Beiere se Moses?
Heel toevallig bel ‘n neef uit die Noordkaap om my mening te hoor oor ‘n motor wat vervang moet word twee aande vóór die bekendstelling van die nuwe Lexus op Franschhoek. My advies aan Neef Gert was dat hy, wat lang en ver paaie teen ongeoorloofde hoë snelhede aflê, maar na een van die Beierse renperde kan kyk wat ek oor die jare baie goed leer ken het. Dit was ‘n ligte foutjie!
Die roete waarop die Lexus sy staal aan die motorjoernaliste moes wys, was oor die lekker draaie van die Franschhoekpas en die lang en snaakse draaie naby Bonnievale en dan die pad terug Franschhoek toe oor die N2. Dit is so duskant Bonnievale dat ek besef het dat die slim manne van Beiere miskien ‘n les van die Japannese kan leer. Plaas hom vooraf reg in die hoek en hy kom presies reg aan die ander kant uit.
Sonder om die skuinstes en slaggate in die pad te voel. Niks geheen-en-geweer en snaakse stampe oor die pad wat oor die jare heen erg verinneweer het nie. Dit nou nadat ek al die jare lank geglo het dat dit net die manne in Beiere was wat sulke veerstelsels kon ontwerp!
Op die oog af skep die nuwe Lexus GS-reeks die indruk van ‘n haastige en sportiewe knaap; ‘n nuwe gees en soort ervaring vir dié wat reeds vertroud is met hierdie motors. Die nuwe voorkoms lyk inderdaad sportief en uitdagend en eintlik so half-en-half nie-Lexus; die tradisionele voorkoms het nou plek gemaak vir ‘n amper uitdagende voorkoms wat eintlik heeltemal in pas is met die gevorderde suspensie en aandrywingstelsels. Kyk maar na die neuskant wat pure renperd is en veral by die Amerikaners groot byval gaan kry! Die sierrooster is op die patroon van die klassieke spinspaan met groot luginlate skuins onder om groot volumes lug vir die lugmengsels gereed te kry. Indrukwekkend.
Die reeks bestaan uit vier modelle wat wissel vanaf die V6 2,5-liter GS 250 EX-model tot die GS 450h F-Sport wat deur ‘n 3,5 liter enjin aangedryf word en “gehelp” word deur ‘n elektriese battery-motor wat ‘n totale kraglewering van 252 kW beskikbaar maak. (Die 3,5 liter enjin ontwikkel 213 kW teen 6 000 rpm en stel 345 Nm beskikbaar).
Die elektriese aandrywing sorg ook vir ‘n ekstra 275 Nm wat die wringkrag aansienlik opstoot. Vir diegene wat miskien nie so mooi weet wat wringkrag is nie; dit is in eenvoudige terme die werklike trekkrag wat beskikbaar is teen relatief lae rewolusies. Tussen hierdie twee modelle pas die GS 350 netjies in met meer gevorderde 3,5 liter enjin wat 233 kW teen 6 400 rpm ontwikkel en 378 Nm teen 4 800 rpm beskikbaar stel.
Die gewone 2,5 en 3,5 petrolenjins is gekoppel aan sesgang outomatiese ratkaste met die “h” (vir hibriede) modelle wat palwisselstelsel ratkaste met spesiale F-Sport dinamiese meganiese opgraderings benut. Dit stel die verskillende modelle in staat om vanaf stilstand tot 100 km/h te versnel in 8,8 sekondes vir die 2,5 liter en 6,3 sekondes vir die 3,5 liter modelle.
Met die ekstra krag van die modelle met elektriese battery-aandrywing is die versneltyd 6,1 sekondes. Op hierdie ratkaste kan die ratwisseling ook vanaf die stuurwiel met beheerspane beheer word om die sportiewe eienskappe van die motor verder te verhoog.
Lexus het nie tydens die bekendstelling die maksimum snelhede van die verskillende modelle bekend gemaak nie maar wel die brandstofverbruik wat wissel van 8,0 liter per 100 km vir die gewone 2,5 liter, 9,4 vir die 3,5 model en dan vir die hibriede modelle met ‘n verbruik so laag as 6,2 liter/100 km. Nie sleg vir ‘n warm model soos die 450 GSh nie. (Maar dit laat my dink aan die ou, apokriewe storietjie van die voornemende koper wat die Rolls Royce verkoopsagent gevra het hoeveel perdekrag die Britse aristokraat het, en dié se antwoord: Genoeg!).
Die algehele visuele indruk van die nuwe Lexus is indrukwekkend; die sportiewe voorkant word langs die kant gekomplimenteer met 18” wiele en op die 350h met 19” skoeisel wat die boodskap van ernstig-haastig aan die bewonderaar oordra.
Binne is al die luukses daar wat van die beste modelle uit Beiere verwag word; plus miskien hier en daar iets ekstra. Alle modele beskik oor outo hoofligte met wassers en selfverstellingsaskie vir hoogte, dagry- en misligte, reënsensors en veërs, sitplekverhitting- en ventilasiestelsel vir die bestuurder en passasier met 10-posisie elektriese verstellings en 2-posisie lendesteun-verstellings. Verder spog hy miskien met die grootste elektroniese inligtingskerm op die mark wat ook ‘n nuttige trukamera insluit.
Vir die musiek en vermaaklikheids-liefhebbers is die Lexus Premium-klankstelsel met sy 12 luidsprekers met MP3/USB/iPod-integrasie natuurlik’n aangename bonus uit die hoogste rakke; so ook die bloutandkoppeling met stembeheer. ‘n Klein kunswerk is die aluminium analooghorlosie met sy klassieke uitleg; iets wat ons ouer lesers sal waardeer in ‘n wêreld wat toenemend digitaal raak. (Dit is nie maklik om te sien dat die wysters nie regtig is nie maar LED!).
Die topmodel 450 GSh en F-Sport-modelle het nog méér aantreklike eienskappe wat vir alle soorte motoriste van belang is: Die Drive Mode Select-beheerstelsel, geplaas langs die rathefboom, stel die bestuurder in staat om tussen drie (en op die F-Sport, vier) verskillende verskillende bestuursmodusse te kies.
Daar is ECO-, NORMAL- en SPORT-modusse beskikbaar, terwyl die SPORT S+ slegs op die GS 450h F-Sport aangetref word; so ook die aanpasbare veringstelsel (Adaptive Variable Suspension, of AVS) wat die verrigtingseienskappe van die enjin, ratkas en veerstelsel verander. Dit is hierdie eienskappe wat die Lexus GS in die hoogste klas laat meeding met die Europeërs.
Wie gaan hom koop? Sekerlik die man met die beursie wat nie maar net nóg een van die suksesvolle maar amper vervelige massamense is nie; die individualis wat weet dat sy persoonlikheid nie aan Europese modeverskynsels gekoppel is nie en bereid is om vir uitmuntende tegnologie te betaal.
In ruil kry hy uitmuntende tegnologie wat met die heel bestes meeding. Ook het die koper die gemoedsrus van ‘n vier jaar/100 000 km-waarborg en onderhoudsplanne; Distance Plan Plus en die F-Sport and SE-modelle met die Distance Plan Complete.
En wat kos hierdie vreugde? Die “intreemodel” GS 250 EX gaan hom N$494 400 kos, die GS 350 EX N$564 900, die GS 450h F-Sport sowat N$753 700 en die vlagskip van die reeks, die GS 450h SE, N$771 700.
uitstekend !!