Die taai stryd wat kom…
U onthou nog die wysie en die woorde van die advertensie: “Alles loop reg, altyd reg, Toyota? Hierdie liedjie het die hele reeks voertuie uit die Toyota-stal ingesluit maar dit was veral die Hilux bakkies wat sedert 1969 by ons op die mark verskyn het wat werklik betekenis aan die advertensieliedjie gegee het. Hilux bakkies was vir dekades lank die onbetwiste kampioen in sy klas, tot onlangs…
Die rede vir die bedreiging was van die kant van ‘n Amerikaanse ikoon wat lank, lank gelede ook koning gekraai het en onlangs met byderwetse bakwerk en meganika vinnig opgang in die bakkiemark gemaak het.
Die bordjies is nou vervang met die nuwe Hilux wat met sy moderne voorkoms en moderne tegnologie, wat splinternuwe enjins insluit.
Die uiterlike tel by kopers en die nuwe vuurwa se voorkoms word deur die maatskappy as volg gestel: “Die mees treffende eienskap van die nuwe Hilux is waarskynlik sy gevorderde buite-ontwerp. Die ontwerpspan het daarop gefokus om ’n voertuig te skep wat ’n taai houding sou uitstraal, en terselfdertyd spreek van ’n sin vir vernuwing en verfyning ten einde ’n meer emosionele verbinding tussen bestuurder en bakkie te ontketen” en verder “Aan die voorkant strek die uitstaande sierrooster met sterk horisontale stawe tot by die omvou-kopligte, wat ’n fris, verenigde voorkoms bied. Die wielnisse met hul ingeboude spierbulte laat die voertuig nog frisser lyk”. Tot sover Toyota se persafdeling.
Ook aan die binnekant is die paneelbord en uitleg verbeter (met ‘n inligtingskerm van 4.2”) om met die van ‘n gesofistikeerde buitelugvoertuig te kompeteer. Alles mooi en goed. Maar wat ons die meeste beïndruk het is die dinge wat nie van buite gesien kan word nie; die enjins is splinternuut en die ratkas en koppelaarfunksie is vars uit die oond. En dan is daar ook veranderinge aan die vering aangebring.
Weg is die beproefde en geliefde 2.5 en 3-liters wat vervang word deur die nuwe 2,4 en 2,8-liter turbodiesels met dubbele bonokasse, 16 kleppe en vier silinders en veranderlike turboaanjaers met ’n nuwe voorgemonteerde tussenkoeler. Die verdigting van die enjinkompressie is ook beduidend minder wat die meganiese stresfaktore op die lange duur laat daal en ook minder geraas veroorsaak.
Die nuwe 2 393cc-enjin ontwikkel 110 kW teen ‘n rustige 3 400 rpm en stel 343 Nm beskikbaar teen tussen 1 600 en 2 000 rpm. By die 2 755cc GD-enjin word 130 kW teen 3 400 rpm ontwikkel en stel 420Nm wringkrag tussen 1600 tot 2400 vry. Vir modelle met die outomatiese weergawe word die wringkrag tot 450Nm teen dieselfde toeretal beskikbaar.
Die sterker, kleiner dieselenjins het twee voordele; laer toksiese uitlaatgasse en beter brandstofverbruik. Volgens Toyota is die brandstofverbruik van beide enjins 9% laer as hulle voorgangers en is die 2.4 GD die leier in brandstofdoeltreffendheid in sy klas; ‘n suinige 7.3 l/100km.
Toyota laat ook ‘n keuse tussen drie petrolenjins; ’n “intree” tweeliter-viersilinder met VVT-I tegnologie wat 100 kW ontwikkel en 182 Nm vrystel en die nuwe weergawe van die bekende 2,7-liter-VVTi wat 122 kW ontwikkel en 245 Nm beskikbaar stel – met ’n 10% beter brandstofverbruik. Die derde variant is natuurlik die bekende vierliter-V6 wat 175 kW ontwikkel en oor 376 Nm wringkrag beskik. Laasgenoemde is natuurlik die gunsteling van die Namib-duinryers.
Nuut is ook die sesgangratkaste vir outomatiese en handratweergawes met ‘n vyfgang vir die intreemodelle. Sommige modelle maak gebruik van ‘n nuutjie wat “intelligente” handratskakeling (iMT) gebruik. Hierdie stelsel laat die enjinspoed by die ratkas aanpas wanneer ratte gewissel word; dit is nie meer nodig om soos in vervloë tye te “double clutch” nie!
Ander toerusting wat op sommige van die modelle beskikbaar is, is wegtrekhulp teen opdraendes en ‘n uiters doeltreffende beheerstelsel wanneer ernstige afdraendbeheer nodig is – weereens ‘n voordeel vir die ernstige Namibiese duinryers! Die veldryvermoë is deeglik op die spesiale 4×4 toetsbaan beproef en die suspensie-artikulasie is uitstekend. Verder word beheer oor die 4×4 modus vereenvoudig deur slegs ‘n draaiknop te draai wat die 4-2, 4×4 en laestrek-inskakeling laat inskop. Alles nou eenvoudiger.
Boonop gebruik die 4×4-modelle ook die elektroniese remverspreiding deur middel van die ABS-stelsel om wielglipbewegings onder beheer te hou onder die moeilikste omstandighede.
Die vering is ook verbeter met nuwe hegpunte vir die agtervering wat ‘n meer gemaklike rit verseker as die bakkie nie vrag dra nie. Pluspunt.
Die nuwe Hilux is in drie weergawes beskikbaar; die werksbakkie, XtraCab een-en-‘n halfbakkie en die dubbelkajuit om vir elke moontlike vereistes van kopers voorsiening te maak. Die Xtra-weergawe het deure wat na agter oopmaak om beter toegang tot die bergruimte agter die sitplekke te gee.
Die hele reeks is in verskillende weergawes beskikbaar ten opsigte van toerusting en dus ook prys – ingedeel in die werkesel-modelle, SRX-weergawes en dan natuurlik die boonste klas, die Raider-modelle.
Net ‘n paar woorde oor die algemene toerusting.
By die intreemodelle is ABS-remme standaardtoerusting en het ten minste die bestuurder ‘n lugsak en is boonop toegerus met afstandbeheerde sluiting en ontsluiting.
By die meer luukse SRX-modelle kom daar ‘n goeie klankstelsel met ekstra poorte by en het die bestuurder ook ‘n knie-lugsak om hom tydens ‘n botsing te beskerm. Die Raiders beskik oor al die dinge wat die lewe agter die stuurwiel makliker maak soos ‘n tru-kamera, die opdraend en afdraend beheerstelsels, klimaatbeheer en ‘n volkeur-TFT-inligting-vertoonskerm.
Maar wat kos hierdie begeerlikhede?
Maak jou reg om enigiets tussen N$228 900 vir die mees basiese model tot N$593 900 vir die vlagskip te betaal. In ruil kry jy ‘n voertuig waarin alles altyd regloop, deur ’n diensplan vir vyf jaar of 90 000 kilometer gedek word en wat elke 10 000 kilometer by die handelaar gediens moet word.
Geluk met die nuweling, Toyota!