Waarde vir geld uit China
Sedert Chery se eerste modelle in 2008op die plaaslike mark vrygestel is, het hierdie staatsbeheerde motorvervaardiger van China nog nie rasende sukses hier ter plaatse gevind nie. Een van die die redes was die gebrek aan nuwe modelle wat kan kers vashou by die bougehalte en afwerking vanuit Europa, Japan en Korea.
Verder is die bekendstelling van die J2 eers teruggehou totdat ‘n splinternuwe fabriek met nuwe en hoër standaarde voltooi is, en die nuwe J2 is nou hier beskikbaar. Suid-Afrika is dan ook die eerste land waar die regterhandstuur J2 bemark word. Intussen is die ander Chery modelle op die Suid-Afrikaanse mark ook verbeter ten opsigte van bougehalte en afwerking.
Daar is net die een model, die Chery J2 1.5TX, hier beskikbaar; ‘n vyfdeur luikrug model met ‘n viersilinder petrolenijn en vyfspoed-hand ratkas. Die enjin is ‘n gewone 1500cc enjin wat 72kw teen 6000 rpm ontwikkel en 140Nm teen 4500rpm vrysel.
Die ontwerp is meer modern as enige van die vorige Chery modelle en bied nogal heelwat luukses as standaardtoerusting. So byvoorbeeld is die bandgrootte 185/60/R15 en geskoei op magnesiumallooivellings en kom hy met ‘n volgrootte spaarwiel.
Vir gerief is daar kragstuur, elektriese vensters aan al vier deure en ook lugreëling. Elektriese kantspieëls en sentrale sluiting met afstandsbeheer is ook standaard. Verder is die J2 met ‘n radio en CD- en MP3 speler toegerus en alles word beheer vanaf ‘n groterige paneel in die middel langs die instrumentepaneel. Al die ander kontroles, soos die lugreëling, waaier, ens is duidelik en maklik om te gebruik. Vir die klanktoerusting is daar 6 luidsprekers.
Binne is die J2 netjies en sonder verrassings en die kwaliteit van die afwerking lyk op die oog af heel goed – niks swakker as sommige van die sy teenstanders nie. Die bekleedsel van die sitplekke is netjies en duursaam. Die motor se totale lengte is meer as die ander fabrikate op die mark met die gevolg dat die binneruimte goed is. Bestuurder en passasiers voel glad nie beknop nie. Die kattebak van 270 is ruim en van die grootste in sy klas. Die agterse sitplekke kan platgeslaan word vir meer pak-ruimte.
Vir veiligheid is die J2 toegerus met ABS remme en EBD (elektroniese remkragverspreiding) as standard en het twee lugsakke voor. Die J2 het oojk ‘n vierster gradering gekry in die Chinese variasie van die N-Cap-stelsel wat soortgelyk is aan die Euro N-Cap-botsingtoetse.
Op die toetsrit op swakkerige teer paaie in die omgewing van Midrand in Gauteng was die J2 dalk nie so gemaklik soos bv. die Vivo nie, maar met sy groterige wiele het die J2 baie veilig en stabiel gevoel teen hoër snelhede. Op die hoëveld het die 1500 enjin soms bietjie uitasem gevoel en daar moes dikwels terug gerat word in die verkeer, maar die wisseling was glad en kon vinnig gedoen word. Die J2 behoort gemaklik op lang afstande te wees.
Chery gee die topsnelheid aan as 171km/h en hy versnel van 0 tot 100km/h in 15,1 sekondes en die eienaar kan ‘n brandstofverbruik van gemiddeld 7,4 l/100 km verwag.
Chery waarborg sy motor vir 5 jaar of 120 000km en sluit ‘n diensplan vir 2 jaar of 30 000 km in by die verkoopprys. Diensintervalle is elke 15000km met ‘n eerste oorsig-diens op 5000 km.
Volgens Chery Suid-Afrika is die J2 se mededingers volgens grootte en toerusting eerder groter en duurder motors, maar as’n mens die pryse vergelyk is die Volkswagen Polo Vivo (N$147 300), Toyota Etios (N$126 800) en Ford Figo (N$136 700) sy grootste teenstanders. Teen hierdie modelle weeg die J2 nogal goed op wanneer mens die grootte, toerusting en gerief vergelyk. Teen N$129 900 is die J2 dus goedkoper as die Polo Vivo en die Ford Figo en effe duurder as die Etios. Die Etios het egter minder krag en ruimte as die J2 asook ‘n korter waarborg tydperk (3 jaar of 100 000km) en het ook nie allooi wiele of elektriese kantspieëls nie.
Die Chery J2 bied werklik waarde vir geld as sy grootte, spesifiksies en toerusting in ag geneem word. Indien daar ‘n handelaar in die omgewing is, kan die J2 sonder twyfel oorweeg word. (Daar is 36 Chery handelaars landwyd)