Kraaknuut 4×4 Supersport uit Korea
In die relatiewe kort tydperk wat Hyundai op die plaaslike mark beskikbaar is, het hierdie Koreaanse vervaardiger, by wyse van spreke, die stryd as een van die topverkopers in die land amper stormenderhand oorwin.
Hoe is dit moontlik? Van die Amerikaanse vervaardigers wat al in die 1920’s monteer-aanlegte in Port Elizabeth gevestig het, sal baie graag die Hyundai-resep wil toepas in die hoogs mededingende mark van vandag. Aanvanklik het hulle die regte resep gehad maar iewers langs die pad die kluts verloor.
Hyundai se resep was eintlik nie ‘n geheim nie; begin met ‘n basiese motor, sonder tierlantyntjies maar betroubaar, ondersteun die koper met ongekende nasorg en laat hom spesiaal voel en laat hom (of haar) deel van die nuwe “familie”. Eers dan kan daar méér en meer gesofistikeerde voertuie by die reeks gevoeg word. Een van hulle is die Santa Fé wat nou al sy derde generasie op die mark geplaas het.
Die nuwe Santa Fé is uit-en-uit die ontwerp van Peter Schreyer wat verantwoordelik is vir ‘n paar Duitse ontwerpe wat steeds die oog bly vang. Hyundai beskryf die moderne stilering as “Fluidic Sculpture” wat, myns insiens, basies daarop neerkom dat ‘n vallende waterdruppel die mees aerodinamiese vorm is en dat dit beter brandstofverbuik en optimale verrigting tot gevalg het. En belangrik, ook mooi en byderwets lyk!
Soos dit maar gaan, word alle sportnutsvoertuie nie altyd op werklike rowwe terrein aangewend nie en die aantreklike nuwe Santa Fé is dan ook beskikbaar in beide goedkoper 4×2 asook duurder 4×4 uitgawes. So is daar ook modelle met vyf en sewe sitplekke beskikbaar om aan die nuwe eienaar se behoeftes te voldoen. So is daar ook die vlakke van uitvoering en toerusting wat verskil; die oorgrote meerderheid van Suid-Afrikaners en Namibiers is waarskynlik heeltemal tevrede om klaar te kom sonder luukses soos sitplekke wat elektries verwarm word!
Dit is dus in hierdie super-luukse klas wat die Santa Fé met die Duitsers meeding en die opponente rand vir rand die spit laat afbyt. Die jongste elektroniese hulpmiddels, of dit nou die klank en vermaak gedeeltes is, of die harde elektronika wat die motor veiliger laat hanteer, alles is daar. En dan hier en daar nog ekstras wat die Duitse modelle nie bied nie bied nie. Hierdie ekstras sluit in vier luisprekers en twee “ tweeters”, radio en CD speler en ook poorte vir AUX kabels, iPod en USB poort om alle musiekbronne te koppel. Die klankstelsel kan deur kontroles op die stuurwiel af beheer word.
Geen vervaardiger kan dit meer bekostig om nie al die beskikbare elektroniese veiligheid-stelsels, wat rem-aksie en glybeheer insluit, as standaard-toerusting in te sluit nie. Alles wat kan help om ongelukke te vermy is daar, en as daar fout kom, is daar die sestal lugsakke wat skades moet beperk. Die Santa Fé het ook die Euro NCAP veiligheidstoets met vyf sterre geslaag.
By ons het die nuwe spasiewaens die stasiewaens grootliks vervang. Dit is dan ook hier waar die Santa Fé se aanpasbaarheid ter sprake kom. Die Premium model is die intreevlak wa met voorwielaandrywing en sitplek vir vyf met ‘n reuse kattebak wat meer as 1 000 liter kan hou! Selfs ‘n man wat net dogters het sal al die bagasie vir ‘n lang vakansie kan inpak sonder om ‘n Ventertjie aan te haak. By die duurder Executive en Elite modelle, met sewe sitplekke in gebruik, is daar steeds verbasend baie pakplek oor.
‘n Belangrike kenmerk is die middelste ry sitplekke waarvan die rugleunings agteruit kan kantel om die maksimum gemak vir die passasiers op die langpad te verseker. En terloops, wanneer die heel agterste sitplekke nie gebruik word nie, vou hulle netjies plat om ‘n gladde laaioppervlak te verseker.
Aan die buitekant is daar al die ontwerpersnuwighede soos Xenon-hoofligte met LED stroke wat ook as flikkerligte in die buitespieëls dien asook agter; kenmerke van die duur luukse motors.
Aan die agterkant is daar ook twee dubbeluitlaatpype en ‘n hoë remlig met LED beligting. Van die kant gesien is die allooiwiele ‘n bate vir die Santa Fé; by die standaarduitgawe is die wiele 17”, by die Executive en Elite modelle is die wielgrootte onderskeidelik 18” en 19”. Die spaarwiel is netjies weggesteek onder die laairuimte in die bak.
Dit sover die die uiterlike dinge van die nuwe langpad-ryperd; die mooiste eienskap van die nuweling is die beproefde en wakker 2,2 liter 16 klep-turbodieselenjin wat 145 kW teen 3 800 rpm ontwikkel en die 436 Nm wat tussen 1 800 en 2 500 rpm beskikbaar is. Die krag word na die wiele oorgedra deur ‘n baie gladde 6-gang ratkas. Hierdie goeie verrigting kan gedeeltelik toegeskryf word aan die gebruik van ‘n enkelbuis inspuitingstelsel.
Die Santa Fé versnel van 0-100 km/h in 10 sekondes en die naald gaan draai by 190 km/h as die kole gegooi word. Volgens Hyundai kan ‘n algehele verbruik van 8,3 liter per 100 km verwag word; afhangende van die bestuurstyl van die bestuurder.
Die nuwe wa is effens langer en breër as sy voorganger en die grondvryhoogte is effens minder. Dit is dan ook hoekom hy meer beenspasie en gemak vir die passasiers gee. Die laer hoogte van die grond af maak hom nog steeds ‘n goeie gruispadvreter, die doel waarvoor hy ontwerp is. Hierdie perd uit die Hyundai-stal is nie bedoel om met Land Cruisers en Land Rovers mee mee te ding nie. Desondanks beskik die nuwe knaap oor ‘n sluitbare sentrale ewenaar op die 4×4 modelle om steiltes met los oppervlaktes, of sneeupaaie, aan te durf. Kragoordrag vind dan plaas op ‘n 50:50 verdeling van krag op die voorste en agterste aste. Die funksie skakel outomaties af as 40 km/h oorskry word.
Die vlagskip van die reeks is die Elite wat spog met ‘n vol-lengte sondak en miniatuur kamera om te wys wat agter die voertuig aangaan.
En wat kos hierdie wakker bussie? Die voorwielaandrywing Premium jaag jou N$434 900 uit die sak, die 4×4 Executive met 7 sitplekke N$459 900 en die top Elite met sy panoramiese sondak N$499 900. Ingesluit hierby is die gemoedsrus van Hyundai se 5 jaar/150 000 km waarborg, en meer belangrik, sy 5 jaar of 90 000 km dienskontrak. Diensintervalle is elke 15 000 km.