Vars uit die Oond
Nissan het vroeër vanjaar die derde generasie X-Trail in Suid-Afrika aan die media bekend gestel. Dit volg op die sukses van die Qashqai en hy lyk baie meer na hierdie kleiner boetie as die hoekige vorm van die vorige X-Trail. Van voor is die indentiteit van die handelsmerk baie duidelik sigbaar.
Die platvorm waarop die nuwe X-Trail gebou is, is dieselfde as die van die Qashqai en dit het Nissan gehelp om hom langer en breër as sy voorganger te maak en sodoende is die as-afstand met 75mm verleng. Dit klink nie na baie nie, maar gee aan veral die agterste passasiers meer ruimte en verbeter sy rit. Verder behou die nuwe model die grondvryhoogte van die oue, 209mm, wat reg laat geskied aan ‘n SNV wat soms grondpaaie moet aandruf. Al is die nuwe X-Trail effe groter as die oue, is hy 90kg ligter danksy die gebruik van hoë sterkte staal en ander ligte materiale.
Daar is drie enjins, twee binne-uitlegte (vyf- of sewe sitplekke), twee ratkaste en twee dryfstelsels van van te kies. Dit beteken dat daar nou altesame agt weergawes van die nuwe X-Trail is waaruit die koper ‘n keuse kan maak.
Die intreevlak, die XE, is redelik goed toegerus met spoedbeheer, Bluetooth, kontroles op die stuurwiel en gonsers wat aandui hoe ver jy van die sypaadjie of ‘n ander voertuig is. Die SE het 18” wiele, leersitplekke, afdraandbeheer, outomatiese aanskakel van ligte en ruitveërs en die keuse van vierwielaandrywing terwyl die heel luukse model ook nog ‘n bagasieruim het wat outomaties oop- en toemaak. LED-hoofligte, sleutellose toegang elektries verstelbare sitplekke, en ander toerusting voltooi die lys van standard luukses. Verder is daar ook die opsionele Techno-pakket wat satelietnavigasie, blindekol- en baanverlaatgonsers, 360 grade kameras en volgafstandbeheer insluit.
Die binneafwerking is baie goed met hoë kwaliteit material wat orals gebruik word. Die sitplekke is gerieflik met goeie ondersteuning. Daar is baie spasie vir die insittendes en bagasie. Die agterdeure maak 80 grade oop om toegang vir die agterste passasiers maklik te maak. Die agtersitplekke in die sewesitplek weergawe vou heeltemal plat en laat dan 1310 liter laairuimte. Die vyfsitplek weergawe het tussen 550 liter en (met sitplekke afgeslaan) 1405 liter beskikbaar vir bagasie.
Die drie enjins is ‘n 2 liter en die 2,5 liter petrol wat oorgedra word van die vorige model, en dan ‘n nuwe 1,6 liter diesel wat dieselfde wringkrag as die ou 2 liter diesel ontwikkel. Die 2 liter petrol se kraglewering is 106kW en 200Nm, die 2.5 liter petrol 126kW en 233Nm en die 1,6 liter diesel, 96kW en 320Nm. Saam met die keuse van ‘n ses-spoed handrat ratkas en ‘n CVT – palwisseltransmissie wat saam met die 2,5 liter petrol te kry is, is die rit stil en glad en en al die enjins se verrigting is meer as voldoende. Die nuwe 1,6 liter werk baie goed in die X-Trail met sy goeie wringkrag en spaarsame brandstofverbruik en het relatief min aanvanklike turbo traagheid. Volgens Nissan se eie toets-syfers kan ‘n gemiddelde van 8,3 l/100km vir die 2 liter en die 2,5 liter petrolenjins verwag terwyl die 1,6 liter diesel ‘n lekker lae 5,1 – 5,3 l/100km kan haal.
Op die pad is die rit met die nuwe X-Trail, met sy langer asafstand, gerieflik en gemaklik en voel veilig met min bakrol veral, as die hoë grondvryhoogte in ag geneem word. Op alle padoppervlaktes is padgeraas min en geraas vanaf die enijins feitlik onhoorbaar. Die handratte sit baie gemaklik oor terwyl die CVT-ratkas beter voel as dit wat ek al voorheen gestuur het.
Die 4×4 modelle het ‘n knop in die middel wat gedraai kan word om te kies tussen twee-wiel- en vierwielaandrywing. Ons het die kans gekry om dit op ‘n 4×4 toetsbaan te bestuur, en die X-Trail het alle hindernisse (met die hulp van 4×4 kenners!) baie gemaklik baasgeraak. Die HDC (afdraadbeheer), wat die remme self toepas teen steil afdraande kon ook met welslae getoets word.
Die volledige reeks is:
2.0 XE
2.0XE (7 sitplekke)
2.5 SE Xtronic 4WD
2.5 SE Xtronic 4WD (7 sitplekke)
1.6dCi XE 6MT
1.6dCi XE 6MT (7 sitplekke)
1.6dCi XE 6MT 4WD
1.6dCi XE 6MT 4WD
Soos dit met meeste nuwe motors deesdae die geval is, is die nuwe X-Trail toegerus met al die nuutste veiligheids toerusting en kry ‘n Euro NCAP toekenning van 5-sterre. Standaard toerusting op die X-Trail is ses lugsakke, driepunt sitplekgordels vir alle insittendes. ABS met EBD and BAS, Voertuig Dinamniese Beheer (VDC)
Die pryse wissel van N$327 700 vir die 2 liter petrol XE tot N$473 600 vir die duurste model, die 1,6 dCI LE AWD.
Voornemende kopers kan die nuwe X-Trail opweeg teen die Renault Koleos, Honda CRV, Subaru Forester en die Toyota RAV4.