Bekendstelling: Chevrolet Utility [2011]

Chevrolet se nuwe Ute

Die nuwe BRIC handelsooreenkoms, wat onder andere Brasilië, Indië en nou ook Suid-Afrika insluit, kry praktiese neerslag in die vervaardiging van die nuwe Chevrolet Ute wat nou onlangs by ons op die mark sy opwagting gemaak het.

General Motors van Suid-Afrika noem die nuwe voertuig ‘n “Ute”, afgelei van die Australiese term Utility. Hierdie  naam kom al lankal saam met ons; die oueres van dae in ons midde sal nog die tweedeur Chevrolet’s met hulle bakkie-agterkante onthou.

Hierdie konsep kom uit die dertigerjare toe die Australiërs gevra het dat hulle ‘n voertuig nodig gehad het om Sondag mee kerk toe te ry en Maandag ‘n skaap of twee dorp toe te vervoer.

Die befaamde Corsa bakkie, wat by ons die lig gesien het as ‘n Opel, en ‘n jaar of wat gelede ‘n Chevrolet Ute geword het, is nou in ‘n splinternuwe gewaad en formaat en as die Chevrolet Utility op die mark geplaas.

Nie alle Suid-Afrikaners was bewus van die feit dat die suksesvolle eerste generasie Corsa’s in Suid-Afrika eintlik Brasiliaanse Chevrolets was nie. Dit is hier waar die BRIC-konneksie vandaan kom. Maar miskien moes GM maar die Brasiliaanse naam vir hierdie bakkie, die Montana, behou het.

Die mense van Worcester sal die naam waardeer en vir die res van ons het ons die romantiese assosiasie met ou Cowboy-rolprente wat in die Montana geweste van Amerika gemaak is.

Die nuwe Chev bakkie gaan beslis in die voetspore van sy voorganger volg; die vorige model was vir 80 opeenvolgende maande die beste verkoper in sy klas. En hierdie aantreklike knaap het nog meer aantreklik van die buitekant af geraak.

Ook aan die binnekant en onder die enjinkap is daar weer ‘n paar eerstes. Hiervan is die belangrikste waarskynlik die keuse van enjins; ‘n 1,4 en 1,8 liter petrolenjins en ‘n dieselvariant van 1,3 liter wat volgende jaar hierheen op pad is. Die kleiner 1,4 liter enjin ontwikkel 68 kW teen 6 000 rpm en stel 120 Nm beskikbaar teen ‘n rustige 3 200 rpm.

Die 1,8 liter stel 77 kW vry met 161 Nm wat teen ‘n nog rustiger 3 000 rpm beskikbaar is. Dit beteken minder ratte verwissel en beter brandstofverbruik. Die krag word van die enjin na die wiele oorgedra deur ‘n vyfgangratkas.

Die verfyning van die nuwe bakkie is die feit dat hy met twee lugsakke voor toegerus is en dat die stuurwiel horisontaal en vertikaal verstelbaar is. Die bestuurdersitplek is ook vir hoogte verstelbaar sodat kortes en langes hom ewe lekker kan bestuur. Geluk namens ons kort outjies!

Op die Club en sport weergawes is die klankstelsel Bluetooth versoenbaar en beskik ook oor USB en iPod poorte vir die jong kopers vir wie musiek regtig saak maak! (Maar wat maak ‘n mens met 20 000 liedjies op jou geheuestokkie?). Verder is daar ook lugreëling op die duurder modelle as standaardtoerusting. Dit maak sin want vir talle jongmense is ‘n bakkie sy eerste motor – soos op die Amerikaanse mark die geval is.

Behalwe vir die intreemodel is afstandbeheerde sentrale sluiting en ‘n alarmstelsel standaardtoerusting en alle modelle is toegerus met ligte wat afgaan as die bestuurder reeds tot by die voordeur gevorder het; ‘n belangrike veiligheidsfaktor in ons geliefde land.

Die nuwe bakkie is groter as sy voorganger en behou ook die dravermoë van ‘n driekwart-tonner. Die algehele lengte is nou 4514mm teenoor die vorige se 4436mm endie breedte het opgeskuif van 1646mm tot1700mm. Die asafstand is nou effens minder maar die vooras is verbreed tot 1429mm. Dit is net die agteras wat sy breedte behou het.

Met sy splinternuwe en byderwetse voorkoms gaan die nuwe Chev ¾ tonner beslis ‘n wenner wees.

Maar wat gaan die nuwe knaap kos om in die waenhuis te sit? Pryse begin by N$115 600 vir die 1,4 liter intreemodel; N$136 000 vir die 1,4 liter Club en die 1,8 liter Club gaan die nuwe eienaar uit die sak jaag. Die topmodel is die 1,8 Sportbakkie teen N$173 500.

Met die nuwe Chevvie vars uit die oond is dit na alle waarskynlikheid die moeite werd om ‘n draai by die naaste handelaar te maak en uit te vind wat die tipe waarborg en diensplanne hulle bied!

Leave a Comment