Spitstegnologie vir die Bos
Tydens ‘n indrukwekkende bekendstelling in die skadu van die Waterberge in Limpopo het Mercedes verras met die verdere verfyning en doeltreffendheid van sy nuwe, derde generasie M-Klas 4×4.
Die uiterlike veranderinge is subtiel en bou voort op die bekende “gesig” van die M-Klas nutsvoertuie wat ewe tuis op die Autobahn as op growwe gruispaaie is – wat natuurlik selde voorkom in die land(-e) van herkoms. En binne is natuurlik al die musiek en kommunikasiemiddele waarsonder die jonger generasie nie meer kan klaarkom nie. Klaargemaak vir die onder-vyftigs.
Wat veral van belang is, is die feit dat die verskillende M-Klas modelle in die reeks nou selfs nog met tussen 23% en 28% suiniger te werk gaan met brandstofverbruik. Dit is dan ook veral die nuwe ML 250 Blue TEC 4 MATIC wat hier die oog vang met ‘n 6.5 liter/100 km verbruik en ‘n CO2 gasuitlaat van slegs 165g/km. Hierdie uiters ekonomies brandstofverbruik gee aan hierdie model ‘n reikafstand van soveel as 1 500 km op ‘n vol tenk – inderdaad merkwaardige statistieke en ‘n wêreldrekord in die SUV-segment!
Om met die deur in die huis te val. Die gedugte span nuwelinge bestaan uit die volgende modelle: Die ML 250 Blue TEC 4MATIC, toegerus met ‘n viersilinderenjin wat 150 kW ontwikkel en 500 Nm wringkrag vrystel en dit met ‘n brandstofverbruiksyfer van slegs 6,5 liter/100 km. (N$683 500).
Die ML 350 Blue TEC 4MATIC is toegerus met ‘n buitengewone herontwerpte 3.0 liter V6 enjin wat 190 kW krag ontwikkel en ‘n indrukwekkende 620 Nm wringkrag vrystel en tog nog ‘n 24% verbetering op brandstofverbruik lewer in vergelyking met die vorige ML 350 CDI 4MATIC, naamlik 7,4 liter/100km. (N$778 000). Die petrolvariant van genoemde ML 350 4MATIC V6 lewer 225 kW krag en 370 Nm wringkrag met ‘n verbruiksyfer van 8,8 liter/100km. (N$752 000).
Die ML 500 spog met ‘n V8 enjin met direkte brandstofinspuiting wat 300 kW ontwikkel en 600 Nm beskikbaar stel. Die CO2 uitlaatgasse van 287 gm/km is waarskynlik nie so positief nie maar dit is brute krag wat onder die enjinkap lê. Hierdie bul gaan die koper N$935 900 uit die sak jaag.
Die Mercedes-bemarkingspan het ook van die geleentheid gebruik gemaak om die topmodel in die reeks, die ML 63 AMG, aan joernaliste te wys. Die leier van hierdie indrukwekkende modelreeks is toegerus met ‘n V8-enjin wat 386 kW krag en 700 Nm tot die beskikking stel van ‘n bevoorregte eienaar. Hierdie topmodel se uitlaatgassyfer is inderdaad nog laer as die ML 500 s’n wat werklik ‘n veer in die hoed van Mercedes se ingenieurs is.
Die ML 63 AMG wat as die kersie op die Mercedes- koek bestempel kan word, se 5.5 liter V8-enjin met sy dubbel-waterverkoelde turbo-aanjaers stel die motor in staat om binne slegs 4.8 sekondes vanaf 0-100 km/h te versnel. Gelukkig word die topspoed elektronies tot 250 km/h beperk vir bestuurders wat nie die gewig van hulle regtervoet onder beheer kan hou nie.
Wanneer die ML 63 AMG beskikbaar sal wees is nog nie vasgestel nie, maar hierdie merkwaardige motor verdien ‘n storie op sy eis wat hopelik eersdaags in die pers sal verskyn. Mercedes-entoesiaste wat in hierdie klas val kan werklik hulle lippe aflek in afwagting op hierdie supermotor waarvoor N$1 380 000 opgedok sal moet word. Maar nou ja, ‘n AMG is die droom van elke vurige Mercedes entoesias.
Die uitstekende ekonomiese brandstofverbruik van Mercedes se nuwe M-Reeks word moontlik gemaak deur ‘n omvattende besparingspakket, waarna as “Blue EFFICIENCY” verwys word, tesame met die mees moderne ingenieurswese. Dit sluit onder andere in die nuwe sewespoed 7G/TRONIC PLUS outomatiese transmissie met ‘n brandstofbesparende omsetter, lae wrywing rollaers en asaandrywing, die elektronies beheerde stuurmeganisme en die verfynde aerodinamika wat veral in die bakontwerp duidelik sigbaar is, maar ook in die ontwerp van die voorste buffer en die A-pilare.
Vanaf die standaard intreemodel tot by die top van die reeks bied die M-Reeks die mees moderne rygeriewe en veiligheidskenmerke wat aan Mercedes ikoniese status deur die jare besorg het en wat sinoniem met Mercedes-Benz is.
Die 4MATIC permanente vierwielaandrywing van al die modelle in die M-Reeks bied ook vir buitelugentoesiaste wat die rowwe agterpaaie wil aandurf, die mees moderne tegnologiese funksies om dit sodoende ‘n ongelooflike ervaring te maak. Standaardtoerusting sluit in 4ETS elektroniese vastrapbeheer en ‘n wye reeks van ander hulpmiddels wat die aandurf van rowwe terrein selfs vir die onervare bestuurder ‘n plesier sal maak. Hierdie kenmerke van die M-reeks is slegs ‘n armlengte weg van die bestuurder in die vorm van ‘n skakelaar op die middelkonsole. Grondhoogte kan elektronies verstel word tot ‘n maksimum hoogte van 285 mm.
Ruimte ontbreek om reg te laat geskied aan die gerief, betroubaarheid, veiligheid en rygenot wat die nuwe M-reeks van Mercedes deur middel van die mees moderne tegnologiese ontwikkeling aan die voornemende eienaar bied. Met die nuwe en verbeterde M-reeks modelle het Mercedes standaarde aan sy mededingers gestel wat moeilik oortref gaan word.
Soos met alle Mercedes-Benz passasiersmotors kom die M-Klas reeks ook met ‘n standaard MobiloDrive onderhoudsplan van 6-jaar/120 000 km.