Padtoets: Nissan Qashqai 1,5 dCi Acenta 4×2

‘n Mini Murano!

Die Nissan Qashqai het alreeds in 2007 sy opwagting plaaslik gemaak en het ons toé oor die nuwe reeks geskryf – op daardie stadiums nog crossovers genoem.

Toe was daar slegs petrolenjins vir die reeks beskikbaar en het hierdie skrywer reikhalsend uitgesien na die koms van die turbodiesel, en veral die 4×4 uitgawes wat later sou volg.

Met die jongste toetsvoertuig, wat toe die 1,5 liter turbodiesel-weergawe was, is die geleentheid aangegryp om die Klein Karoo te gaan verken en weg te breek van die gebaande weë van die Boland af.

Die haastige rit op ‘n Vrydagmiddag Mosselbaai toe was ‘n goeie teerpadtoets; al die gerief van ‘n goeie klankstelsel en ‘n radio wat uitstekende opvangs bied en waar daar nie gedurig ‘n beter sein gesoek moes word nie, was louter plesier. Die pad was lekker en die stadiger bestuurders het mens ‘n kans gegee om verby te kom; dit alles in laatmiddag herfs-sonnetjie! Dit is sulke tye wat die gemaklike sitplekke en volledig-verstelbare stuur en sitplek op sy beste waardeer word.

En daar is min dinge soos die sagte gedreun van ‘n dieselenjin om ‘n mens in ‘n ontspanningsmodus te plaas; daar is meer as genoeg wringkrag om vinnige voertuie verby te steek sonder om ratte te wissel en die lang bene van die Qashqai met sy ses ratte maak die lewe nog mooier! Dit is juis die Qashqai se lang bene wat hom so suinig maak met ‘n gemiddelde verbruik van 6,3 liter/100 km – en dit sonder om te probeer om doelbewus ekonomies te ry. Van vulstasie tot vulstasie is meer as 900 km gery voordat hy weer dors geraak het!

Die bonkige voorkoms van die Nissan laat hom soos die kragtige Murano se kleiner boetie lyk. Ongelukkig het van die ander knape in sy klas uit die Ooste ook sy voorkoms en lyne begin naboots en is hy nie meer so vars en fris soos met sy bekendstelling nie. Maar is dit nie juis nabootsing wat die grootste kompliment is wat ‘n mens – of motor – kan kry nie?

Die hart en siel van die Qashqai is die uitmuntende 1,5 liter turbodieselenjin wat ‘n direkte gevolg is van die samewerking wat daar tussen Nissan en Renault bestaan. ‘n Klompie jare gelede was dit Renault wat tot Nissan se redding gekom het; nou is die rolle egter grootliks omgedraai. Maar in hierdie geval is die positiewe aspek vir die Qashqai die enjin wat sy oorsprong in Europa het.

Die turbo-eenheid van 1 461 cc ontwikkel 78 kW teen 4 000 rpm en stel meer-as-genoeg  249 Nm wringkrag vry teen 2 000 toere om hom sterk teen bulte te laat trek. Sit hom in sesde en hy hou sy spoed teen die tipiese bulte van die kuspad. Behalwe as daar verbygesteek moet word teen relatiewe lae snelhede teen regtig steil bulte. Maksimum snelheid is 177 km/h.

Van die merk af is hy egter nie die flinkste nie en sal 100 km/h eers na ongeveer 14 sekondes op die naald verskyn. Maar dink aan die ekonomie en hierdie versnelfaktor raak niksseggend. (Indien die koper spoed en ekonomie verkies sal hy sy sak moet skud vir die 2-liter turbodiesel waarvan die naald by 195 km/h gaan draai en 100 km/h in minder as 10 sekondes aflê).

Die Qashqai is dié soort voertuig wat ewe tuis is voor die teater, die sypaadjie voor die skool, die luukse vakansiehuis langs die seefront of die tentestaanplek in die karavaanpark. En Sondag voor die kerk.

Dit is egter op die Klein Karoo se grondpaaie waar hy regtig in sy element kom. Ry gerus ‘n slag die grondpad van Herbertsdale af na Vanwyksdorp en ander agterpaaie om die uitmuntende vering van die Nissan te ervaar. Die grondvryhoogte is uitstekend en selfs die hoogste middelmannetjies het nie ‘n kans om die onderkant te laat sleep nie. Boonop is hy padvas en voel die bestuurder heeltyd in beheer. Met hom neem jou selfvertroue toe soos die kilometers grondpad agter jou verdwyn. Miskien kan die selfvertroue ook oordrewe raak.

Op ‘n klein grondpaadjie tussen Botlierskop en Yellow Wood naby Mosselbaai was daar twee driffies wat redelik sterk geloop het en deurgery moes word. Wederhelf was skrikkerig maar ek was vol vertroue dat ons maklik sou deurkom; dit was nog voor ek onder die bak gekyk het om daar agter ook ‘n ekstra ewenaar en as is!

So gesê en so gedoen want ons het mos ‘n 4×4 en dieselenjins kan mos onder die water loop solank die enjin se luginlaat net hoog genoeg is! Dit was natuurlik eers heelwat later dat ek besef het dat ons hier met ‘n 4×2 te make gehad het! (In 2007 het ek verwys na ‘n Duitse tydskrif wat dit diplomaties gestel dat hierdie Nissan nie ‘n “klipvreter” is nie maar sy insittendes so na as moontlik aan die ski-terrein oor sneeubedekte paaie sal bring. Goeie beskrywing wat steeds geldig is.

Die vyfsitplek Qashqai is prakties, funksioneel en goed afgewerk met sitplekke wat kan platslaan om die optimum gebruik van sitplekke en bagasieruimte moontlik te maak.

Wat kos hierdie bonkige begeerlikheid wat ewe tuis is op grondpad as op teer? Die koper moet N$275 000 vir die man op die verkoopsvloer maar daarmee saam kry hy ‘n diensplan wat geldig is vir 3 jaar of 90 000 km. Dit maak van hierdie Nissan die ideale motor om van die pensioengeld te gebruik om ons ouer lesers die kans gee om hulle grootwordplekke te gaan opsoek met ‘n voertuig wat hou van grond en slegte paaie.

As die prys te hoog is, is daar die goedkoper 1,6 liter petrolmodel wat teen N$238 500 inweeg. Maar die 1,5 turbodiesel 4×2 is my persoonlike keuse.

Leave a Comment