Puik waarde vir geld
Kort op die hakke van ‘n toetsrit met GWM se H5 vysitplek SUV, wat ‘n uiters gunstige indruk gemaak het, het ‘n toetsrit oor dieselfde roete met die Steed 5 dubbelkajuit 2.0 liter VGT gevolg. En in hierdie geval het die Steed 5 bakkie selfs nog ‘n beter indruk gemaak as sy eersgenoemde neef uit dieselfde stal, alhoewel hulle verskillende klante lok.
Dit word bereken dat terwyl dit die Koreane ietwat meer as 10 jaar geneem het om werklik tot die Suid-Afrikaanse motormark deur te dring, (mens moet byvoeg dat die Rautenbach fiasko Hyundai erg geknou het) dit die Chinese modelle slegs die helfte van die tyd gaan neem om dieselfde beduidende impak op die plaaslike motormark te maak. Die tyd het beslis aangebreek om maar die siniese opmerkings oor Chinese motorvoertuie maar eenkant te laat en die realiteit van méér en méér van hierdie voertuie op ons paaie, aanvaar.
En dis juis hier waar GWM voortbou op ‘n stewige fondament wat alreeds deur ander Chinese vervaardigers gelê is en die maatskappy toe besluit het die Steed 5 bakkiereeks op ons paaie los te laat. (Verdere goeie nuus is dat GWM ook die kleiner passasiersmotormark met die luikrug C10 betree het, maar dit is ‘n storie vir ‘n ander dag).
Met die inklimslag in die Steed 5 kan jy maar dadelik die bestuursitplek vorentoe skuif ongeag of jy ietwat langer as die gemiddelde bestuurder is. Dit dui op oorgenoeg ruimte aan agterste passasiers ook, iets wat gewoonlik by dubbelkajuitbakkies ietwat van ‘n frustrasie vir ‘n volwassene wat agter sit, kan wees. Hoewel nie ‘n volbloed passasiersvoertuig nie bied die Steed 5 bakkie voldoende luukse kenmerke in die binneruim om enige passasier tevrede te stel.
Die bakkie bied kragstuur, ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding, dubbele lugsakke, leersitplekke, elektriese vensters en kantspieëls, afstandsluitbeheer, CD/MP3 speler met stuurwielkontrole, misligte voor, genoeg stoorplek vir kleiner items, ‘n seilbedekking vir die bak wat maklik verwyder en opsit terwyl die 4×4 model gemaklike oorskakeling bied na die verskillende trekmodusse. Ook gerieflik is die twee 12 volt kragpunte (een vir die sigaretaansteker) wat jou instaat stel om byvoorbeeld jou GPS in te prop terwyl jy gelyktydig ook jou selfoon kan laai. Hierdie luukse kenmerke is almal standaard by die verskillende modelle.
Klein jakkalsies is daar egter ook by die Steed 5 wat insluit die posisie van trurat en eersterat wat baie naby aan mekaar in die geval van die H5 sit en maklik tot misverstand en konsternasie kan lei, maar wat gelukkig in die geval van die Steed 5 4×2 uitgeskakel is met ‘n optrekknop om trurat te kry. Daarby sou mens verwag dat bogenoemde, en die ander luukse kenmerke wat die Steed 5 bied miskien aangevul kon wees met ‘n aanboord rekenaar.
Die Steed het ‘n grondhoogte van 198mm wat uiters gerieflik vir rowwe terrein is, maar bied ook ‘n probleem met die laai van ‘n groterige item omdat die agterflap miskien laer kon afslaan om laai te vergemaklik. Die groot agterligtegroep bied saam met die 16dm allooiwiele aan die Steed 5 ‘n uiters sportiewe voorkoms, maar kan ook die risiko bied van maklike beskadiging as ‘n swaar vrag gelaai moet word
Die bakkiereeks is in drie modelle beskikbaar met die keuse van 4×2 of 4×4 aandrywing vir al drie modelreekse. Alle modelle is in dubbelkajuit format en bestaan uit die 2.4MPI petrolenjin, (100kW en 200Nm) en die 2.5TCi (80kW en 300Nm) en 2.0 VGT (110kW en 310Nm) wat albei dieselmodelle is. Die Steed 5 2.0 VGT deel hierdie kragbron met GWM se H5 SUV.
Laasgenoemde twee modelle se enjins is juis opgegradeer vir beter kraglewering deur hoë druk brandstofinspuiting, die hersirkulasie van uitlaatgasse en ‘n VGT turbo-aanjaer. Aandrywing geskied deur ‘n sesgang ratkas na die agterwiele in die geval van die twee laasgenoemde modelle.
Miskien is die mees uitstaande en opvallende kenmerke van GWM se Steed 5 DC modelle, sowel as die H5, hulle uitstekende brandstofverbruik en kompeterende pryse. Hierdie is juis faktore wat ‘n al hoe groter rol speel wanneer Jan Alleman moet besin oor die aanskaf van ‘n nuwe voertuig. Wat brandstofverbruik betref het die toetsvoertuig, ‘n 4×2 Steed 5 met‘n redelike vrag daarop, op ‘n buitestedelike roete net onder 10liter/100 km verbruik gelewer.
Kom dit by prysvergelyking is die keuse voor die handliggend vir ‘n voornemer koper: Koop ‘n GWM 4×2 Speed 5 vir N$234 900 of ‘n 4×4 vir N$259 900 (Februarie pryse) of ‘n ander mededingende Oosterse bakkie (Toyota, Mazda, Nissan, Isuzu ens.) vir ‘n N$100 000 meer. Saam met bogenoemde en die feit dat die Steed 5 wêreldwyd uitstekende verkoopsyfers toon, moet sy mededingers beslis iets gee om oor na te dink. Daarby bied GWM ‘n driejaar of 100 000 km waarborg op die reeks asook ‘n tweejaar 24 uur-padbystand plan.
Hetsy stadsbewoner, buitelugmens of ‘n voltydse boer, GWM se Steed 5 bakkiereeks bied beslis uitstekende waarde vir geld en gaan die Steed beslis sy kleim afsteek in hierdie uiterste kompeterende mark!