val in die klas van die ou Ford-150 modelle en sal veral byval vind in ‘n oorwegend manlik-gedomineerde mark. Byna alles aan en van die nuwe Ranger is GROOT.

Die enjinkap is wyd en die hoofligte is groot maar met ‘n eenvoudige ontwerp terwyl die sierrooster bestaan uit drie breë chroom panele.  Die syspieëls is groot, die deure is groot met diep inhamme aan die sykante.

En ja, die Ranger IS werklik groot. Teen 5 247 mm is dit die langste dubbelkajuit tans, 14mm langer as die Hilux , 20mm langer as die Amarok en 54mm langer as die Navara. Tog handhaaf die Ranger ‘n goeie balans tussen binneruimte en maneuvreerbaarheid, veral as dit by ondergrondse parkering kom. Ja, die nuwe Ford Ranger IS ook werklik nuut. Die 4×4 modelle het nou meer grondhoogte (237cm) en sy  sleepkapasiteit is ‘n yslike 3 350kg wat saam met sy vragkapasiteit van 1 049kg hom die leier in sy segment maak.

Die nuwe Ranger se enjinkrag van 147kW en wringkrag van 470Nm plaas hom ook in ‘n leiersposisie in vergelyking met die Hilux, Navara en Amarok. Brandstofverbruik was ‘n skaflike  ongeveer 10liter/100km op die oop- pad teen ongeveer 120 km/h maar met sagter behandeling het die verbruik tot ongeveer 9.5liter/100km gedaal.

Vir Ford is die nuwe Ranger werklik ‘n groot stap vorentoe  wat vir hom beslis ‘n plek tussen die top grotes gaan laat inneem. Ford se Vise-President, Bemarking, Verkope en Diens het dan ook tereg opgemerk dat alle aspekte van die Ranger vernuwe is en dat net die naam nog dieselfde bly.

Natuurlik sal die voornemende bakkiekoper die nuwe Ranger vergelyk met sy vernaamste mededingers soos die Hilux, Navara en die Amarok. In meer as een opsig sal die een fabrikaat beter vertoon as die ander en sal dit hoofsaaklik van die potensiele verkoper afhang was sy of haar prioriteite en behoeftes is. Vir die baie aanhangers van die Ranger is dit goed om te weet dat daar meer as 20 verskillende modelle van die 3.2-reeks is om van te kies. Ford se Ranger reeks het ongekende sukses met sy verkoopsyfers oor die afgelope jaar behaal. Die nuwe stoetbul in die kraal gaan hierdie syfers beslis ‘n verdure stewige stoot gee.

Die Ford Ranger Wildtrak 3,2 XLT 4×4 Dubbelkajuit was die model wat toetsbestuur is se verkoopprys is N$475 351 wat nie BTW insluit nie. Diensintervalle is elke 15 000km, die waarborg 4jaar/120 000 en die Diensplan beloop 5jaar/90 000km. Ford waarborg sy reeks vir 5 jaar teen roes terwyl Padbystand oor 3 jaar strek.

Leave a Comment